Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

image_pdfimage_print

We are more concerned about looking stupid (a fear of people) than we are about acting sinfully (fear of the Lord). —Ed Welch

 

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (3)

Ons gaan hierdie jaar begin deur meer in diepte na die Apostoliese Geloofsbelydenis te kyk. Ek gaan onder andere van Derek Vreeland se Primal Credo (2011) gebruik maak.

 

Vader: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde

 

Die belydenis begin met vier lewensveranderende woorde: Ek glo in God … Die res van die belydenis vloei uit hierdie stelling voort. Om te glo dat God bestaan, beïnvloed ons elke gedagte, ons optrede en ons verhoudings. Hy is almagtig en staan oor en bokant die aktiwiteite van die mense op aarde. Geen verhouding met Hom is moontlik voordat ons eers glo dat Hy bestaan nie. Maar om te sê ons glo in God en om Hom toe te laat om ons lewens te vorm, is twee verskillende dinge. Die belydenis lei ons om meer van hierdie God in wie ons glo, te ontdek.

 

In hierdie openingsreël is daar twee basiese beskrywings van God: Hy is Vader en Skepper. Dit wys vir ons dat die God in wie ons glo, leef in verhoudings – Hy is Vader. Hy is nie ‘n beweginglose God nie. God die Vader wys vir ons Hy is ‘n persoonlike God – nie ‘n abstrakte geestelike energie nie; nie ‘n stel idees of beginsels nie. Ons kan Hom ken. God as Skepper wys vir ons Hy is magtig en aktief – Hy skep.

 

Ons leer baie van God as ons sy handewerk in die skepping bestudeer. Dit het egter ‘n Persoon vereis om vir ons te wys dat God ook ‘n Vader is. As Jesus mense geleer het oor God se koninkryk of oor hoe om te bid, verwys Hy na God as Vader: Ons Vader in die hemel … Ander godsdienste beskryf hulle god as magtig en verhewe, maar nie as ‘n vader nie.

 

Om te verhoed dat ons nou nie te familiêr word met God nie, herinner die belydenis ons daaraan dat Hy die Almagtige is. God se krag kan nie deur mensgemaakte grense aan bande gelê word nie. Ons kan Hom nie manipuleer nie; ons kan Hom nie dwing om te doen wat ons verlang nie. Dit beteken nie dat ons in vrees moet wegkruip nie – Hy is mos ons Vader.

 

God is die magtige Here van hemel en aarde, maar dit beteken nie dat ons Hom nie kan nader nie. Ons kan Hom nader, met Hom praat, na Hom luister en Hom ken. Jesus het God aan ons geopenbaar, nie as ‘n rots soos ons in die psalms lees nie, maar as ‘n Persoon. Daarom kan ons ‘n persoonlike verhouding met God hê, maar dan moet ons verstaan dat Hy die Vader en die Almagtige is. Ons verhouding met Hom is op sy voorwaardes en volgens sy waardes.

 

Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik (Jesaja 40:28) As ons glo dat God die Skepper van hemel en aarde is, ontdek ons betekenis in die lewe.

 

image_pdfimage_print

You may also like...