Paulus word nie moedeloos nie

image_pdfimage_print

I will not believe that you have tasted of the honey of the gospel if you can eat it all by yourself. —C.H. Spurgeon

Paulus word nie moedeloos nie

Veroudering en agteruitgang kan ons ontmoedig – veral diegene sonder hoop op opstanding en transformasie. Die Grieks-Romeinse kultuur van destyds het geglo daar is ’n dood eens en vir altyd, maar geen opstanding nie. As ons dink aan Paulus se ouderdom en al sy ontberings sou ons verwag dat hy wanhopig wag om te sterwe. Allermins. Nee, doelbewus verklaar hy: Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie (2 Korintiërs 4:16). Hoe kan hy so iets sê? Hy gee nou vir ons die redes.

  • Hy is verseker van ’n innerlike beloning

Al is ons uiterlike besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons liggame gaan agteruit. Paulus beskryf hier nie soseer fisiese agteruitgang as sodanig nie. Hier is nie ’n teenstelling tussen uiterlike (liggaam) en innerlike (siel) nie. Innerlik en uiterlik verwys na die hele mens. Uiterlike verwys na ons status in Adam as deel van die teenswoordige tyd; innerlike verwys na ons status in Christus. Paulus sê die ou sondige mens is besig om te vergaan terwyl ons nuwe self in Christus dag tot dag vernuwe word. Paulus sê ons leef nou die lewe van ’n nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God (Kolossense 3:10). Die finale “nuwe mens” gebeur by Christus se wederkoms wanneer die hele mens verander sal word na die beeld van sy Skepper. Paulus skep moed, want tussen al die swaarkry en lyding van sy bediening word die ou mens progressief afgetakel en word hy heropgebou na die beeld van Christus. Paulus se ondervinding is ’n templaat vir ons lewe in Christus. Die aftakeling is tipies nie mooi nie, maar die transformasie is pragtig.

  • Heerlikheid

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. In 2 Korintiërs 1:8 het Paulus gesê dat die swaarkry wat hy in Asië ondervind het, het vêr bo ons kragte gegaan. Hier is daar nou ’n nuwe siening: heerlikheid. Hierdie heerlikheid oortref alles en bly vir ewig. Die swaarkry wat soos ’n swaar gewig om sy nek gehang het, se gewig is nou niks in vergelyking met die ewige heerlikheid nie.

Toe Paulus beproef is, het hy nie sy gedagtes gefokus oor hoe swaar die swaarkry was nie, maar op hoë swaar die heerlikheid sou wees as gevolg van die swaarkry. Ons tydelike swaarkry berei ons voor vir die ewige heerlikheid. Moenie moedeloos word nie.

  • Toekomstige perspektief

Paulus volhard, want hy kyk verby die huidige, tydelike dinge na die toekoms. 18Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. Alles wat ons met ons oë sien is tydelik – ons besittings tot die wêreld. Die onsigbare is ewig – die Drie-eenheid, die beloftes van God wat nog vervul moet word, die hemel.

Die tragedie is dat ons ons oë vir die onsigbare verloor het en glo en hoop en werk in die sigbare. Paulus fokus op die onsigbare dinge wat nog moet kom – die toekomstige opstanding. Vir hom was die graf leeg; die sekerheid van die opstanding was onvermydelik. Dit het die manier waarop hy geleef het bepaal. Sy toekoms vorm sy lewe en bestemming.

Saam met sy toekomshoop was sy hoop op toekomstige transformasie. Hy word nie moedeloos omdat hy as ou man besig is om uiterlik te vergaan nie. Hy besef dat innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Hy kyk met afwagting vooruit na sy finale transformasie by Christus se wederkoms.

Ons toekomshoop bepaal hoe ons vandag lewe. Waarvoor leef ons? Dit is nooit te laat om dit reg te stel nie. Moenie jou lewe mors nie.

image_pdfimage_print

You may also like...