Ons moet mekaar bemoedig

image_pdfimage_print

 

Modern church worship is characterized by an exaltation of the self, but authentic worship is marked by an emptying of ourselves. —Jared Wilson

 

Ons moet mekaar bemoedig

Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen (1 Tessalonisense 5:11)

Sy naam was Josef, maar die apostels het hom Barnabas genoem – dit beteken iemand wat mense moed inpraat (Handelinge 4:36). Sou dit nie wonderlik wees om so ‘n persoon te wees nie. Moed is die gewilligheid om ‘n bedreiging te aanvaar. Moed word deur hoop – die hoop vir iets sterker as dit wat ons vrees – aangevuur.

 

Ontmoediging tree in as die hoop vervaag – ons word bang. As dit gebeur het ons weer hoop nodig. Dit is wat bemoediging is. Barnabas het mense oortappings van hoop gegee. Dit het hulle in staat gestel om in die geloofstryd te volhard. Ons het Barnabas-mense nodig. Ons moet self ‘n Barnabas wees.

 

Ons word verdrink in ‘n see van ontmoediging: kritiek, misdaad, armoede … Dit is die taal van ons hedendaagse wêreld Bemoediging is maar skaars. Al die ontledings wat ons hoor, is negatief. Die oorvloed negatiwiteit is deels die gevolg daarvan dat ons trotse harte geoefen is om die swakhede, foute en sondes van ander raak te sien. Ons soek vir hulle. Geen wonder ons almal soek hoop nie. Om te oorleef, het ons kritiese onderskeiding nodig.

 

Bemoediging is geestelike oorlogvoering. As ons iemand wil bemoedig moet ons eers teen Satan en ons eie sonde veg. Satan is gedurig besig om ons te ontmoedig: hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het (Openbaring 12:10). Sy nalopers is gedurig besig om brandpyle na ons te gooi (Efesiërs 6:16). Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die stanvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4).

 

Josef is Barnabas genoem waarskynlik omdat hy ‘n oog gehad het om onder alle omstandighede God se genade raak te sien. Hy het volhardend in God bly hoop. As sy vriende mismoedig geword het, het hy hulle aan God se beloftes herinner sodat hulle hoop weer opgevlam het. Ons het weer Barnabas-mense nodig.

 

Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U (Psalm 119:11). Dit is Barnabas-mense. Dit is mense wie se lewens steeds deur die Gees van God beheers word (Galasiërs 5:16). En as hulle dan praat? Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). Hou op om mekaar gedurig te kritiseer.

 

Om ‘n Barnabas-mens te word, vereis dat ons God moet vra om ons in mense van bemoediging te verander. Dan sal almal wat ons pad kruis meer bemoedig weggaan as wat hulle daar aangekom het.

 

 

image_pdfimage_print