Gekraakte potte

image_pdfimage_print

Scripture is the cradle in which Christ lies – Martin Luther

 Gekraakte potte

John C. Holbert het ‘n baie interessante blog oor Jeremia 18:1 – 11 gehad. In hierdie gedeelte lees ons van ‘n baie algemene gesig in Juda – ‘n pottebakker aan die werk. Die potte was nie die luukse artikels wat vandag so algemeen is nie, maar tipiese huishoudelike gebruiksartikels. Hulle was miskien nie volmaak in vorm en kleur nie, maar bruikbaar. Hierdie potte het gewoonlik nie lank gehou nie, want swak materiaal is dikwels gebruik. ‘n Besoek aan die pottebakker was dus nie iets seldsaam nie.

 

Die Here roep vir Jeremia: Gaan af na die pottebakker se huis. Dit was waarskynlik nie die eerste keer dat Jeremia die pottebakker besoek het nie. Hierdie was nie die gewone besoek om potte te vervang nie: Ek sal daar met jou praat. Jeremia gaan na die pottebakker se huis waar die pottebakker besig was om iets op die skyf te maak. Die pottebakker plaas die klei op die skyf om dit te vorm.

Die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak soos hy dit wou hê. Pottebakkers maak gereeld een of ander fout – om weer van voor te begin is nie vir die pottebakker iets vreemds nie. Net so is dit met God: Kan Ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klei gedoen het nie, Israel? … Soos klei in die pottebakker se hand, so is julle in my hand, Israel. Een oomblik kondig Ek aan dat Ek ‘n nasie, ‘n koninkryk sal afbreek, sal uitroei, sal vernietig. Maar wanneer die nasie hom bekeer van sy boosheid waarvoor Ek hom wou straf, sien Ek af van die straf wat Ek oor hom wou bring.

Die Here is net soos die pottebakker – Hy het volle beheer oor die pot, Israel. Soos die pottebakker kan Hy weer voor begin nadat Hy dit afgebreek het. Anders as die pot kan Israel wel sy optrede verander en die Here kan van sy beplande straf vir Israel afsien en die volk spaar.

Maar wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van die goeie wat Ek aan Hom wou doen. God kan afsien van sy straf of daarmee voortgaan.

Die les van die pottebakker is duidelik: God is oppermagtig oor Israel soos die pottebakker oppermagtig oor die klei is en daarmee kan doen wat hy wil. Daar is egter een groot verskil tussen Israel en die klei: Israel (ons) kan verbeter as ons besef dat God soewerein is. Beteken dit nou dat as ek goed doen God gaaf met my sal wees en as ek sleg doen Hy my gaan teregwys. Lees net weer die boek Job en ons besef dit is nie so eenvoudig nie.

Wat moet ons doen? Fokus op die breekbare pot. Ons is die breekbare potte van God. Paulus gebruik ook hierdie beeld van die pot: Ons wat hierdie skat in ons het, is maar kleipotte wat maklik breek (2 Korintiërs 4:7). Wat is hierdie skat waarvan Paulus hier praat? Die krag wat alles oortref, kom dus van God, nie van ons nie –  ons fokus nie op onsself nie, maar net op God en sy Seun wat Hy gestuur het. Die verhaal van die pottebakker in Jeremia gaan nie so seer oor God se vermoë om op ons goeie en slegte te reageer nie, maar dat Hy ons gekies het om potte van sy evangelie te wees. Ons is God se gekraakte potte.

image_pdfimage_print