Hier is Ek! Hier is Ek! (Jesaja 65:1-16)- Francois Malan

image_pdfimage_print

Dwarsdeur die boek Jesaja gaan dit om die Here. Hier praat Hy self en eis dat almal tot ‘n vergelyk met Hom moet kom. Daar is twee moontlikhede: oordeel of versekering. Albei verwys na die Here se alleenheerskappy wat op twee verskillende maniere beleef word deur gelowiges en ongelowiges.

65:1-2a  ‘Ek het My laat soek deur hulle wat nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur hulle wat My nie gesoek het nie; Ek het gesê: Hier is Ek, Hier is Ek, aan ‘n nasie wat My naam nie aanroep nie. Ek het die hele tyd my hande uitgestrek na ‘n opstandige volk wat wandel op ‘n pad wat nie goed is nie, volgens hulle eie gedagtes.’

Die Here antwoord op die klagtes en twyfelvrae van Israel in hoofstukke 63-64 en hulle beskuldigings dat dit sy skuld is dat hulle afgedwaal het en dat dit daarom nou met hulle sleg gaan. Dit is egter nie waar dat die Here Hom verberg of afwesig is, ver is of nie beskikbaar is nie. Die Here sê dat Hy inderdaad beskikbaar is, gereed om gesoek te word, gereed om sy teenwoordigheid aan te kondig. Sy hande is deurentyd in liefde uitgesteek om hulle te verwelkom en te beskerm. Dit het Moses reeds belowe in Deutr 4:29-30, en tydens die ballingskap het die Here dit bevestig in Jeremia 29:10-14.

Uit vers 2 se ‘opstandige volk’ lyk dit of verse 1-2 op Israel van toepassing is, so ook in Hosea 1:10; maar in Romeine 9:24-26 word Hosea aangehaal en toegepas op alle volke; en in Rom 10:20-21 word Jesaja 65:1 op alle volke en vers 2 op Israel toegepas.

65:2b Israel word aangekla as die eintlike skuldige party wat sy rug op die Here gedraai het om hulle eie gedagtes/oogmerke na te jaag  – dieselfde woord vir gedagtes/oogmerke word in 55:8-9 gebruik: ‘My gedagtes is nie julle gedagtes nie….soos die hemel hoër is as die aarde, is my gedagtes bo julle gedagtes.’ Israel bid vir die herstel van hulle koningskap soos van Dawid om oor hulleself te heers en die ander volke te oorwin met die swaard – ‘die pad wat nie goed is (in die oë van die Here) nie.’ Die Here se gedagtes is egter anders. Hy het Israel uit ballingskap teruggebring om hulle sy getuies en voorbeelde van reg, geregtigheid en barmhartigheid  te maak, wat, soos Hy, ‘die hele tyd met uitgstrekte hande’ ander volke verwelkom om, soos Israel behoort te wees, die Here te dien, want dit is net Hy wat mense leer en in staat stel om in liefde saam te leef.

65:3-5 Die opsomming van die aanklag in vers 2b teen die opstandige/rebelse volk wat hulle eie kop volg word in besonderhede uitgewerk in verse 3-5 met ‘n reeks sinne wat met deelwoorde begin en vertaald ingelei word met ‘wat…’

65:3 Die volk wat my voortdurend in my gesig beledig/uittart; wat in tuine offer en wat offerandes in rook opstuur op die plaveisels; – die heidense ritusse is ‘n direkte belediging van die Here. Die woord uittart word reeds in Moses se lied gebruik vir Israel se afgodsdiens (Deutr. 32:16,21; vgl. Jer 7:18; 11:17). Die vrugbaarheidsritusse onder die groen bome van die Kanaäniete is reeds in Jes 1:29 veroordeel. So ook die wierookoffers wat op die huise se dakke gebring is aan die son, maan en sterre (Jer 19:13; Sef 1:5). Die Kanaäniete se land is juis aan Israel gegee weens die afstootlike dinge wat die Kanaäniete  gedoen het (Lev 18:27-30; Gen 15:16).

65:4 wat tussen die grafte sit en wat die nag in rotse deurbring – waar hulle probeer om kontak te maak met die dooies om leiding by hulle te vra; ‘n ou Palestynse kultus (Jes 8:19; Deutr 18:11).

wat varkvleis eet, wat deur die wet verbied is (Lev 11:7-8; Deutr 14:8) waarskynlik omdat dit juis in die heidense offers gebruik is.

wat onrein offervleis in hulle houers het – vleis van onrein diere of offervleis wat lank gestaan het  (Jer 4:14; Lev 11; Deutr 14:6-7);

65:5 wat sê: hou jou by jouself, moenie nader aan my kom nie want ek is heiliger as jy – Eseg 44:5,13,15 beskryf die afsondering van die priesters vir die diens van die Here. Hulle werk is juis om vir die volk in te tree by die Here. Maar as hulle hulleself verhoog as te heilig vir die volk, het hulle hulle roeping versaak. Skynheilig maak hulle asof hulle deur die ander mense ontheilig sal word (vgl. Luk 10:31-32 se priester en Leviet wat aan die anderkant verbygegaan het van die man wat deur rowers oorval is). Daarby kan die Here nie hoogmoed verdra nie (Jes 13:11; Spr 8:13). Jesaja 60:21 en 61:6 ken die priesterskap egter toe aan elke gelowige, en as ‘n gelowige hom verhef bo ander mense staan hy/sy die wil van die Here vir hom/haar teen (Filp 2:3-5).

‘hulle is rook in my neus, ‘n vuur wat al die dae  brand.’ Samuel (1 Sam 15:23) het al gesê: ‘Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as afgodery.’ Soos die mens wat ‘n waarsêer raadpleeg om bomenslike kennis of mag  te kry teen God, so verhef die weerspannige homself teen God, erken Hom nie, buig nie voor sy wil nie, maar is god vir homself. Sonder om God openlik te verwerp wil so ‘n persoon die Here dien soos hy self wil en volgens sy eie opvatting. Die Here vind hulle optrede aanhoudend irriterend en uitlokkend, soos ‘n vuur wat voortdurend brand, met rook altyd in jou neus.

65:6-7 Die antwoord van die Here op hulle aanklag: ‘Kyk! dit is voor my (gesig) geskryf’ – in teenwoordigheid van die Here is die wet opgeteken wat Hy nou gaan toepas. Dit verwys moontlik na Deutr.28 se seëning en strawwe/vervloekings.– Hy sal nie stilbly oor wat aangaan nie – soos hulle in 64:12 in twyfel gevra het. Maar, anders as wat Israel hoop en verwag het, is dit nie die Here se seën, soos hulle vra nie, maar die straf uit sy mond wat hulle as antwoord ontvang: ‘maar, sê die Here, Ek sal vergeld, ja Ek sal aan hulle liggame vergeld, hulle oortredings saam met die oortredings van hulle vaders, wat wierook gebrand het op die berge, en op die heuwels my belaster het (die teruggekeerdes uit ballingskap se heidense offers, v3, is ‘n herhaling van dié van hulle vaders voor die ballingskap gedoen het, Eseg 20:27-2), Ek sal hulle vorige werke afmeet op hulle bors/skoot. Dieselfde heidense praktyke van hulle vaders in die 8e eeu v.C. word steeds deur hulle in die 5e eeu v.C. beoefen. Die jarelange ballingskap het Israel nog nie geleer hoe om die volk van hulle God, die Here, te wees nie. Daarom gaan die Here hulle straf soos wat hulle verdien deur hulle heidense geloof en lewe. Hulle bors/skoot wat hulle misbruik het vir die onsedelikheid met hulle diens aan die afgode, sal deur hulle vyande onteer en kasty word (om God se straf daarvoor te betaal is Jesus se mishandelde liggaam naak aan ‘n kruis gespyker; Mat 27:29-30; Luk 23:34).

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...