My identiteit (2)

image_pdfimage_print

 

Fall in love with Jesus, stay in love with Jesus and that will decide everything – Pedro Arrupe

 

My identiteit (2)

Ek gaan ‘n aantal blogs aan Tim Keller se nuwe boek Making Sense of God: An Invitation to the Skeptical spandeer. Hy wys dat die Christelike geloof in alle opsigte – emosioneel, kultureel en rasioneel – meer sin maak as die siening van ons moderne wêreld.

 

Identiteitsvorming in ons moderne kultuur is nie sonder sy probleme nie. Kom ons kyk na ‘n paar.

 

  1. Moderne identiteit is onsamehangend

As jy in jou hart kyk om jou diepste begeertes te vind, gaan jy baie van hulle kry. Jy gaan nog iets ontdek – van hulle weerspreek mekaar. Nie alleen is ons begeertes teenstrydig nie, maar hulle is ook ontwykend en verander voortdurend. Daarom is die tradisionele manier om jou identiteit te vorm deur met iets solied buite jouself te verbind die korrekte een.

 

  1. Moderne identiteit is bedrieglik – ‘n illusie

Ons kultuur sê vir ons dat ons in onsself moet kyk en so ons begeertes en drome ontdek. Jy moet dit self doen en nie na iemand van buite kyk om dit te bevestig nie. Moenie na standaarde van buite kyk nie; jy self bepaal jou eie betekenis. Dit is onmoontlik. Jou identiteit moet tot ‘n groot mate van ander kom. Ons het iemand van buite nodig om te sê dat ons waardevol is. Die mens is ‘n sosiale wese. Ons moet eers buite onsself kyk en met iets verbind voordat ons in onsself kan kyk en ‘n beoordeling maak. Dit is ‘n illusie om te dink dat jou identiteit slegs ‘n uitdrukking van jou innerlike begeertes en gevoelens is. Jy mag baie gevoelens hê, maar dit beteken nie dat jy aan almal uitdrukking kan gee nie. Ons gebruik ‘n filter om te besluit watter ons in ons identiteit gaan insluit. Waar kry ons hierdie filter? By mense wat ons vertrou. Ons moet ons oortuigings van iewers kry. Meestal tel ons dit onbewus by ons kultuur of gemeenskap op. Ons kan nie ‘n identiteit ontdek of skep in isolasie nie Ons kry dit deur ‘n dialoog met die morele waardes en oortuiging van ons gemeenskap.

 

  1. Moderne identiteit is vernietigend

Die oënskynlike vryheid van  wêreldse identiteit bring ‘n neerdrukkende las vir ons. Moderne mense sien dit as ‘n verleentheid om getrou en nie suksesvol te wees nie. Sukses of mislukking word as slegs die individu se verantwoordelikheid gesien. Daarom moet ons onsself bevorder. Hierdie selfgemaakte identiteit wat op ons prestasies berus, veroorsaak dat ons selfwaarde meer breekbaar is as gevolg van mislukking.

 

  1. Moderne identiteit veroorsaak breuke

In tradisionele kulture is ons belangrikste verhoudings belangriker as individuele selfbelang, want ons identiteit hang daarvan  af of ons die verhouding eer. In ons moderne kultuur is ons belangriker as enige sosiale band. As jy tevrede is met die verhouding, hou jy dit net so lank as dit jou tevrede hou. Onvoorwaardelike verhoudings wat veronderstel is om lewenslank te hou, maak dus nie sin nie. Gemeenskappe word nou sosiale netwerke – mense verbind met mense soos hulleself op ‘n verbygaande basis. Ons sien dit in huweliks- en familiebande wat vandag selde lank hou.

 

Maar as die moderne identiteit soveel probleme skep, wat is dan die alternatief? Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

image_pdfimage_print