Geloofsvrae: Heiligmaking

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Heiligmaking – Adrio König

Heiligmaking

Die heilsweg bestaan nie uit ‘n aantal stasies wat ‘n mens een na die ander aandoen en agterlaat nie: bv. eers weergeboorte en dan bekering en dan regverdiging, en dan geloof nie. Maar daar is ‘n sin waarin ons tog van fases kan praat. Daar is ‘n begin, en daar is ‘n voortgang. Die begin is reeds behandel. Die voortgang kom nou aan die beurt.

Ons kan heiligmaking (en nagmaal) ‘n tweede fase in ons heilsbelewing noem. Dit gaan om die voortgang van die Christelike lewe, om ons inoefening in die lewe wat Hy van ons verwag.

Daar is altyd misverstande moontlik. Die eerste is die oortuiging dat ons nou by ons deel van die saak kom. Die begin (die redding of regverdiging) is die gawe van die Here, en nou moet ons antwoord. Hy het ons ‘n aandeel in Christus se kruis en opstanding gegee sodat ons in beginsel vir die sonde dood is en deel het aan Jesus se opstandingslewe. Dit is sy gawe. Nou moet ons dié lewe leef. Dit sal selfs goed Gereformeerd klink as ons dit ons dankbaarheidslewe noem.

Dit is egter ‘n misverstand. God is nie minder by ons heiligmaking betrokke as by enige ander deel van ons lewe nie. Christus is selfs ons heiliging (1Kor 1:30). Ons is geheilig, dit beteken ons is afgesonder vir God omdat ons aan Christus behoort (1Kor 1:2 OAV).

Ons heiligmaking is inderdaad die nuwe lewe wat ons moet lei nie. Maar die probleem is dat ons glad nie meer ‘n lewe van ons eie het nie – ook nie ‘n nuwe lewe nie. Dié sou ons net so opgemors het soos die oue. Ons is saam met Christus gekruisig, en al wat ons oor het, is ons aandeel aan Jesus se opstandingslewe. Maar dit is sy lewe wat Hy deur ons lewe (Gal 2:19-20).

Dit alles beteken dat ons ook in ons heiligmaking volkome op die genade van God, die gawe van sy Seun se nuwe lewe, en die werking van sy Gees aangewese is. Dit is die fondament waarop Hy ons laat staan sodat ons ons verantwoordelikheid kan nakom.

Want ‘n verantwoordelikheid het ons. Ons leef in ‘n verbond met God, ‘n verbond waarin – óók in ons heiligmaking – Hy die inisiatief neem, maar waarin ons moet antwoord. Ons moet ‘n nuwe lewe leef, ons moet ophou met die sonde, alle sonde, en ons lewe volkome aan God wy. Ons kan, want ons het ‘n aandeel aan sy nuwe lewe, en die Gees dra sy vrug in ons. God neem die inisiatief. En tog hang alles ook van ons af. Die heiligmaking is ons verantwoordelikheid. `Moet dan nie toelaat …’  `Laat die Gees …’ (Rom 6:12ev; Gal 5:25) is opdragte aan ons.

Ons moet hierdie oproepe tot ‘n heilige lewe ernstig neem. Daar is sterk uitsprake in die Bybel dat God wil hê dat ons volkome aan Hom toegewy sal leef. God wil hê dat ons heilig, sonder smet en onberispelik sal wees, dat ons baie vrug sal dra, dat ons altyd oorvloedig in die werk van die Here sal wees (Kol 2:22; Joh 15:8; 1Kor 15:58). Ons water die volmaaktheidsuitsprake van die Bybel te maklik af. Ons voel waarskynlik bedreig omdat ons dink dis ‘n oorskatting van ons menslike moontlikhede. Ons beskuldig gewoonlik die sg. Perfeksionisme daarvan dat hulle te veel van die vroom mens dink en ‘n oppervlakkige sondebesef het. Ons kan reg wees in hierdie kritiek.

Maar intussen bly die volmaaktheidsuitsprake aan ons deur klop sonder dat ons oopmaak, moontlik omdat ons ‘n slegte heiligmakingsleer aanhang asof dit ons lewe is wat volmaak moet word, asof dit afhang van dit waartoe ons instaat is, asof dit nie Christus se lewe is waaraan ons mag deelneeem nie, asof dit nie die Gees is wat sy vrug in ons lewe wil dra nie. As Christus nie volmaak vir God kan leef nie, is die volmaaktheidsuitsprake te hoog om by te kom. Maar as Hy kan, kan ons moed skep, ophou skerm vir ons onvermoë, en aan sy volmaakte lewe begin deelneem.

Dit is ongelukkig waar dat ons telkens weer terugval in ons eie ou verbeurde lewe, telkens weer self probeer, telkens weer maak asof ons nie deur die doop en die geloof met Christus verenig is nie. Maar God bring ons ook telkens weer terug na die waarheid: ons het deur die geloof deel aan ‘n oorwinningslewe, aan sy lewe. Christus is ons lewe (Kol 3:4).

In die mate waarin ons regtig met ons ou lewe ophou en aan Christus se lewe deelneem, sal ons volkome aan God terogewyd leef en met alle sonde ophou. Dat dit nie gebeur nie en dat ons nog weer met ons sonde voortgaan, is volkome ons eie skuld én volkome onnodig. Ons kan dit net in skaamte bely en laat staan.

Is heiligmaking ‘n proses of ‘n krisiservaring? Daar is heelwat beskouings hieroor. Sommige is elders behandel. Die probleem met die nadruk op ‘n krisiservaring is dat ons maklik by een krisis kan vashaak. Dit is altyd romanties om in een oomblik alles te kry en dan agterna net aan die een ervaring vas te hou. Dit is egter veiliger as ‘n mens aanvaar dat baie krisisse nodig is, dat ons ons telkens diep voor God sal moet verootmoedig, nuwe dieptes in ons sonde sal ontdek, nuwe oorgawes aan Hom sal moet maak, nuwe moontlikhede van diens aan Hom sal moet opneem.

Daar moet natuurlik een of ander soort ontwikkeling in ons heiligmaking wees, wat trouens ook nie krisiservarings uitsluit nie. Watter soort ontwikkeling? Die begrip `proses’ is nie gepas nie omdat dit te maklik die indruk skep dat ons heiligmaking vanselfsprekend en gelykmatig voortgaan, terwyl ons weet dat ons lewe saam met die Here groot oorwinnings én diep insinkings ken. Miskien is die begrip voortgang meer gepas. In een of ander sin moet ons tog nader aan die Here kom, Hom beter leer ken, beter verstaan wat dit beteken dat ons ou lewe beëindig is, beter daarin slaag om aan sy nuwe lewe deel te neem, dit alles nie omdat ons soveel beter word nie, maar omdat Hy die mag van die sonde in ons lewe breek. Die heilsweg is nie net vergifnis nie, maar ook verlossing, bevryding, oorwinning. Dit is ‘n langsame voortgang waarin ons tegelyk ‘n heilige én ‘n sondaar is, maar nie presies uitgeballanseerd nie. Die oorwig is aan die kant van die heiligheid. Op die ou end lyk ons tog meer soos Hy.

As niks hiervan waar is nie, moet ons ernstig ondersoek instel. Iewers skryf Paulus: `Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe’ (2Kor 13:5).

 

Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Fokus op 300 Geloofsvrae deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn verduideliking van 300 geloofsvrae bied.

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en Lux Verbi.BM vir hierdie vergunning.

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...