Nooi iemand uit om ‘n erediens by te woon

image_pdfimage_print

The church doesn’t need members. It needs disciples. If people want to be members but not disciples, their absence is a blessing, not a curse. – Jim West

 

Nooi iemand uit om ‘n erediens by te woon

Jy kan ‘n verskil in iemand se lewe maak deur hom/haar uit te nooi om ‘n erediens saam met jou by te woon. Soms voel dit ongemaklik. Daar is drie dinge wat jy in gedagte moet hou as jy iemand uitnooi.

 

  1. Almal van ons gaan ons ewigheid iewers deurbring

Iemand sal jou eendag bedank omdat jy hulle nie aan hulleself oorgelaat het nie. Die ewigheid is ‘n werklikheid – hierdie feit moet ek met erns bejeën. Maar kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek … Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:14, 17).

 

Jakobus stel dit so: Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn … Maar nou is julle te seker van julleself en praat julle groot. Alle grootpratery is verkeerd. As iemand weet wat die regte ding is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde (Jakobus 4:13 – 17).

 

  1. Ek moenie “NEE” vir iemand sê nie

Ons weet nooit wat in hulle lewens aangaan nie. Miskien is dit juis nou die beste tyd om hulle te vra. So dikwels besluit ons sommer dat dit geen doel gaan dien om iemand uit te nooi nie – hy gaan in ieder geval nee sê. Dalk dink hy ek is gek om met hom oor sulke dinge te praat. Dalk bid ek dat iemand anders hom sal uitnooi. Baie mense is net een uitnodiging weg van ‘n erediens bywoon. Moenie nee sê om mense uit te nooi as Jesus ja sê dat ons hom moet uitnooi nie.

 

  1. Ek is aanspreeklik om mense te nooi, maar ek is nie verantwoordelik vir hulle antwoord nie

Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Filippense 4:13). Ons weet nooit wat God besig is om te beplan nie As jy iemand in gedagte het, is dit God se stem wat met jou praat. As God my roep, sal Hy my deur dit alles lei. Die resultate van jou bediening hang nie van jou af nie.

 

Skep jou gemeente ‘n omgewing waar mense kan kom en die boodskap van Jesus Christus kan hoor op ‘n manier wat hulle verstaan? Gee ons genoeg om vir hulle wat nog buite die gemeente staan om hulle in te nooi? Spandeer tyd in gebed en vra vir God wie jy moet uitnooi om ‘n erediens by te woon.

 

 

image_pdfimage_print