Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(3)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Kleredrag(3) – Hennie Stander

Hoofbedekking

Die meeste mans het ‘n hoofbedekking gedra in die vorm van ‘n stuk materiaal wat soos ‘n band met ‘n opgeslaande kant gevou is. Dit is dan soos ‘n tulband rondom die hoof gedraai. Die vrouens het weer ‘n vierkantige stuk materiaal gedra wat so gevou is dat dit die oë teen die son kon beskerm en verder het dit oor die nek en skouers gehang om sodoende volkome beskerming teen die son te kon bied.

‘n Gevlegte koord het dit in posisie gehou rondom die kop. As ‘n vrou buitenshuis was het sy haar gesig gewoonlik deur ‘n ligte sluier bedek sodat haar gelaatstrekke nie in die openbaar deur almal gesien kon word nie, alhoewel die sluier deursigtig genoeg was vir haar sodat sy kon sien waar sy loop. So het ook Rebekka haar gesig gesluierd gehou en kon Isak haar gelaatstrekke nie voor hul troue waarneem nie (Genesis 24:65). Dit was eers met die huwelikseremonie dat die sluier van die bruid se gesig opgelig is.

 

Die kleredrag van ‘n ryk man en sy vrou. Kyk na sy japonagtige mantel met die wye moue en haar armbande, hangers, oorringe en hoofband.

Rykman

 

Die skoonmaak van klere

Klere is na stroompies water geneem en dit is daarin gewas sodat die vullis kon wegspoel. Die nat klere is ook op plat klippe geplaas en dan is die vullis daaruit gestamp. ‘n Soort seep is ook gebruik om die was van die klere te vergemaklik.

 

Basiese kledingstukke

Vir die meeste mense was klere nie maklik om te bekom nie en was dit ook baie duur. Dit was dikwels die geval dat die klere wat die armes aangehad het, ook al was wat hulle besit het. Dit het dus selfs gebeur dat ‘n behoeftige vir ‘n paar skoene verkwansel is (Amos 2:6). Johannes die Doper het dus ‘n hoë eis gestel toe by gevra het dat diegene wat twee kledingstukke gehad het, een daarvan moes gee aan hulle wat niks gehad het nie (Lukas 3:11). Dit is derhalwe interessant om te sien dat met die kodifikasie van die wet in die eerste eeu n. C., die Jode ‘n lys klere opnoem wat

 

 

wel op ‘n Sabbatdag gered kon word, sou ‘n huis aan die brand raak. Dit is ‘n interessante lys omdat dit die waarde van kledingstukke aandui en ook noem dit die kledingstukke wat op daardie tydstip bekend was. Die lys het uit twee afdelings bestaan: een afdeling handel oor klere vir die mans en die tweede deel oor klere vir die vrou. Klere was so belangrik en kosbaar, dat dit ‘n teken van intense smart en berou was wanneer iemand dit in stukke geskeur het (Job 1:20).

 

Versiering

Vrouens het hulself ryklik versier met allerhande persoonlike versiersels, grimering asook haarkapsels (vgl Esegiël 23:40). Dit was so belangrik vir die vrouens van die Nuwe Testamentiese tyd, dat Christenvroue vermaan is om hulself veel eerder met “beskeidenheid en ‘n kalmte van gees” te versier (1 Petrus 3:3-4).

 

Jesaja bespreek breedvoerig hoe die vrouens van sy tyd hulself versier het (Jesaja 3:18-21). In baie van die oorringe, armbande en hangertjies was daar edelgesteentes geset, maar dit is soms baie moeilik om uit die antieke tale die presiese soort edelgesteente te bepaal. Olie het as basis gedien vir die kleurstof waarmee vinger- en toonnaels geverf is. Die skoonmaakmiddels is of met die vinger of met ‘n houtspaandertjie aangewend. Mans het dikwels ‘n ring aan hul vinger gedra of aan ‘n ketting om hul nek, maar dit was meer vir verseëldoeleindes as vir versiering gebruik. Hulle seëlringe het amper dieselfde funksie gehad as wat die moderne mens se handtekening het. In OuTestamentiese tye is hare lank gedra en die sny daarvan is deur die Jode verag (Jeremia 49:32). Priesters se hare was egter van ‘n meer matige lengte (Esegiël 44:20). In die Nuwe Testamentiese tye was dit egter weer oneervol vir ‘n man om lang hare to dra (1 Korintiërs 11:6). So het modes ook maar gewissel.

 

Die feit dat vrouens gesluierd in die openbaar beweeg het, weerspreek egter nie die feit dat hulle hul ook versier en grimeer het nie. ‘n Mens moet onthou dat daar verskillende gebruike in verskillende omstandighede bestaan het. So lees ons byvoorbeeld dat Rebekka haar gesig met ‘n sluier bedek het toe sy Isak sien aankom. Tog was sy voor dit ongesluierd in die teenwoor­digheid van die dienskneg (Gen 24:65).

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...