DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (7)

image_pdfimage_print

DIE VERHAAL VAN JESUS DEUR DIE OË VAN MARKUS (7) – Jan van der Watt

Episode 5: Markus7:1-8:21

Wat is oud en wat is nuut? Ja, Jesus se boodskap is nou uit. Mense het dit gehoor… die koninkryk is aan die kom. Maar hoe verander dit die alledaagse lewe?

 

Alledaagse lewe vir Jode?… ons moet onthou dat die Jode hulleself as verbondsmense gesien het. As jy dus as Jood “binne die verbond” gebore word, hoef jy nie gered te word nie, want jy is mos klaar binne. Jou belangrikste doel was nou om binne te bly! En as Jood is daar mooi vir jou vertel hoe om binne te bly: jy moet die wette nakom, nie net die Tien Gebooie (verbondswet) nie, maar ook al die reinheidswette. Deur al die wette te hou, het hulle geredeneer, het jy jou verhouding met God suiwer gehou. Jesus het egter ‘n probleem hiermee: die mense is so gepla met die wette, dat hulle van God vergeet. Hulle verloor hulle verhouding met God in hulle pogings om die wette te hou. Op die ou einde klop jy jouself op die skouer in plaas daarvan om van God afhanklik te wees en dit deur jou toewyding vir Hom te wys.  

 

Kom ons kyk wat sê die teks (lees die teks van Markus saam met die volgende opsomming):

  • Wat van die Joodse gebruike?
    • Hulle is in reëls en wette vasgevang (7:1-13 lees vers 9)
    • Reinheidswette en werklike reinheid (7:14-23)
      • Onrein Jode word rein (7:24-30)
  • Jesus tree kragtig op
    • Die hoogtepunt van sy sukses: Hy genees ‘n doof-stomme (7:31-37)
    • Hy voed sy mense en stuur hulle huistoe (8:1-10 oorgangstuk) 
  • Die Joodse leiers kragteloos en vals in die teenwoordigheid van Jesus (8:11-21)
    • Die Joodse leiers wil ‘n spesiale hemelse teken hê – want hulle kyk die groot Teken mis (8:11-13)
    • Die motiewe van die Joodse leiers is verkeerd en kan mense negatief beïnvloed. Die dissipels moet altyd onthou dat Jesus die een is wat in oorvloed gee (8:14-21)

 

Kyk veral na die volgende: hoe verander Jesus die opvatting van hoe ‘n mens rein word of is? Stel jouself voor jy is ‘n Jood wat voel jy moet al die reinheidswette hou (gereeld ritueel was, net sekere kos eet, sekere tye moet jy jou heilig hou, jy mag aan sekere goed nie vat nie, ens.) en nou kom Jesus en Hy sê wat hy in Markus 7 sê. Hoe dink jy gaan dit jou houding teenoor godsdiens verander?…………………………………………………………………………………………………………………………….

…………………………………………………………………………………………………………………………………………..

 

Die dele (7:31-37;  8:1-10 en 8:11-21) is in die opbou van Markus belangrik:

  • Die verhaal van die doof-stomme (7:31-37) is die toppunt van die suksesverhale van Jesus. Kyk net: Hy maak twee siektes (doofheid en ‘n spraakgebrek) gesond. “Alles wat Hy doen is goed” (7:37). Hier sien ons die Seun van God in krag! Die Koning van die koninkryk is hier.
  • Dan voed Hy mense en stuur hulle huis toe, as teken van sy versorging. Wie Hom volg sal voor gesorg word (8:1-10).
  • Die Joodse leiers is op die verkeerde pad – hulle soek verkeerde tekens en beïnvloed mense verkeerd (hulle werk soos suurdeeg). Pasop vir hulle (8:11-21).

 

Jesus is God se krag in die wêreld wat mense rein maak en versorg. Wette kan dit nie doen nie.

 

 

 


Jesus is God se krag in die wêreld wat mense rein maak en versorg. Wette kan dit nie doen nie.

 

Ons het nou tot by Markus 8:21 gevorder – tot by die skanier. Volgende keer gaan ons verder.

 

Skrywer: Prof Jan van der Watt

 

image_pdfimage_print

You may also like...