Die Handelinge van die Apostels: Vervolging van die leiers in Jerusalem (Handelinge 12:1-5) – Francois Malan

image_pdfimage_print

12:1 ‘In daardie tyd’ is ’n algemene uitdrukking wat nog ’n episode van die verdrukking van die kerk beskryf. Dit was moontlik gedurende die jaar wat Barnabas en Saulus in Antiogië gewerk het.

Koning Herodes Agrippa I is die kleinseun van Herodes die Grote wat die kindertjies in Bethlehem laat vermoor het. Herodes die Grote het tien vroue gehad. Die tweede van die tien vroue van Herodes die Grote was die Jodin Mariamne I. Sy het twee seuns by Herodes die Grote gehad, Alexander en Aristobulus. Aristobulus en Bernice het drie seuns gehad: Herodes II, Agrippa (gebore 10 v.C.) en Herodias. Deur die guns van keiser Caligula word Agrippa in 37 n.C. koning oor sy oom Filippus se gebied en later ook oor Herodes Antipas se Galilea en Perea. Vir die dienste wat hy aan die nuwe keiser Claudius bewys het, word hy van 41 n.C. ook koning oor Judea en Samaria. Toe was hy koning oor die hele Joodse land tot 44 n.C.  Die bevolking het hom koning Herodes genoem, hoewel dit nie sy naam was nie, maar slegs Agrippa. Om hom te onderskei van sy derde kind, ook Agrippa genoem, word hy Agrippa I genoem en sy seun Agrippa II, voor wie Paulus in Hand 25:13 optree.

Na die voorspoed met die uitbreiding van die kerk in Antiogië vertel Lukas van die vervolging wat intussen teen Jerusalem se gemeente begin het. Die vorige vervolging was onder die leiding van die Joodse Raad waar die Sadduseërs die bewind gevoer het op aandrang van die Hellenistiese Jode (Hand 6:9-12). Maar Agrippa het hom by die Fariseërs geskaar en die volk het hierdie half-Jood half-Edomiet begin aanvaar.

Om die Jode te behaag het hy die Christen-Jode begin vervolg: ‘Koning Herodes (Agrippa) het die hand geslaan (deur sy soldate het hy begin met ’n veldtog) aan sommige uit die gemeente (in Jerusalem) om hulle leed aan te doen.’  Wat hy aan sommiges gedoen het, word nie gesê nie, maar enkele voorbeelde word genoem, wat wys dat hy die leiers geteiken het.

12:2 Jakobus is die broer van Johannes, seuns van Sebedeus en Salome (Matt 4:21; 20:20; 27:57; Mark 15:40; 16:1),  apostels van Jesus, een van die drie wat Jesus se verheerliking op die berg gesien het (Luk 9:28) en in Getsemane Hom moes bystaan (Mark 14:33). Hy word op die Romeinse manier doodgemaak deur onthoofding met ’n swaard. Onterend vir die Jode word die kop van die liggaam geskei (vgl. Dawid vir Goliat, 1 Sam 17:51; Saul se kop, 1 Sam 31:9; Dagon se kop, 1 Sam 5:4). Met Jakobus se dood word Jesus se voorspelling aan die twee broers vervul (Mark 10:39): ‘Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word.’

12:3 Vir Agrippa is die Jode se ingenomenheid met die moord van Jakobus die bewys dat hy hulle guns begin wen. Daarom gaan hy verder met die vervolging van die Christene en laat hy vir Petrus ook arresteer. Dit geskied toe tydens die Paasfees van die Jode waarmee die sewe dae Fees van die Ongesuurde Brood begin, wat hulle aan hulle woestynreis herinner. Dit is juis die tyd waarop groot skares Jode in Jerusalem bymekaarkom en elke gesin ’n lam slag ter herinnering aan hulle verlossing uit Egipte die nag toe die eersgeborenes van die Egiptenare gesterf het (Eks 12). Met dié tydsberekening wil Agrippa ’n groot slag slaan vir sy reputasie onder die Jode. Vir die Christene was dit ’n tyd van herinnering aan Jesus se sterwe as die Lam van God, wat vir die sonde van die hele wêreld sterf, en van sy opstanding en oorwinning oor die dood op Paassondag.

12:4 Om te verseker dat Petrus nie uit die tronk ontsnap nie word hy bewaak deur vier afdelings, elk met vier soldate, wat elke drie uur om die beurt vervang word met vier vars soldate. Petrus word vasgeketting aan ’n soldaat aan elke hand, en twee staan wag buite die deur. Herodes se bedoeling met die aanhouding van Petrus was om hom ná die Pasga verby is te verhoor, terwyl die volk nog in Jerusalem bly vir die weeklange Fees van die Ongesuurde Brood, sodat hulle almal kan sien dat hy die leier onder die Christene tot die dood veroordeel. Hy wou Petrus nie op die dag van die Pasga verhoor en die Jode met ’n hofsaak op die Paasfees aanstoot gee of hulle aandag van dié fees aflei nie.

12:5 So is Petrus tydens die Pasga en moontlik nog ’n paar dae in die tronk aangehou (etêreito imperfektum wat voortduur aandui). Die gemeente was egter in gebed voor God vir Petrus. Die woord wat hulle gebed kwalifiseer ektenōs kan beteken konstant, voortdurend of ernstig. Hulle was skynbaar voortdurend ernstig in gebed tot God vir Petrus se lewe terwyl hy in die tronk is.   

Lukas beskryf twee indrukwekkende tonele wat teenoor mekaar staan. In die magtige gebou van die burg Antonio wat Herodes die Grote langs die tempelkompleks in Jerusalem gebou het, word die Romeinse soldate gehuisves. Daar word Petrus in die tronk aangehou deur 16 soldate wat mekaar telkens vier-vier aflos om aan Petrus vasgeketting te wees en voor sy sel wag te hou vir sy verhoor en dood deur koning Agrippa. Daarteenoor kniel ’n groep gemeentelede van Jesus Christus in konstante ernstige gebed voor die God van hemel en aarde. Hulle is in die bovertrek van ’n huis in Jerusalem. Hulle vra van die Koning van die konings vir die menslik onmoontlike, naamlik vir Petrus se lewe en sy bevryding uit koning Herodes se planne.

Skrywer:  Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...