Dink nuut oor God se wil (1)

image_pdfimage_print

It is better to have loved and lost than never to have loved at all ­– Alfred Lord Tennyson

Dink nuut oor God se wil (1)

Frank Viola (Rethinking the will of God) het ‘n baie interessante siening oor die wil van God. Dit laat ‘n mens waarlik weer dink.

Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse (1 Korintiërs 14:20).

Baie Christene sien die wil van God as ‘n treinspoor. God het ‘n plan tot in die fynste besonderhede uitgewerk vir my lewe. Ek is op ‘n treinspoor en kan nie links of regs afwyk nie. Sou ek wel afwyk gaan ek op ‘n plek beland waar ek nie wil wees nie.

As dit so is, hoe sou ek dan God se wil ontdek? Deur die Skrif te bestudeer, my innerlike gevoelens (gewete) te volg en deur die uitwendige tekens om my te dekodeer.

Hierdie siening van God se wil is nie waar nie. Hoekom nie?

  • Dit is nie wat die Bybel sê nie. Die Bybel gebruik die wil van God op vier  maniere:
  1. oGod se ewige wil – sy sentrale doel. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring (Efesiërs 3:10 – 11). Ons het die voorreg om die geheim van die skepping en die wilte ken en daarvolgens te leef.
  2. oGod se soewereine wil. Ook genoem God se toelatende wil. Dit is verborge vir die mens, behalwe as God dit aan ons openbaar. As iets gebeur is dit sy wil, want Hy het dit gesien en dit toegelaat.
  3. oGod se morele wil. Dit is sy begeerte vir die optrede van mense. Hierdie wil is aan ons geopenbaar en dit geld vir alle mense op dieselfde manier. Sy toelaatbare wil laat byvoorbeeld toemense sy toenadering verwerp.
  4. oGod se wil om sy gawes en roeping te versprei. Hy is die Hoof van sy kerk en hy bepaal die plek van elke lid van sy kerk. Dit verskil van persoon tot persoon.

God se wil verwys nooit na ‘n spesifieke, individuele plan wat van persoon tot persoon verskil nie.

  • Hierdie siening is onleefbaar. Ons maak tallose besluite elke dag – ek gaan nou opstaan, ek gaan dit aantrek … Niemand van ons vra vir die Here wat sy wil ten opsigte van hierdie besluite is nie en wag dan tot Hy sy wil aan ons openbaar nie.
  • Hierdie siening moedig onvolwassenheid aan. Ons kan nie soos Gideon vra dat dat God net op ‘n stukkie vlieswol dit laat dou nie (Rigters 6). Ons kan ook nie meer die lot gebruik nie, want na die uitstorting van die Heilige Gees lees ons nie meer dat die lot gebruik word nie. Nou speel ons maar Russiese roulette – laat die Bybel oopval en sit jou vinger op ‘n vers. Dit sou dan God se wil wees. Dit is ‘n onvolwasse siening van God se wil.
  • Hierdie siening lei tot skuldgevoelens, vrees, twyfel en verwarring. As ons voel ons het ‘n besluit nie volgens God se wil geneem nie, voel ons skuldig – ons is dan nou kwansuis nie “geestelik” genoeg om God se leiding op elke besluit te kry nie. As ons later sou uitvind dat ‘n teken of innerlike indruk nie van God gekom het nie, oorweldig vrees ons.
  • Hierdie siening nie ooreenkomstig God se verhouding met sy mense nie. God se verhouding met sy mense kan in drie beelde beskryf word:
  • oSkaapwagter – lei Hy ons in ‘n gevaarlike gebied, bly Hy elke oomblik by ons en lei ons uit gevaar. Lei Hy ons na groen weivelde, gee Hy aan ons vryheid van keuse – Hy sê nie vir ons watter graspol ons moet eet nie.
  1. oKoning – Hy gee aan sy mense geestelike beginsels vir hulle lewens, maar binne hierdie beginsels is daar baie ruimte vir beweging.
  2. oVader – ‘n vader gee baie opdragte aan kinders as hulle nog klein is, maar hy verwag hulle moet volwasse word. Hoekom? Om besluite in ooreenstemming met sy wil te kan neem.

 

Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. Moenie onverstandig wees nie, soos ‘n perd of ‘n muil wat met ‘n stang in die bek beteuel moet word as jy hom wil lei (Psalm 32:8 – 9). ‘n Perd het geen onderskeidingsvermoë of oordeel nie. Daarom moet hulle met ‘n stang en teuel gelei word waarheen hulle moet gaan. Ons volg so graag leiers wat van ons ‘n perd maak – links … regs … vorentoe … Ons wil hê dat God ons met ‘n stang en teuels lei. Maar dit is nie wat God van sy kinders verwag nie. God het immers vir ons verstand gegee.

Broers, moenie in julle denke kinders wees nie. Wees onvolwasse in die slegte dinge, maar in julle denke volwasse (1 Korintiërs 14:20)

God se wil vir ons is nie soos ‘n treinspoor nie – eerder soos ‘n parkeergebied. Daarna gaan ons volgende keer kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...