Dink nuut oor God se wil (3)

image_pdfimage_print

You never really understand a person until you consider things from his point of view. -Harper Lee, skrywer

Dink nuut oor God se wil (3)

Frank Viola (Rethinking the will of God) het ‘n baie interessante siening oor die wil van God. Dit laat ‘n mens waarlik weer dink.

Ons het gesien dat God se wil ‘n parkeergebied met grense is. In die parkeergebied is daar baie wettige en aanvaarbare parkeerplekke. Die keuse is joune solank jy binne die grense van die parkeergebied bly. Kan ek tog iets doen om ‘n beter parkeerplek te kry?

Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (Spreuke 3:6). Jakobus sê: As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee … Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie (1:5 – 8). In nie-morele sake kan God sekerlik lei, maar meestal laat Hy die besluite aan ons oor.

Ons deel natuurlik hierdie parkeergebied met ander Christene. Wat gebeur nou as ons nie oor die grense van die gebied saamstem nie? Dikwels is die probleem in hierdie gevalle dat Christene hulle eie reëls ontwikkel het – net die orrel in die kerk, daar moet ‘n preekstoel wees, ens. Dit is egter so dat ons gewete dikwels deur ‘n gebrek aan kennis beperk word. Daarom het volwasse Christene tipies meer vryheid. Ons sien dit duidelik in die gemeente in Korinte waar daar ‘n vraag was oor die eet van vleis wat aan ‘n afgod geoffer is (1 Korintiërs 8). Daar is dit duidelik dat daar drie soorte Christene is:

  • Swak gewete. Hulle glo dat sekere nie-morele praktyke sonde is. Hoekom? Hulle is verkeerd onderrig en het ‘n ooraktiewe gewete ontwikkel.
  • Sterk gewete. Hulle weet dat sekere sake geen morele betekenis het nie. Hulle het die vryheid om sekere dinge te doen, sonder om daaroor skuldig te voel. Hulle het die vermoë om tussen morele en nie-morele dinge te onderskei.
  • Die wettisiste. Hulle dring daarop aan om druk op ander uit te oefen om hulle standaarde te aanvaar. Hulle kan nie tussen die eise van God en hulle persoonlike toepassing onderskei nie.

Dit is duidelik dat elke persoon ‘n persoonlike oortuiging oor ‘n saak moet hê. Vir die een is een dag belangriker as die ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting (Romeine 14:5). Ook moet ons medegelowiges aanvaar al verskil hulle opvattings van myne. As God iemand as deel van sy familie aanvaar, kan ons hom nie verwerp nie. Ons moenie medegelowiges oordeel nie. Daar is ‘n ou Indiaanse spreekwoord: Do not judge another man until you’ve walked two miles in his moccasins.

image_pdfimage_print

You may also like...