Hoe weet ek dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is? (2)

image_pdfimage_print

The sure road to unbelief is not rebellion but forgetfulness – Os Guinness

 

Hoe weet ek dat die Bybel die geïnspireerde Woord van God is? (2)

Kom ons kyk na vier bewyse dat die Bybel wel die geïnspireerde Woord van God is.

  1. A.Profesieë wat vervul is

Hier is ‘n lang lys. Kom ons kyk na slegs enkeles:

  • Maar jy Betlehem-Efrata, jy is klein onder die  families in Juda, maar uit jou sal daar iemand kom wat aan My behoort en Hy sal in Israel regeer. Sy begin lê ver terug in die gryse verlede (Miga 5:1). Hier kry ons dat Miga ongeveer 700 jaar voor die geboorte van Jesus Christus reeds akkuraat sy geboorteplek, Betlehem,  profeteer.
  • Ek sê vir Kores: Ek het jou as herder aangestel, jy moet my wil uitvoer, jy moet van Jerusalem sê: “Hy moet weer opgebou word en die tempel moet herstel word.” (Jesaja 44:28). Ongeveer 150 jaar later kondig Kores ‘n proklamasie af wat die Joodse ballinge in staat stel om na hulle land terug te keer en die tempel te herbou.
  • Jesus het nie minder as drie maal vir sy dissipels gesê dat Hy sal sterwe, en na drie dae weer sal opstaan. Dit gebeur presies so.
  • Hier sal nie een klip op die ander bly nie; alles sal afgebreek word (Matteus 24:2). Dit is deel van Jesus se profetiese rede waarin Hy onder andere sê dat die tempel afgebreek sal word – iets wat die Jode hewig ontstel het. In die jaar 70 nC word die tempel deur die Romeine afgebreek.

 

Hierdie is maar enkele voorbeelde van profesieë wat later vervul is.

 

  1. B.Manuskrip bewyse.

Daar is baie bewyse dat die oorspronklike manuskripte van die Bybel baie akkuraat gereproduseer is. Dit is sekerlik een van die betroubaarste werke uit die antieke tyd. In vergelyking met ander boeke is daar baie meer manuskripte. Baie van die Bybelse manuskripte word ook kort na die gebeure gedateer. Ook die kerkvaders het baie uit die Skrif aangehaal.

 

As ons die verskillende manuskripte vergelyk, is daar min verskille. Baie van die verskille is onbewus gedoen: ‘n woord of sin word herhaal of weggelaat, woorde word met soortgelyke woorde vervang, spelfoute ens. Nie een van hierdie afwykings beïnvloed enige kernelement van die woord nie.

 

Tussen 1947 – 1956 word daar in elf grotte langs die Dooie See 227 dokumente ontdek. Hulle dateer uit die jare 175 – 150 vC. Hierdie dokumente bewys dat die Ou Testament baie akkuraat behoue gebly het.

 

  1. C.Jesus Christus se siening van die Skrif

Hierna het ons reeds vantevore gekyk. Jesus sien die Skrif as die woord van God en as Seun van God moet sy siening tog baie gewig dra.

 

  1. D.Argeologiese bevindings

Baie argeologiese bevindings bevestig die geskiedkundige akkuraatheid en betroubaarheid van die gebeure wat in die Bybel beskryf word. Argeologiese bevindings kan nie sê dat die Bybel die Woord van God is nie, maar dit beantwoord wel die kritici wat beweer dat die Bybel ‘n versameling legendes  sonder enige historiese basis is.

 

Daar is oorgenoeg bewyse vir ons om te aanvaar dat die Bybel die woord van God is.

image_pdfimage_print