Hoekom sing so min mans tydens die erediens?

image_pdfimage_print

Patience is the prop, uplifting, and preservation of hope. Heinrich Bullinger

Hoekom sing so min mans tydens die erediens?

Kyk ‘n bietjie om jou en jy sal sien dat min mans sing. Hulle staan gehoorsaam terwyl die orkes speel, die ligte flits en die masjien rook uitspoeg. Die woorde word op die skerm geprojekteer … maar omtrent niemand sing nie.

 

Voor die Hervorming is “leke” nie toegelaat om in die kerk te sing nie. Hulle moes stilbly, want gewyde musiek moes deur professionele sangers – priesters en kantors –  gesing word. Ingewikkelde instrumente (pyporrels) en ‘n vreemde taal (Latyn) is gebruik. Die Hervormers gee sang terug aan die gemeente. Hulle komponeer eenvoudige wysies wat maklik was om te sing en gebruik woorde wat teologies ryk was. Omdat baie mense ongeletterd word, word sang ‘n doeltreffende manier van kategese. Lidmate leer van God terwyl hulle van Hom sing. Na die koms van die drukpers kry ons ‘n ontploffing van gemeentesang.  Die eerste liedboek word in 1532 gedruk.

Teen die middel van die 20ste eeu is daar omtrent 1 000 liedere wat in Protestantse kerke gesing word – 250 is gereeld gesing. Ongeveer 20 jaar gelede kry ons die rekenaar beheerde projeksieskerm in ons  kerkgeboue. Liedboeke word nie meer gebruik nie. Die aantal liedere word ook nie meer tot ongeveer ‘n duisend beperk nie.

Gou besef leiers dat hulle enigiets op die skerm kan projekteer. Daarom is daar elke week nuwe liedere. Die gevolg: ons gaan van 250 liedere wat almal ken na 250 000 liedere wat niemand ken nie. Jare gelede is die gemeente voorberei as hulle ‘n nuwe lied moes sing. Ek onthou nog Prof Gawie Cillie in Universitas kerk: “Die orrelis speel dit twee keer deur en dat probeer ons dit.” Ons sien dit nie meer nie.

Wat vandag in is, is môre uit – daar is nie tyd om die liedere te leer nie. Ons kry ook dat die liedere geprojekteer word sonder note – hoe moet ons die wysie leer? Daarom staan ons stil en sing nie terwyl die professionele orkes en sangers sing. Ons is terug in die 14de eeu. Martin Luther draai om in sy graf.

Wat beteken dit vir mans? Hulle voel nie meer hulle word gedruk om ook te sing nie. Maar die negatiewe gevolge is groot. Sang was een van die dinge wat ons saam in die kerk gedoen het – ‘n geleentheid om deel te neem. Mans kan nou op net een manier aan die diens deelneem – die offergawe. Die boodskap wat ons uitstuur is: sit daar, bly stil, geniet die show, moenie vergeet om jou geld te gee nie.

Dit gaan nie oor die orkes of die ligte of die rookmasjien nie – dit gaan oor familiariteit. Mense hou daarvan om liedere te sing wat hulle ken. Speel net tussen al die ander liedere ‘n bekende lied en sien hoe die mense reageer … selfs die mans.

Jammer. ‘n Bietjie oordrewe, maar soms voel ek so. Ouderdom?

 

image_pdfimage_print