Laat sy Liefde jou Lei: Leef … ook in winterhart-tye

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Leef … ook in winterhart-tye – Milanie Vosloo

Lééf … ook in winterhart-tye

Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. 1 Timoteus 6:12a

Min van ons hou van die winter. Koue klim mos pens en pootjies binne in ons lywe. Net so is dit allermins lekker wanneer winter in ons harte kom woon het. Wanneer die yswinde dreig om ons harte stukkend te waai en ons uitgelewer voel aan die wêreldse wreedheid, wil ons mos sommer net ‘n donskombers oor ons kop trek en wens dat alles wat ons omkrap, sommer net sal verdwyn …

Hieroor sê Coenie Burger: As die “wintertye” om ons dreig, kan ons onthou dit is nie die einde van die wêreld nie. Dit beteken maar net dit is weer tyd om nie net te lewe nie, maar om te leer ván die lewe; om nie net te glo nie, maar om te leer glo.

Miskien is jou hart op die oomblik, ondanks die temperatuur daar buite, op ‘n vriespunt. Dinge soos verliese, konflik, uitermatige spanning, aanhoudende bekommernis en sieldodende depressie is nooit lekker nie. Maar miskien is dit juis nóú die tyd om meer as ooit by jou Vader se voete te sit en om Hom te vra:

Here, leer my om, te midde van alles om my, te lééf. Hou my brose hart in u hand vas en wys my sagkens die pad wat ek moet loop. En Vader, help my om juis nou te gló: om met alles in my onwrikbaar te wéét: U is my getroue Vader-God.

Ek weet U ís getrou – selfs ook in my grootste nood, liewe Heer.

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za 

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...