Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Godsdiens(19) – JP Louw

image_pdfimage_print

Priesters en Leviete

In die vorige het geblyk dat die hoëpriester dikwels net priester genoem is, want voor die intog in Kanaän was dit eintlik net Aäron en sy seuns wat priesters was. Die Leviete het heelwat werk gehad om die tabernakel rond te trek en op en af te slaan – en dit .was by die tabernakel waar die priesters die offers gebring het. In Kanaän was daar baie heiligdomme waar die plaaslike bevolkings vir hulle gode geoffer het en met die groter wordende aantal Leviete was daar ook minder werk toe daar nie meer getrek is nie. Rigters 17 en 18 toon reeds aan hoe van die Leviete ook vroeg al onwettig priesterwerk begin doen het (vergelyk veral Rigters 17:9-10 en 18:4-en weer 18:19). Uit 1 Kronieke 9:26-27 blyk dit ook dat die Leviete se dienswerk uitgebrei het. In 1 Kronieke 23:28-32 blyk dit dat hulle al meer by die priesterwerk betrokke geraak het. Tydens die Babiloniese ballingskap, toe daar geen tempel was nie; kon die werk van priesters en Leviete ook nog verder vervaag het. Esegiël het na die terugkeer die ordening van die groepe herstel. In Esegiël 40:46 lees ons dat Esegiël die werk van priester en Leviet skerp omskryf. Die nageslag van Sadok, wat in Salomo se tyd hoëpriester was, is nou Levitiese priesters genoem, en het uitsluitlik by die altaar diens gedoen. So ook kan daar uit Esegiël 44:15-16 en 48:11 afgelei word dat ou gebruike wat vervaag (of dalk verval) het, weer ingestel is.

In die Nuwe Testament is die priesters en Leviete duidelik geskei (Lukas 10:31-32, 1:8-9, Matteus 8:4-soos beveel in Levitikus 14:2). Die lede van die hoëpriester se familie word in die Nuwe Tes­tament owerpriesters of priesterhoofde genoem. Veral .hulle was gedurig, in konflik met Jesus. Die Leviete het hulle met dienswerk en onderrig in die Wet besig gehou en as sodanig is die interpreteerders van die Wet skrifgeleerdes genoem.

 

Die profete

Naas die priesters en Leviete was daar ook profete. Die profete het ook die volk by die Here verteenwoordig. Die profeet het baie gesag gehad, want hulle het God se boodskap direk aan die volk oorgedra terwyl die priesters en hoëpriesters meer met die tempelkultus te doen gehad het. In 1 Samuel 7:5 bid Samuel as profeet vir die volk; Elisa bid dat die Here sy leërskare van engele sal openbaar (2 Konings- 6:17); Jeremia word aangesê om nie te bid nie, want die volk se sondes was te groot (Jeremia 7:16). Abraham en Moses is deur die Jode as profete beskou. In Deuteronomium 18:15-22 word die werk van ‘n profeet beskryf. Dit kom veral daarop neer dat by God se mondstuk is – 2 Konings 17:13, 23, Esra 9:1, Jeremia 7:25-29.

Profete het nie net oor die toekoms gepraat nie. Al het hulle-soms voorspel wat sal gebeur, het hulle net so dikwels die volk berispe en geleer wat reg is. So het Samuel, Jesaja, Jeremia en die sogenaamde klein profete (Hosea tot Maleagi) gedoen. Hierdie mense was enkelinge wat as boodskappers van die Here opgetree het. Maar daar was ook profetegroepe (1 Samuel 10:5). So was Saul ook by geleentheid onder die profete (1 Samuel 10:10-12). In 1 Samuel 19:20-24 gaan Samuel self voor by die optrede van ‘n groep profete. Hierdie profetegroepe het hoofsaaklik voorspellings gemaak. In Rama word gesê dat daar profeetkwartiere was (1 Samuel 19:19; 22). In 2 Konings 4:38 en 6:1 lees ons dat hulle dissipels van ‘n groot profeet kon wees.

Johannes die Doper word in die Nuwe Testament telkens as profeet beskou. Jesus sê selfs in Matteus 11:9 dat Johannes meer as ‘n profeet was, want vir die Jode was die profeet wat sou kom ook ‘n voorloper van die Messias – die grootste van die profete (Lukas 1:76, die profeet van die Allerhoogste)..

‘n Profeet het onder aanraking van God gespreek. Jeremia sê dat God sy mond aangeraak het (Jeremia 1:9). Jesaja word met ‘n gloeiende kool van die altaar aangeraak (Jesaja 6:6) om as God se boodskapper gesalf te word. Sagaria word in ‘n gesig deur ‘n engel ingelig (Sagaria 1:8-17)-en sewe verdere gesigte volg.

Dikwels word priesters, Leviete en profete saam genoem as die religieuse leiers van die volk. Onder die Christene is ook van profete gepraat, en dan is mense bedoel wat in besonder ‘n woord wat van die Here gekom het aan ander oorgedra het. Hier het die gedagte van toekomsvoorspelling feitlik, geheel en al verdwyn en het dit meer ‘n verkondigende funksie gehad, maar tog in onderskeiding van die algemene prediking.

Skrywer:  Prof JP Louw

 

image_pdfimage_print

You may also like...