Mense van die Bybel: Kaleb

image_pdfimage_print

Mense van die Bybel: Kaleb – Coen Slabber

In Hebreërs 11 kry ons ‘n gallery van geloofshelde: Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, Ragab en vele ander. Maar daar was ook ‘n tweede linie van geloofshelde van wie ons in die Bybel lees – miskien nie so bekend nie, maar nietemin helde. In hierdie kategorie val Kaleb. Nie so bekend soos sy verkennermaat Josua nie, maar iemand uit wie se lewe ons belangrike lesse kan leer.

  1.  Wie was Kaleb?

Kaleb was die seun van Jefunne. Hy het die stam van Juda verteenwoordig. In Numeri 32:12 word Jefunne beskryf as ‘n Kenassiet. In Genesis 15:19 sluit die Here ‘n belofte met Abram. Daarin sê die Here dat Hy Kanaän aan sy nageslagte sou gee. Die beloofde land sluit in die land van die … Kenissiete. Hulle was dus nie Israeliete nie. Een van Jefunne se voorgeslagte het waarskynlik met ‘n vrou uit Juda getrou. Reeds in Eksodus 12:48 – 49 word voorsiening gemaak vir die insluiting van vreemdelinge in die volk Israel. Kaleb se broer se naam was juis Kenas (Rigters 1:13).

In 1 Samuel 25 lees ons dat Dawid na die Paranwoestyn getrek het. Daar loop hy vir Nabal raak – ‘n regte korrelkop en onbeskof. Hy was ‘n Kabeliet. Daar, in die gebied van Kaleb, ontmoet Dawid vir Abigajil, sy toekomstige vrou.

In 1 Kronieke 2:18 lees ons van Kaleb die seun van Gesron. Of dit dieselfde Kaleb is, weet ons nie. in vers 49 word verwys na Kaleb se dogter Aksa. Dit is dieselfde naam as Kaleb, die verkenner, se dogter. Dit laat sommige teoloë vermoed dat dit dieselfde persoon is.

  1.  Wat beteken die naam Kaleb?

Kaleb se naam word met dieselfde medeklinkers as kéleb, wat hond beteken, geskryf. Die algemene gevolgtrekking is dus dat Kaleb se naam hond beteken. In ander Semitiese tale verwys Kaleb na “dienaar van die Here.” 

  1.  Kaleb se geskiedenis

Toe die Israeliete naby Kanaän kom, beveel die Here vir Moses om manne uit te stuur om die land te verken: Uit elke voorvaderlike stam moet jy een stuur wat ‘n leier onder hulle is (Numeri 13). Daar lees ons dat Kaleb, seun van Jefunne uit die stam Juda een van hierdie manne was. Hy was toe 40 jaar oud. Tien van die verkenners sê dat, al loop die land oor van melk en heuning, die mense van die land sterk is en dat die stede versterk is. Daar was ook reuse – die nasate van Enak. Slegs twee verkenners, Kaleb en Josua, beveel aan dat Israel moet optrek en Kanaän in besit neem, want ons kan dit doen. Dit is interessant dat dit juis Kaleb is wat die ander tien stilmaak en  hulle (Josua en Kaleb) saak stel. Die vergadering waar hulle terugrapporteer, aanvaar nie hierdie minderheidsverslag nie en dreig selfs om hulle met klippe dood te gooi. 

Josua en Kaleb se verslag word verwerp. God straf die volk: Nie een van die manne … sal die land wat ek met ‘n eed aan hulle voorvaders beloof het, sien nie. Vir hierdie ongehoorsaamheid swerf die volk veertig jaar lank in die woestyn. Eers veertig jaar later kon hulle die beloofde land intrek. Ons lees egter: Maar omdat my dienaar Kaleb ‘n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit (Numeri 14:24). [Dit is interessant dat my dienaar as erenaam tot dusver in die Bybel net vir Moses gebruik is.]

In die Midrasj (= antieke kommentaar op ‘n deel van die Hebreeuse Skrif) word gesê dat Kaleb aan die Here toegewy was. Hy het van die ander verkenners  geskei en Hebron en die grafte van die aartsvaders op sy eie besoek. In Numeri 34:19 word Kaleb aangestel as een van die manne wat die Kanaän moes verdeel.

Juis hierdie gebied wat Kaleb deurgestap het, is die gebied wat Kaleb verlang: Gee my nou asseblief die bergwêreld. Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting gegee (Josua 14:13). Hebron was egter ‘n asielstad onder beheer van die Leviete. Later word dit verduidelik dat Kaleb die lande en die buiteposte ontvang het. Op hierdie stadium was Kaleb 85 jaar oud. Maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het (Josua 14:6 – 15). Hy verower die land wat aan hom toegeken is.

Kaleb het sy dogter, Aksa, as vrou belowe aan die man wat Kirjat-Sefer (Debir) verslaan en inneem. Otniël seun van Kenas (Kaleb se halfbroer) en stamgenoot van Kaleb het die stad ingeneem.

Ook in die Apokriewe Boeke word daar na Kaleb verwys: Die Here het vir Kaleb sterk gemaak; ja, hy was tot in sy oudag sterk. Die Here het hom sterk gemaak sodat hy die bergagtige dele kon inneem en die grond in sy kinders se besit kon kom (Die Wysheid van Ben Sirag 46:9). Ook in 1 Makkabeërs 2:56 lees ons: Omdat Kaleb voor die mense getuig het, het hy ‘n stuk land geërf.

`

In hierdie gedeelte wat ons gelees het, bely Kaleb sy geloof op ‘n besondere wyse. Hy getuig dat hy die Here getrou gevolg het en Hom vertrou het deur 45 jaar lank hoopvol uit te sien na die vervulling van sy belofte. Daarom vra hy Josua om die beloofde grond aan hom toe te ken. Soos in sy jeug, is hy op ‘n hoë ouderdom steeds bereid om gevaar te trotseer. Hy is steeds vol vertroue, al besef hy dat hy eers die Enakiete sou moes verdryf: Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het. God beloon Kaleb se getrouheid en Josua seën hom terwyl hy aan hom die grondgebied gee.

  1.  Lesse uit die lewe van Kaleb

Watter lesse kan ons uit die lewe van Kaleb leer?

Les 1: Kaleb se lewe wys dat die Here nie enkelinge vergeet wat aan Hom getrou bly nie. Hy gee aan Kaleb nie net ‘n lang lewe nie, maar ook die grondgebied wat Hy aan hom belowe het.

Les 2: Geen gevaar is vir die gelowige te groot om met die Here se krag te oorwin nie – al is dit reuse.

Les 3: Die meerderheidsmening is nie altyd korrek nie. Ons is so geneig om te vra wat kundiges of vriende of familie of die meerderheid sê voor ons besluit. Kaleb vra net: “Wat sê God vir my?”

Les 4: God kan maklik rolle in die lewe omkeer. Maar die hele vergadering het gedreig om Josua en Kaleb met klippe dood te gooi (Numeri 14:10). Kaleb, wat saam met Josua deur die vorige geslag verstoot is, word deur God beloon vir sy troue geloof – so neem ‘n hond die plek van ‘n sterk reus in.

Les 5: God handel op sy eie tyd – Kaleb moes 45 jaar wag. Ons soek vir alles net kitsoplossings. Geduld en volharding is twee deugde wat ons omkrap.

Les 6: Kaleb aanvaar dat God sy beloftes gestand sal doen. Voordat die verkenners uitgestuur word, sê die Here vir Moses: Stuur manne om Kanaän, wat Ek aan die Israeliete sal gee, te verken (Numeri 13:1). Die land was ‘n belofte wat die Here reeds aan Abraham gemaak het. Kaleb aanvaar dit.

  1.  Afsluiting

Kaleb en Josua lewer ‘n minderheidsverslag. Hoe kan twaalf manne ‘n land verken en met totaal teenoorgestelde verslae na vore kom? Dit gaan oor ons gesindheid teenoor God en sy beloftes. Kaleb se geloof word nie deur Israel se vermoë om die land in te neem, bepaal nie. Nee, hy vertrou op God.


Verwysings:

Comfort, P. W. En Elwell, W. A. (redakteurs): Tyndale Bible Dictionary. Tyndale House Publishers, Inc., 2001.

Van der Watt, Jan en Tolmie, Francois: Apokriewe Ou en Nuwe Testament. Christelike Uitgewersmaatskappy, 2005.

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

image_pdfimage_print