Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande

image_pdfimage_print

Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande – Coen Slabber

Ongeveer 30 miljoen stukke bagasie word jaarliks deur lugrederye verloor. Al hierdie stukke wat nie opgeëis word nie, beland uiteindelik in die Unclaimed Baggage Center in Scottsboro, Alabama. Hier kan mense hierdie stukke koop teen winspryse. Een kliënt beskryf dit as ‘n skattejag. Ongeveer 7 000 nuwe items kom elke dag daar aan.

Hierdie verlore bagasie herinner ons aan Prediker 5:9 – 19. Hier lees ons: As jy lief is vir geld, sal jy altyd nog meer wil hê. As jy baie besittings wil hê, sal jy nooit genoeg kry nie. Rykdom is nie die oplossing van ons probleme nie. Die ryke slaap maar min, want hy is altyd oor sy besittings bekommerd. Die arm werker slaap altyd lekker – of sy maag nou vol is of nie. As ons geld opspaar, bring dit vir ons probleme – jy kan alles binne ‘n oogwink verloor. Dan volg die vers waarmee ons begin het: Net soos hy met leë hande die wêreld ingekom het, verlaat hy dit ook weer met leë hande. Het dit enige nut om so hard te werk en te spaar?

As ons die bymekaarmaak van geld as belangrik sien – iets wat ons moet nastreef –  dan begin ons goed in plaas van vir God aanbid. Om te begeer, word dan ‘n lewenswyse. Dit is ongelukkig ‘n dors wat nooit versadig kan word nie. As ons dus oor geld en materiële dinge praat, is die Bybelse waardes eenvoud en tevredenheid.

Is tevredenheid sonder baie geld en goed moontlik? Die Prediker glo so: Die allerbeste ding wat met ‘n mens in sy lewe kan gebeur, is om te eet en te drink en die goeie dinge tussen al die swaarkry deur  te geniet. Let wel: hierdie is nie goed nie – dit is die allerbeste ding. Is rykdom dan verkeerd? Nee: Wanneer God die mens rykdom gee en hom boonop toelaat om dit te geniet en hom vreugde tussen al die swaarkry hier op aarde gee, is dit ‘n spesiale geskenk van God.

Wat is die belangrikste ding in my lewe? Alles wat God uit die middelpunt van my lewe verplaas, is vir my ‘n afgod. As dit geld is, sê die Prediker: Dit is sinloos. Alles kom tot niks. Vir baie mense is jou inkomste, jou huis, jou kar en jou status baie belangrik. Dit frustreer jou, want daar is altyd iemand wat meer kry as jy, wie se huis en kar groter is as joune en wie ‘n hoër status as jy het. Luister hoe sluit die Prediker hierdie gedeelte af: As God hom bly en gelukkig maak, dink hy glad nie aan hoe kort en swaar die lewe is nie. Wees tevrede.

[Aanhalings kom uit Die Boodskap.]

 

Skrywer: Dr Coen Slabber

 

image_pdfimage_print