God se woord vir vandag

image_pdfimage_print

Scripture itself is alone competent to judge our doctrine of  Scripture – J. I. Packer

God se woord vir vandag

Kevin deYoung (Taking God at His word, 2014) het ‘n boek oor God se woord vir die mense van vandag geskryf. Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

Ek kom u verordeninge na, ek het hulle baie lief (Psalm 119:167).

Uit die 1 189 hoofstukke versprei oor 66 boeke geskryf oor 2 000 jaar is Psalm 119 die langste. In 176 verse kry ons een of ander verwysing na God se woord  – voorskrifte, bepalings, wette, verordeninge, ens. Hierdie woorde se betekenis verskil, maar almal sentreer op een groot idee: God se openbaring in woorde. Dit gaan hier oor die Bybel self

Daar kan drie reaksies op die lang, herhalende passie vir die woord van God in Psalm 119 wees:

 

  • Die sinikus of skeptikus sal sê dit is goed dat die antieke mense sulke respek vir God se woorde gehad het. Ons kan dit nie so ernstig opneem nie. Ons weet dat mense dikwels woorde in God se mond plaas vir hulle eie doel. Ons weet dat elke goddelike woord deur menslike denke, redigering en interpretasie gekontamineer is. Die Bybel is soms inspirerend, maar dit is oud en op plekke onverstaanbaar. Op sekere plekke is dit selfs verkeerd.
  • Ander sê: Ek het geen besondere probleme  om die Bybel te glo nie. Om die waarheid te sê, ek het agting vir die Bybel. In die praktyk is dit egter van geen toepassing nie. Al mag jy so dink, sal jy dit nie hardop sê nie. Psalm 119 is te lank; dit sê dieselfde ding oor en oor; dit kry net nie end nie. Psalm 23 is baie beter. Nie negatief nie, nie positief nie, net lou.
  • Maar daar is diegene wat uitskreeu dat elke vers van Psalm 119 waar is. Die psalmis vang jou passie vas. Jy hou van hierdie psalm.

Die doel van hierdie boek is om ons so ver te kry om hierdie laaste reaksie vas te vang. Dit moet ‘n uitdrukking wees van wat in ons verstand en harte is. Dit gaan daaroor om ons te oortuig dat die Bybel geen foute maak nie; dit kan verstaan word; dit is die belangrikste woord in ons lewens; dit is die relevantste iets wat ons elke dag kan lees.

Psalm 119 vertel vir ons wat ons van die woord van God kan glo; hoe ons oor die woord van God moet voel; wat ons met die woord van God moet doen. Die boek hanteer vier temas:

  • Die woord van God is voldoende.
  • Die woord van God is duidelik.
  • Die woord van God is finaal.
  • Die woord van God is noodsaaklik.

Vandag word die Bybel van alle kante bevraagteken. Hierdie boek help ons om weer die plek van die Bybel in ons lewens te verstaan.

Volgende keer gaan ons die vraag vra: Wat moet ek oor God se woord voel.

image_pdfimage_print

You may also like...