Haggai

image_pdfimage_print

Haggai – Francois Malan

Annamarie vra:

Die boek Haggai, is dit voor of na Jesus se kruisiging geskryf? Hulle praat van die woord van die Here het deur bv Haggai gekom, waar was Jesus dan?

Antwoord

Prof Francois Malan antwoord:

Die profeet Haggai het 520 jaar voor Jesus se geboorte die woord wat hy van die Here ontvang het, aan die twee leiers van Juda en die volk verkondig.

Die tien stamme van Israel is reeds in 734 en 722 v.C. na Assirië in ballingskap weggevoer. Die twee stamme Juda en Benjamin is meer as ‘n honderd jaar later, in 597 en 586 v.C. na Babel in ballingskap weggevoer. Dit het die Here oor hulle laat kom omdat hulle nie meer die Here gedien het nie, maar die afgode van die Kanaäniete.

Die Persiese koning Kores oorwin die Babiloniërs en hy het ‘n ander beleid as die Assiriërs en die Babiloniërs. Hy gee opdrag dat die Jode na hulle land kan terugkeer en die tempel herbou om vir hulle God te dien en vir hom as koning voorbidding te doen (2 Kronieke 36:22,23; Esra 1:1-4). In 536 v.C. kom ‘n groep Jode terug, maar toe hulle teenstand kry van die buurvolke oor die bou van die tempel, bou hulle eers hulle eie huise en nie die tempel nie. Na 16 jaar, in 520 v.C., bring Haggai die opdrag van die Here dat hulle nou die tempel moet bou. Kores was al oorlede en sy opvolger Darius I is koning. Haggai ontvang vier opdragte van die Here oor die bou van die tempel, wat in sy boek opgeteken is:

1:1 die eerste dag van die sesde maand van Darius se 2e regeringsjaar = 29 Augustus 520 v.C.

1:15 die 24e van die sesde maand = 21 September 520 v.C.

2:1 die 21e van die 7e maand =  17 Oktober 520 v.C.

2:10,20 die 24e van die 9e maand = 18 Desember 520 v.C.

Die Evangelie van Johannes sê: voor Jesus mens geword het (Joh 1:14) is Hy reeds die Woord van God, self God, en alles wat bestaan, het deur Hom ontstaan (Joh 1:1-3). Volgens Genesis 1:3 het God byvoorbeeld met die skepping gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. God het deur sy woord geskep, en die Evangelie van Johannes sê: die Woord van God is Jesus. Wanneer God praat, is dit Jesus. Só is Jesus ook die woord van die Here, wat na Haggai toe gekom het om die wil van die Drie-enige-God mee te deel. Maar 520 jaar later word die Woord van God ‘n mens, en kom woon onder ons mense, om God aan ons bekend te maak en sy genade en waarheid vir ons te kom wys deur sy lewe en sy dood aan die kruis, en vir ons daarvan te vertel in sy woorde wat in die Evangelies opgeteken is (Joh 1:14,16-18).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

image_pdfimage_print