Die verhaal van Josef (1)

image_pdfimage_print

No man will make a great leader who wants to do it all himself, or to get all the credit for doing it. —Andrew Carnegie

Die verhaal van Josef (1)

Vertroue in God skakel nie hartseer uit nie; die een weerspreek nie die ander nie. Om God te vertrou is dikwels nie maklik nie. Lees net Josef se storie. Josef was die tweede jongste van Jakob se seuns. Hy was Jakob se gunsteling: Van al die seuns was Israel die liefste vir Josef. Hy maak vir hom spesiale klere. Dit maak hom ongewild by sy broers. Om dinge te vererger vertel hy twee drome wat hy gehad het. In hierdie drome buig sy broers voor hom neer en dien hom. Josef was arrogant en het ‘n onrealistiese siening van homself gehad.

 

Daarna gebeur daar baie met Josef. Hy word aan Ismaelitiese handelaars as slaaf verkoop, en beland so in Potifar se huis. Daar ontstaan nuwe probleme: Potifar se vrou probeer om vir Josef te verlei. Sy vertel vir haar man dat Josef by haar probeer aanlê het. So beland Josef in die tronk. Saam met hom in die tronk is die koning se skinker en bakker. In die tronk lê hy die skinker se droom uit. Later, toe die farao ‘n droom gehad het, kon geen van sy waarsêers dit uitlê nie. Die skinker vertel vir die farao van Josef wat sy droom uitgelê het. Die farao laat vir Josef kom en hy lê die droom uit – sewe maer jare van hongersnood lê voor. Josef lê nie net die droom uit nie, maar lê ‘n plan aan die koning voor oor die hantering van daardie moeilike jare. Kyk, ek stel jou aan oor die hele Egipte (Genesis 41:41).

Josef se plan is suksesvol. Almal in Egipte oorleef en mense uit die hele streek kom na Egipte om kos te kry. Josef se broers kom ook na Egipte om brood te koop. Josef herken hulle, maar hulle herken hom glad nie. Josef besluit on sy identiteit vir hulle weg te steek. Daar is verskeie ontmoetings tussen Josef en sy broers. Hy versteek tydens een van hierdie besoeke sy silwerbeker in Benjamin se graansak. Nadat sy broers weg is, stuur hy sy hoofamptenaar om hulle terug te bring. Hulle kry die beker in Benjamin se graansak. Die gevolg is dat Josef besluit Benjamin moet agterbly as sy slaaf. Juda kom toe nader en sê dat dit Jakob se dood sou veroorsaak en bied aan om in Benjamin se plek te bly. Daar was ‘n geleentheid vir die broers om vir Benjamin te verraai, maar hulle doen dit nie. Josef bars in trane uit en sê vir hulle wie hy werklik is. Die hele familie, insluitend Jakob, word weer herenig. Hulle woon saam in vrede en voorspoed.

Kyk terug oor die hele verhaal en vra dan: Was God werklik al daardie jare in Josef se swaarkry afwesig? Dit lyk so. Nee, Hy was daar; Hy was aan die werk; Hy was in beheer al was Hy verborge. Daar is soveel “toevallighede” in hierdie verhaal – as dit nie gebeur het nie, sou … Wat sou gebeur het as Josef nie in Egipte gekom het nie? Sou groot getalle mense – waarskynlik ook sy eie familie – nie van honger omgekom het nie?

God is soewerein en in beheer, maar die mens het ‘n vrye wil en is verantwoordelik vir sy eie keuses. Alles wat met Josef gebeur het, was duidelik deel van God se plan. Op elke punt was Hy teenwoordig en het Hy aan die kleinste besonderhede gewerk. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit (Efesiërs 1:11).

Wat die broers gedoen het, was verkeerd. Niemand het hulle gedwing om dit te doen nie. Jare moes hulle met hulle skuldgevoelens saamgeleef het. Hulle gaan deur ‘n pynlike proses waarin hulle hulle bose lewe moes herleef en verwerp voordat hulle vryheid en vergifnis gekry het. Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ‘n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God (Hebreërs 12:11).

Skape wat gedip moet word, is bang. Ons het ‘n goeie Herder wat aan sy skape toegewy is. Ons sal ook deur dinge gaan wat ons bangmaak en wat ons op daardie stadium nie verstaan nie. Maar God is nie verborge nie.

Volgende keer kyk ons verder na Josef se verhaal.

image_pdfimage_print

You may also like...