DIE WIL VAN GOD VIR DIE WÊRELD EN VIR JOU Hoofstuk 1 (4) – Dionne Craffort

image_pdfimage_print

HOOFSTUK  1 (vervolg)

 Die openbaring van God in die Skrif.

 Die hele Bybel is gegrond op die feit dat God spreek en dat God se spreke bedoel is om deur mense aangehoor en gehoorsaam te word. God is die Almagtige en wat Hy wil kom tot stand. Hy het die skepping gewil, die mens gewil en uiteindelik besluit om sy wil aan die mens bekend te maak.

  Die subjek van openbaring is die Drie-enige God wat in sy spreke deur geinspireerde  mense toetree tot die mensewêreld  en sy wil aan mense bekendmaak. Die hoogtepunt van God se selfopenbaring is egter wanneer Hy Hom so volkome met die mens vereenselwig  dat Hy Jesus Christus, sy Seun, as mens laat verskyn om Sy heilswil volkome bekend te maak en uit te voer.God se openbaring aan die mens kan egter nie begryp word sonder die verligtende werking van die Heilige Gees nie(2 Kor. 4:6 ). Die Gees maak dit moontlik vir die mens om God se openbaring  te verstaan en te glo. Hy lei  gelowiges tot begrip vir die waarheid en stel hulle in staat om God se wil te soek.

   Wanneer God tot mense spreek, kom dit natuurlik in die vorm van menslike woorde en menslike begrippe.God spreek deur mense van ‘n bepaalde tyd,’n bepaalde kultuurgroep en met ‘n bepaalde lewensbeskouing. Die Bybelskrywers kon nie anders as om in die taal en denkpatrone van hulle tyd die boodskap oor te dra nie. Die wonder is juis dat die ewige boodskap van God se wil met mens en skepping in mensetaal oorgedra kan word. Omdat die boodskap in ‘n bepaalde tyd en onder bepaalde omstandighede aan mense gegee is, moet dit vir elke tyd met nuwe omsandighede weer herinterpreteer word. Selfs toe God sy Seun na die wêreld  gestuur het, het hy gekom in die gestalte van ‘n Jood van sy tyd en het Hy die boodkap gebring in die taal, beelde en begrippe van sy tyd..

 Die Bybel kan slegs een van twee dinge wees. Dit is of die Woord van God wat aan ons oorgedra is deur mense wat deur die Heilige Gees geïnspireer en toegerus is of dit is woorde oor God  deur mense geskryf wat soekend oor die sin van die lewe nagedink het. Die eerste standpunt lei tot teologie – die gelowige nadenke oor wat die Woord van God vir ons wil sê. Die tweede standpunt lei tot filosofie – menslike nadenke en bespiegeling  oor die wese en werking van God. Ons uitgangspunt hier is dat die Bybel die Woord van God is waarin Hy  homself openbaar en ‘n heel besondere boodskap aan mense wil oordra. God het inderdaad sy wil bekendgemaak.

  Ons moet vervolgens kyk na ‘n paar lyne van God se selfopenbaring in die Bybel.

  God tree in gesprek met mense en maak sy wil aan hulle bekend. Aan die begin van Genesis sien ons dat God aan die mens bevele gee{Gen2:15} en dat Hy die ongehoorsame Adam en Eva bestraf en vermaan{Gen. 3:9v}. Gen.7 verhaal hoe God in gesprek tree met Noag en aan hom opdragte gee om die ark te bou. In Gen.9 maak God sy wil duidelik aan Noag en sy seuns bekend en sluit ook ‘n verbond met hulle. By Babel het God afgekom na die mense en hulle taal verwar[Gen.11:6 en 7}. Wat hierdie vroeë  verhale in die Bybel dus wil sê is dat God Hom met die mens bemoei en dat Hy met hom in gesprek tree met die doel om sy wil aan hom bekend te maak. Van die mens verwag God dan afhanklikheid en gehoorsaamheid.

 

God se openbaring aan Abraham en Moses

   Die geskiedenis van Israel begin in werklikheid met die roeping van Abram teen ongeveer 2000 VC.  Op ‘n besondere wyse het Abram bewus geword van die feit dat God met hom besig is en aan hom sy wil bekend maak. Hierop reageer hy positief. In gehoorsaamheid aan God se roeping trek hy na Kanaän, die land wat God aan sy nageslag beloof het. Abram het dit beleef as ‘n verskyning van God aan hom met die doel om Sy wil aan hom bekend te maak. Volgens Gen.15:1 het God in gesigte met Abram gepraat en aan hom ‘n groot nageslag beloof. Abram se reaksie was geloof in die Allerhoogste en ‘n lewe volgens die wil van God.{Gen.15:6}.

  God se bemoeienis met Abram loop uit op die verbond wat Hy met hom sluit. Sy naam word nou verander na Abraham want hy sou die vader word van baie nasies wat ook in die verbondslyn met God sou tree.{Gen17:7en 8}As verbondsteken word die besnydenis ingestel en dit word ‘n blywende teken van God se trou en verbintenis met 

Israel. Hulle deel van die verbond was om God se wil te soek en te gehoorsaam

  In die opdrag van God aan Abraham om sy enigste seun Isak te offer is sy geloof tot die uiterste beproef. Hy is egter bereid om die wil van God te doen al kos dit hom sy seun. So het Abraham deur sy volhardende geloof die vader van Israel en die vader van alle gelowiges geword. Deur sy verdere bemoeienis met Isak en Jakob het God die grondslag gelê vir sy verbondenheid met en sy verdere openbaring aan Israel as volk.

  Algaande maak God Homself en sy wil al duideliker aan Israel bekend.Hiertoe is Moses ‘n besondere mondstuk. In die teken van die brandende braambos openbaar God Homself as heilig.{Eks.3:2-5}. Hy openbaar Homself as ewig wanneer Hy sy naam aan Moses bekendmaak.In die naam is die wese van ‘n persoon opgesluit. As God sy naam openbaar as”Ek is “ dui dit op sy ewige bestaan want van ewigheid af is Hy alleen God. “Dit is ewig  my Naam,dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.{Eks.3:15b}. Alle geslagte mense moet God se ewige Naam ken en Hom alleen aanbid.

  In opdrag van God speel Moses dan ‘n sleutelrol in die verlossing van Israel uit die slawerny van Egipte. Hy moes die volk uitlei na vryheid en by Sinai sluit God ‘n besondere verbond  met Israel deur sy kneg Moses en die tien gebooie word aan die volk geskenk as die duidelikste openbaring tot nog toe van God se wil vir sy volk en vir die wêreld.Die uittog uit Egipte bly daarna vir Israel’n duidelike teken van God se verlossende genade. Saam met God se woorde word God se dade deur Israel beleef as ‘n openbaring van God se ewige treou en verlossende genade. Die instelling van die Paasfees {Eks.12} word ‘n blywende teken van God se verlossing en van Israel se verbintenis tot God.

By Sinai het God met sigbare tekens aan sy volk verskyn en die verbond wat Hy met Abraham gesluit het aan hulle herbevestig. Weereens eis die Here van sy volk gehoorsaamheid. “As julle my gehoorsaam en julle aan my verbond hou, sal jullle uit al die volke my eiendom wees……… Die hele aarde behoort immers aan my.” [Eks.19:6} Hier word Moses die mondstuk waardeur God sy wil baie duidelik aan Israel openbaar in die vorm van die tien gebooie. {Eks.20}. In die hoofstukke wat volg,gee God by monde van Moses duidelike aanwysings aan sy volk oor hoe hulle daagliks in gehoorsaamheid aan God moet lewe.

  Moses word ook die mondstuk waardeur God sy verbondsnaam Jahwe aan Israel bekendstel. In Eks. 6:1 sê God aan Moses dat Hy Jahwe is. Abraham, Isak en Jakob het Hom geken as die Almagtige  maar nou openbaar Hy aan Moses sy verbondsnaam Jahwe. Hoewel die Naam vroeër voorgekom het, was die volle inhoud en betekenis daarvan nie bekend nie. Aan Moses maak God die volle inhoud vam die Naam bekend. “Ek die Here[Jahwe} is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie” {Eks.34:5-7} In die Naam het ons dus te doen met die hoogste en rykste openbaring van God se wese.So word Moses die mondstuk waardeur God Hom bekendstel aan Israel. Dit word die grondslag van Israel se godsdiens en die profete bou daarop voort. Die Here sê self dat Hy direk met Moses ge2praat het. “Met hom {Moses} praat ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie,” {Num.12:6-8] Moses het verskeie opdragte van die Here ontvang om geopenbaarde woorde neer te skryf.{Eks.17:4}. Hy moes die gebooie van die Here op skrif stel. {Eks.24:4} en die verbond van die Here met Israel neerskryf. {Eks 34:27}. Moses het waarskynlik geskryf in ‘n proto-alfabetiese skrif wat in sy tyd in die omgewing van Sinai bekend was. Hy kon dit moontlik van sy skoonvader Jetro geleer het.

  Moses moes God aan sy volk bekendstel. Natuurlik kan geen mens die volle wese van God deurgrond nie. God openbaar egter aan die mens genoeg om sy heerlikheid te leer ken en om te weet wat sy wil is vir die mens se lewe.. Baie geheimenisse is nie aan ons geopenbaar nie en sal ons ook nooit kan deurgrond nie. “ Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is,is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag.” Ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. {Deut.29:29}.

Skrywer: Prod Dionne Craffort

image_pdfimage_print

You may also like...