‘n Stryd wat keuses vereis

image_pdfimage_print

“When people show you their boundaries (“I can’t do this for you”) you feel rejected…part of your struggle is to set boundaries to your own love. Only when you are able to set your own boundaries will you be able to acknowledge, respect and even be grateful for the boundaries of others.” – Henri Nouwen

 ‘n Stryd wat keuses vereis

Die mens is nie ‘n hulpelose slagoffer wat tussen twee groot leërmagte vasgevang is nie. Die mens is immers na die beeld van God gemaak (Genesis 1:27). Elkeen van ons het ‘n liggaam wat sal sterf en ‘n siel wat nie sterf nie. Moenie bang wees vir dié wat die liggaam doodmaak, maar nie die siel kan doodmaak nie. Nee, vrees Hom eerder wat sowel die liggaam en die siel in die hel kan laat vergaan (Matteus10:28).

 

Die mens kan ‘n keuse maak oor wie hy wil aanbid en dien – ons moet tussen die ware God en die vals gode kies. Kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien (Josua 24:15). Toe Jesus by Marta en Maria kuier, sit Maria aan sy voete. Maria het die beste deel gekies (Lukas 10:42).

 

Versoekings is deel van ons lewens. Hoe jammer tog vir die wêreld dat daar dinge is wat die mens afvallig maak! Sulke dinge kom noodwendig (Matteus 18:7). Daarom moet die mens ‘n keuse maak tussen die goeie en die bose, tussen God en die Satan. Wat God van ons verwag is duidelik: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here, Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, en met al jou krag (Deuteronomium 6:4 – 5). Maar dit gebeur nie sommer outomaties nie – ons moet kies: Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe (Deuteronomium 30:19).

 

God stel nie belang in liefde wat afgedwing word nie. Hy maak mense wat kan kies om Hom lief te hê: Maar daar kom ‘n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in waarheid sal aanbid,  want die Vader wil juis hê dat die mense wat Hom aanbid dit so moet doen (Johannes 4:23-24).

 

God, omdat Hy die ware God is, soek ware aanbidders. Satan probeer om hierdie aanbidders van God weg te rokkel, sodat hulle hom sal aanbid. Die Ou Testamentiese verhaal van Job gaan oor aanbidding en dien. Job het God aanbid en gedien. Satan wou egter nie aanvaar dat Job ‘n ware aanbidder van God is nie. Die duiwel (= aanklaer) beskuldig Job dat hy God weens selfsugtige en vals redes aanbid. Die duiwel beskuldig vir God dat Hy vir Job teen swaarkry beskerm. God laat die duiwel toe om vir Job te toets: Alles wat hy het, gee Ek in jou mag oor. Net aan hom self mag jy nie raak nie (1:12); Goed hy is jou mag. Net sy lewe mag jy nie neem nie (2:6). Let op dat God in beheer bly en die duiwel se mag beperk – die duiwel kan nie doen net wat hy wil nie.

 

Job verloor sy rykdom en famile en ontwikkel pynlike swere. Hoe reageer Job? Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here (1:21). Niks kon verhoed dat Job die Here aanbid nie. Hy staan by sy keuse. Het ek al die keuse gemaak en staan ek vas by daardie keuse?

 

 

image_pdfimage_print