God en politiek

image_pdfimage_print

Believing is a matter of the will. A man does not believe without being willing to believe. — C.H. Spurgeon

 

God en politiek

Dit is verkiesingstyd in die VSA. Soos in Suid-Afrika, probeer die politieke partye mense oortuig dat God aan hulle kant is.  Nou lees ons gereeld:Jesus is neither a Democrat nor a Republican.” Michael Krueger het gaan kyk wat dit beteken. Hy kom met ‘n paar voorstelle na vore.

 

  • Dit mag beteken dat die Bybel nie oor politiek praat nie

Die Bybel stel net belang in teologiese sake en ons mag dit nie gebruik om te bepaal watter politieke siening reg is nie. Die Bybel sê nie vir wie ons moet stem nie; die Bybel sê nie vir ons dat ons vir die politieke party wat dit en dat doen, moet stem nie. Dit beteken nie dat die Bybel geen beginsels en riglyne gee nie. Die Bybel praat tog nie net oor godsdienstige sake en glad nie oor sekulêre sake nie. Om die waarheid te sê, erken die Bybel nie hierdie godsdiens-sekulêre skeiding nie – die hele wêreld is God s’n. Feitlik elke politieke saak het ‘n etiese dimensie en die Bybel praat beslis oor etiek.

  • Dit mag beteken dat geen politieke party voldoen aan wat die Bybel leer nie

Geen menslike instelling is tog volmaak nie. Maar al het alle politieke foute, bly die vraag steeds: Watter party kom die naaste aan die Bybelse beginsels en etiek? Die Christen gaan immers stem. Is dit dan nie belangrik vir wie ons stem nie? Maar as partye oor feitlik alles verskil, is dit tog nie moontlik dat hulle ewe sleg is nie.

  •  Dit mag beteken dat daar goeie Christene in alle politieke partye is

Daarom is daar geen regte of verkeerde manier om te stem nie. Beteken dit dan dat die Bybel  die sienings van die verskillende partye as ewe reg en verkeerd sien? Daar is immers goeie Christene wat aan verskillende denominasies behoort. As daar Christene in ‘n ander party is as die een waarvoor ons stem, moet ons liefde en respek aan hulle betoon – hulle is immers ons broers en susters in Christus.

  •  Dit mag beteken dat Jesus nooit ‘n lid van ‘n politieke party was nie

Geen politieke party kan as God se party gesien word nie. Natuurlik kom staan God nie aan die kant van ‘n spesifieke mensgemaakte politieke party nie – Hy keur nie alles van daardie party goed nie. Beteken dit nou dat dit nie saak maak vir wie ons stem nie?

 

Waar staan ons nou? Al vier die opsies probeer ‘n weg vind om politiek vir Christene ‘n neutrale saak te maak. Of dit nou is dat die Bybel nie politiek hanteer nie of dat alle partye nie volmaak is nie of dat goeie Christene verskil of dat God nie kant kies nie – politiek is ‘n neutrale saak. Daarom maak dit nie saak vir wie Christene stem nie.

 

Dit is nie ‘n Christelike benadering nie. Wat ons hiermee sê, is dat daar ‘n plek op aarde is wat buite God se heerskappy val. Abraham Kuyper het gesê: “There is not a square inch in the whole domain of our human existence over which Christ, who is Sovereign over all, does not cry: ‘Mine!’” ‘n Mens wonder wat sou Dietrich Bonhoeffer hieroor gesê het. Sou hy byvoorbeeld geglo het dat ‘n Christen nie vir Hitler en sy politieke party mag teengestaan het nie?

 

Wat ons moet doen as Christene is om aan mense te sê dat hulle die Bybel moet aanwend om politieke sake te beoordeel – net soos ons dit op ander lewensterreine doen. Sal dit nie goed wees as ons ‘n slag ernstig debatteer oor wat die Bybel sê nie? Ons fokus is dan op die regte plek: Wat sê die Bybel?

 

Hierdie artikel het my laat dink. Kan Christene neutraal staan in die politiek? Watter maatstaf gebruik ons as ons politieke partye meet?

 

image_pdfimage_print