Jesus se verheerliking

image_pdfimage_print

 

“ A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to everyone.” ― Martin Luther

 

Jesus se verheerliking

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy  as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

Verwys Johannes hier na Jesus se verheerliking op die berg? Sy heerlikheid was tot op daardie stadium verborge, maar by hierdie geleentheid word dit aan drie van sy dissipels geopenbaar. Jesus se verheerliking kommunikeer iets van wesentlike belang. Jesus het gekom en mens geword om onder andere God se heerlikheid te openbaar. Hier gebeur dit voor ‘n klein gehoor.

 

Ons lees van Jesus se verheerliking in Matteus 17:1 – 8. Die goddelikheid wat Jesus met sy Vader en die Heilige Gees gedeel het, was versluier tydens sy aardse bestaan. Nou is Jesus op sy finale reis na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word en weer sou opstaan uit die dood. Hy, Petrus, Jakobus en Johannes gaan saam ‘n hoë berg op. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

 

Ons sien dat Jesus se gesig verander het. Dit herinner aan Moses. Ons lees dat Moses 40 dae en 40 nagte op Sinaiberg was. Toe hy daarna van die berg afkom met die twee plat klippe met die tien gebooie daarop, het sy gesig geblink (Eksodus 34:29 – 33). Hy moes sy gesig met ‘n doek bedek het. Moses se gesig het gestraal, maar wat ons hier sien, is die lig van God wat in Moses se gesig weerkaats word. Jesus se gesig, daarenteen, straal van die heerlikheid in Hom. Uit Hom straal die heerlikheid van God (Hebreërs 1:3). Paulus het ook hierdie heerlikheid op pad na Damaskus gesien. Jesus se klere verander ook – spierwit. Daar is geen vlekkie op nie.

 

Skielik verskyn Moses en Elia saam met Jesus. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete. Petrus bied aan om drie hutte vir hulle te bou. Terwyl hy nog praat, verskyn daar ‘n wolk en daar kom ‘n stem uit die hemel: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom. Dit was God wat gepraat het. Die dissipels word bang en val op die grond neer.

 

Al drie evangelies se beskrywing van Jesus se verheerliking op die berg word voorafgegaan deur ‘n gesprek van Jesus met sy dissipels. Hy sê onder andere vir hulle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie (Matteus 16:28). Is Jesus se verheerliking dalk ‘n vervulling van hierdie profesie?

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 4:18). Lees en dink na oor hierdie vers. Dit sê dat alle gelowiges die heerlikheid van die Here weerspieël en dat ons verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word.

 

Ons hoor elke week dat die woord van God verkondig word. Luister ons na Hom? Indien nie, begin vandag nog na Hom te luister.

 

 

image_pdfimage_print