‘n Heilige lewe (2)

image_pdfimage_print

Blog150a

Without worship you shrink; it’s as brutal as that – Peter Shaffer

 

 ‘n Heilige lewe (2)

In die werklike lewe word die najaag van heiligheid deur die krag van die Gees en deur die evangelie gedryf en deur geloof aangevuur.

 

  • Deur die krag van die Gees

In 1 Petrus 1:2 lees ons dat ons deur die Gees afgesonder is om aan Hom gehoorsaam te wees. Die Gees sonder ons nie net af nie, maar maak ons progressief heiliger sodat ons al meer soos Christus word. Hier dink ons aan twee Bybelse beelde van die Gees:

  • Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word (Efesiërs 3:16). Die Gees is aan die werk binne in ons. Hy gee aan jou die wil om sonde te weerstaan. Die Gees gee aan ons die krag om te doen wat ons nie op ons eie kon doen nie.
  • En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde en dat die reg aan my kant is en dat die oordeel al gekom het (Johannes 16:8). Hier sê Jesus dat Hy die Gees sal stuur om die wêreld van hulle sonde, geregtigheid en die oordeel te oortuig. Die Gees gaan die wêreld se opstand blootlê. Die Gees skakel die ligte aan sodat ons kan sien dit waarvoor ons tot dusver nog blind was. Baie mense hou van die donkerte, want hulle dade is boos.

Sonde hou nie van die lig nie. Maar die Gees openbaar ook die waarheid en die heerlikheid van Christus. Dit vestig ons aandag op Jesus Christus.

Die Gees maak ons heilig deur ons sondes te openbaar, die waarheid te openbaar en om Christus te openbaar. Die Gees is ons krag en ons lig.

 

  • Gedrewe deur die evangelie

Die najaag van heiligheid vloei uit die evangelie. Maar hoe vloei dit?

  1. Die evangelie dryf ons na heiligheid uit ‘n gevoel van dankbaarheid. Dit is die punt van Romeine 12:1: En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Dit beteken nie dat ons vir God betaal vir wat Hy vir ons gedoen het nie. Nee, dit is ons reaksie op God se genade – dankbaarheid. Die nederigheid en blydskap wat saam met dankbaarheid kom, dryf al die ander lelike dinge uit.
  2. Die evangelie dryf ons na heiligheid, want dit vertel vir ons die waarheid oor wie ons is. Ons moet terugveg teen die bose met die waarheid van die evangelie. Onthou: Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Jesus Christus is nie (Romeine 8:1). Omdat die Gees van Hom deur wie Jesus uit die dood opgewek is, in julle woon, sal Hy deur wie Christus uit die dood opgewek is, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (Romeine 8:11). Onthou: ons is kinders en erfgename van God; onthou: niks kan ons van die liefde van God skei nie. Die evangelie motiveer ons deur ons te herinner wie ons is. Die goeie nuus van die evangelie is dat dit maak nie saak hoe ons gebore is nie, maar ons is anders na ons weergeboorte. Die evangelie dryf ons na heiligheid.

 

  • Deur geloof aangevuur. Maar jy, man van God, moet van hierdie dinge af wegvlug. Streef na geregtigheid, ‘n persoonlike verhouding met God, geloof, liefde, volharding, minsaamheid. In die goeie stryd van die geloof moet jy al jou kragte inspan en vashou aan die ewige lewe (1 Timoteus 6:11 – 12).

 

Die stryd om in heiligheid te groei word aangevuur deur geloof in die evangelie, geloof in ons identiteit in Christus, geloof in God se woord en geloof in sy beloftes. ‘n Heilige lewe is altyd een van geloof. Ek glo nie net my vryspraak nie, maar ook al God se beloftes. Dan tree ek op wetende dat dit die waarheid is.

 

 

 

image_pdfimage_print