Geweld in die Ou Testament

image_pdfimage_print

 

“Don’t walk in front of me… I may not follow
Don’t walk behind me… I may not lead
Walk beside me… just be my friend” 

– Albert Camus

 

Geweld in die Ou Testament

“The God of the Old Testament is … a petty, unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a misogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully.” (Richard Dawkins)

Geweld in die Ou Testament is vir baie mense ‘n probleem. Lees deur Josua en dit lyk vir ons asof God volksmoord aanbeveel. Wat moet ons doen met die grootskaalse geweld wat deur God bepaal word? J. D. Greear sê die antoord berus op drie woorde: gesag, oordeel en ras.

 

  1. Gesag

Die reg of verkeerd van ‘n besondere reaksie word dikwels bepaal deur die gesag agter die optrede. Het jy byvoorbeeld die gesag om namens jou maatskappy tjeks te skryf? As jy die gesag het, is dit nie ‘n probleem nie. As jy nie die nodige gesag het nie, is dit verkeerd. Gesag kan ‘n optrede wat moreel verkeerd is, verander in een wat moreel noodsaaklik is.

 

As dit kom by menselewens het niemand op aarde absolute gesag nie. Ons is nie die outeurs van lewe nie. Daarom het ons nie gesag oor lewe nie. Net Hy wat die mens gemaak het, het gesag oor die mens se lewe. Die plekke waar God hierdie gesag aan ‘n mens oordra is uniek – soos Josua tydens die inname van Kanaän. Daar is ook duidelike opdragte om dit nooit weer te doen nie (Deuteronomium 4:2 – 9). As jy hierdie verhale lees, sien jy dat die ergste vernietiging gewoonlik van God self kom. Hy slaan die mure plat; hy stuur reuse haelstene op die vyand. God wil hê dat Israel moet besef dat Hy en Hy allen gesag oor lewe en dood het.

 

  1. Oordeel

God sê herhaaldelik vir Israel dat die inname van Kanaän die gevolg is van die Kanaäniete se goddeloosheid. Ons weet dat die volke van Kanaän ander volke onderdruk het So het hulle byvoorbeeld gereeld kinders aan hulle gode geoffer. Hierdie was nie onskuldige mense nie. Ons vind die oordeel oor Kanaän oordadig, want ons verbind nie hulle straf met hulle oortredings nie. Miskien moet ons Kanaän met ISIS of Nazi Duitsland vervang. Natuurlik is ons verontwaardig as ons ongeregtigheid en verdrukking op ‘n groot skaal sien. In ons oproep vir geregtigheid mag ons dink God se optrede is te erg. Dit is nooit erger as wat die oortredings vereis nie.

 

  1. Ras

Dit gaan nie oor ras nie. In sy optrede teen Jerigo spaar Josua vir Ragab en haar hele huishouding. Sy was ‘n Kanaänitiese vrou. Hoekom? Omdat sy haar bekeer en glo. As ander in Jerigo dieselfde gedoen het, sou God hulle ook gespaar het. God het ook herhaaldelik vir Israel gesê dat hulle dieselfde oordeel sal ondervind as hulle, soos die Kanaäniete, afgode aanbid. Hulle het en God straf hulle. God straf ons nie oor ons velkleur nie, maar oor ons sonde.

 

Jy mag vra: Maar wat van al die onskuldige mense wat in hierdie gevegte dood is? Wat van die kinders? Dit is moeilik om te aanvaar, maar sonde het kommunale gevolge. As ek sondig deur my vrou te verneuk, is my kinders onskuldig, maar hulle gaan sekerlik daaronder ly. Die kinders van Kanaän ly as gevolg van die keuses van hulle ouers.

 

God sê dat Hy nooit die onskuldige verantwoordelik sal hou vir die sondes van die skuldiges nie (Esegiël 18:20). Ons moet onthou dat die aardse lewe, alhoewel kosbaar,  is nie al wat daar is nie. Alle mense moet sterf. Miskien het God hierdie onskuldige mense vroeg bymekaar gemaak. As dit wat ons oor die ewigheid glo waar is, is die ergste lyding op aarde maar gering in die lig van die hemel.

 

Ek moet sê ek het hierdie verduideliking gelees, maar voel maar ongemaklik.

 

image_pdfimage_print