Geloofsvrae: Strukture

image_pdfimage_print

Geloofsvrae: Strukture – Adrio König

Die Wese van die sonde

2. Strukture

Maar sonde is ook meer as slegte verhoudings. Sonde néstel ook in strukture, en dit is juis in strukture waar die mag van die sonde duidelik na vore kom.

Ons leef trouens juis ons verhoudings in strukture. Anders gesê: strukture is die wyse waarop ons ons lewe en samelewing inrig en organiseer. Ons besluit nie elke oggend van voor af hoe ons ons geld gaan verdien, hoe ons ons kinders gaan laat leer, hoe ons by die werk gaan kom, of ons links of regs op die pad gaan ry, hoe ons ons godsdiens gaan beoefen nie. Ons lewe is gestruktureer. Sonder ‘n onderwysstelsel, ‘n verkeerstelsel, ‘n regstelsel, ‘n handelsisteem, ‘n kommunikasiesisteem, en noem maar op, sou lewe chaoties gewees het.

Die meeste strukture is skeppinge van mense. Strukture word gewoonlik oor ‘n lang tyd gevorm en sommige word agterna voortdurend geleidelik aangepas. Die meeste Christene glo daar is wel ‘n paar wat oorspronklik deur God ingestel is soos die huwelik en gesin. Strukture het egter nie ‘n waarde in hulself nie. Hulle staan in diens van die mens en daarom beoordeel ons hulle in die mate waarin hulle ruimte gee vir goeie verhoudings.

Omdat mense sondaars is, kan ons verwag dat ons die strukture negatief sal beïnvloed. Ons kan óf verkeerd optree in ‘n struktuur, óf sondige fasette in die struktuur inbou, óf ‘n struktuur ontwikkel wat self totaal sondig is. As twee mense aan mekaar ontrou is in hul huwelik, sondig hulle persoonlik terwyl die struktuur self goed is. Dit is relatief maklik om so ‘n situasie te hanteer. Daar hoef niks aan die struktuur te verander nie, hulle moet net hul persoonlike verhouding in orde kry en dan kan hul gelukkig voortleef in hul huwelik.

Maar in ‘n onderwysstelsel waarin sekere groepe beter hulpmiddele as ander het (byvoorbeeld die ou apartheidsonderwys), is ‘n sondige faset ingebou. Die struktuur as sodanig is nie sleg nie, net die diskriminasie teen ‘n sekere groep. Maar om so ‘n sondige faset in ‘n struktuur te verander, is baie moeiliker as om net anders binne ‘n struktuur op te tree. Hoe moeilik, weet die hele Suid-Afrika in die lig van die krisis in die onderwys sedert die instelling van demokrasie.

Daar is egter ook strukture wat wesenlik sondig is en net eenvoudig vervang moet word. Die hele kommunistiese sisteem, die slawehandel en apartheid is klassieke voorbeelde van strukture wat nie verbeter kon word nie. Maar op sy beurt is dit weer oneindig moeiliker om ‘n struktuur te vervang as om net ‘n bepaalde faset van ‘n struktuur te verander. Dit voel ons nou nog aan ons lyf met die oorgang van apartheid na ‘n demokrasie.

Sonde is dus nie net verkeerde dade (verkeerde optrede in ons verhoudings) nie, dit sétel ook in strukture waardeur dit duidelik word wat die mag van sonde is. Daarom is dit so moeilik om sondige fasette van ‘n struktuur of die struktuur self te verander. Die apostels was duidelik genoeg bewus van die mag van sonde. Hulle praat van die heerskappy van die sonde in ons lewe en dat ons slawe van die sonde is, sodat ons sonde nie net vergewe moet word nie, maar dat ons ook verlos en vrygemaak moet word van die sonde (Rom 6:12ev; Joh 8:36).

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...