Die wedergeboorte

image_pdfimage_print

Die wedergeboorte – Francois Malan

Edith Roodt vra:

Ek sal graag meer wil weet oor die wedergeboorte. Is daar n sekere proses waardeur jy moet gaan alvorens jy kwalifiseer (gebruik net n voorbeeld)? Ek het al so baie gelees, soos dit kom net van God af wanneer Hy dink jy is reg? Dit is so n belangrike onderwerp en tog voel dit asof daar nie baie gepreek word oor die wedergeboorte nie – waarsonder niemand in die Hemel kan kom nie.

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Wedergeboorte verwys na die werk van God in ons. God die Heilige Gees kom in ons woon (Romeine 8:9,11). Hy maak van ons kinders van God (Rom 8:15), deur ons aan God se Seun, Jesus Christus, en sy offer vir ons sonde te verbind (Rom.8:10-11), sodat ons erfgename van God word, erfgename saam met Christus van die nuwe lewe, waarin ons deel het aan sy lyding en aan sy heerlikheid (Rom.8;11,17).

Joh.1:13 sê letterlik: kinders van God is uit en deur God gebore (NAV: God is hulle Vader). Dit lei daartoe dat mense in Christus glo en dat mense Christus aanneem as God wat vir hulle sonde gesterf het aan die kruis (Joh.1:12,29). Geloof is ‘n gawe wat God die Heilige Gees in ons werk. Ef.2:8 sê: want uit (God se) genade is julle gered deur geloof, en dit (redding en geloof) kom nie uit julleself nie, dit is ‘n gawe van God.

In Joh 3:3 sê Jesus vir Nikodemus: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Die bywoord ‘opnuut’ of ‘weer’ beteken ook ‘van bo af’.  Nikodemus verstaan dit as ‘weer’gebore wat vir hom onmoontlik klink vir ‘n volwassene (3:4). Jesus verduidelik dit egter as gebore word uit die Gees (3:5-8), as ‘n nuwe skepping wat van Bo kom. 2 Kor.5:17 sê: ‘as iemand in Christus is, is hy/sy ‘n nuwe skepping; 5:18: ‘en dit is alles uit God wat ons, deur Christus, met Homself versoen het…’ Die wedergeboorte is die inplanting van die totale mens in Christus. Die woord wedergeboorte is ‘n metafoor wat die werking van God verduidelik na aanleiding van die geboorte van ‘n mens, maar wedergeboorte word deur God gewerk en nie deur ‘n mens nie  (Joh.1:13; 3:6).

Daar is nie ‘n sekere proses waardeur jy moet gaan alvorens jy kwalifiseer nie! Dit is God se eie en vrye besluit om iemand uit sy genade en liefde aan te neem as sy kind. Nadat die Here Israel in ballingskap laat gaan het omdat hulle ander gode gedien het, het Hy hulle teruggebring met die belofte dat Hy hulle ‘n ander hart sal gee en ‘n nuwe gees onder hulle sal laat posvat. Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ‘n hart van vleis gee. Dan sal hulle volgens my voorskrifte leef en my bepalings nakom en daarvolgens optree. Hulle sal my volk wees en Ek sal hulle God wees (Esegiël 11:19-20; vgl. Hebreërs 8:10). Dit is wat die Here bedoel met wedergeboorte. Uit sy liefde gee Hy ons ‘n nuwe hart sodat ons  Hom uit liefde kan begin dien. Dit is ons daaglikse bekering om die sonde en ons selfsug af te lê en God se wil te doen deur Hom en ons naaste lief te hê (lees Romeine 6:1-18).

‘n Kind wat in ‘n gelowige gesin gebore word, is reeds aangeneem as God se kind, en die Heilige Gees lei hom van kleins af om die Here te dien. So het Jesus die kindertjies wat die mense na Hom toe gebring het geseën (Markus 10:16). Die seën van die Here is juis dat Hy mét ons is al die dae tot die voleinding van die wêreld (Matteus 28:20). Hy is Immanuel, God by ons (Matteus 1:23). Dit is God wat werk soos Hy wil en wanneer Hy wil, wat ook gesê het dat die belofte vir ons en ons kinders bedoel is (Hand.2:38-39). 

Maar ‘n mens wat nie in die verbond van God gebore is en opgroei nie, roep die Here deur sy evangelie, die goeie boodskap dat Jesus uit liefde vir ons sonde gesterf het. Die evangelie word verkondig deur woorde en dade van die Here se kinders. Die Heilige Gees oortuig so iemand om die woord te aanvaar en te glo en word so aan die Here Jesus verbind. Die werk van die Gees om so iemand te oortuig is sy wedergeboorte as God se kind. 1 Petr.1:23 sê: Julle is weergeborenes nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike en blywende woord van die lewende God.  

Wanneer wedergeboorte van ‘n mens plaasvind kan nie bepaal word nie. Joh.3:8 sê: ‘Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waarheen hy gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore word’ – onverstaanbaar vir die wêreld. Lukas 1:15 sê van Johannes die Doper dat hy reeds van sy geboorte af met die Heilige Gees vervul is.

Wat die wedergeboorte doen, word in Titus 3:4-7 beskryf: toe die goedheid en mensliewendheid van God ons Verlosser verskyn het, nie deur dade van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar volgens sy (God se) barmhartigheid, het Hy ons gered deur die afwassing (van ons sonde) deurdat ons  weergebore en vernuwe word deur die Heilige Gees. God het die Heilige Gees ryklik op ons uitgestort deur ons Verlosser Jesus Christus, sodat ons geregverdig mag wees (in die regte verhouding met God gestel kan wees as sy kinders) deur sy genade, en ons het erfgename geword van die ewige lewe wat ons verwag.

Die Heilige Gees gebruik ook die woord van God wat verkondig word om ons te laat groei as verloste kinders van God, soos babas wat met melk gevoed word om te groei (1 Petr.2:2; Rom.8:14-17). En die vrug van die werk van die Heilige Gees word gesien in ons liefde, vreugde, vrede, geduld, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing; en die kruisiging van ons sondige selfsugtige natuur met al sy hartstogte en begeertes (Gal.5:22-24).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print

You may also like...