Psalm 18 (6)

image_pdfimage_print

 

The fear of God is the death of every other fear; like a mighty lion, it chases all other fears before it. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 18 (6)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer, want dit is een van die langste psalms in die Bybel.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese implikasies

Hier is geen aanduiding dat die psalm verwys na iets wat God in die toekoms gaan doen of dat dit na iemand in die toekoms verwys nie. Dit is nie Messiaans nie. Dit is ‘n uitdrukking van dankbaarheid vir iets wat God vir die militêre leier van Israel gedoen het. Hierdie persoon is die koning en nie ‘n generaal soos Joab nie.

 

God het vier dinge vir hierdie koning – waarskynlik Dawid – gedoen.

  • Hy het hom van ‘n spesifieke vyand gered.
  • Hy red hom van sy vyande in die algemeen.
  • Hy stel hom in staat om sy vyande te vernietig.
  • Hy laat ander mense hom erken.

Dit pas in met die verhaal van Dawid soos ons dit in Samuel-Konings kry.

 

Hoe het Dawid dit reggekry?

  • Hy kon gevaar voorsien.
  • Hy het goeie vriende en offisiere gehad.
  • Hy was ‘n goeie generaal en dapper.
  • Die Here het vir hom gesê wat om te doen.
  • Hy het die Here vertrou.

 

Hierdie psalm is grotendeels ‘n verslag van die Here en sy optrede. Die klem val op God se betrokkenheid.

 

Maar verlossing roep om ‘n antwoord. Die verloste kan nie anders as om God te loof nie. Die grootste wat hy in sy getuienis en in sy lofprysing kan meld, is: Die Here leef! Hy lewe en Hy kan help. Dit is immers die God wat ‘n rots, ‘n skuilplek en ‘n redder is wat aan sy koning groot oorwinnings gee.

 

Waarom kan ons op die Here vertrou? Hy is ‘n magtige krygsman voor wie die hele skepping moet buig. As Hy verskyn, kom alles in beroering. As sy kinders om hulp roep, trek God uit om hulle te help. As die Here in sy almag verskyn, kom die aarde in beroering: Die aarde het geskud en gebewe, die fondamente van die berge het getril en geskud. Rook…vuur…gloeiende kole is sy wapens. Onreg en goddeloosheid maak die Here kwaad. Hy tree daarteen op. Hy oordeel almal wat sy kinders laat ly. Wee die een wat in sy pad staan. Die mense van die Nabye Ooste het geglo dat die natuurkragte die speelgoed van die gode was.

 

Ook die hemel kom in beroering voor God: Hy het die hemel afgebuig en afgekom. Hy is nie beperk tot die hemel nie. Hy voer sy heerskappy op aarde uit. Hy daal neer na die aarde toe om die vyand hier, in sy sogenaamde sterk vesting, aan te durf. Hy klim op ‘n gerub; Hy sweef op die vleuels van die wind. Hy gebruik die donkerte en die wolke-massas om sy vreesaanjaende koms te verberg. God bly onsigbaar. Al wat die mens sien, is die vreesaanjaende natuurverskynsels.

 

Hoekom kan ek op God vertrou? Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. In woord en daad het die Here getoon dat Hy betroubaar is. Hy doen wat Hy sê. Daarom weet ek: Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Hy alleen is God, net Hy is ‘n bron van sekuriteit. Wie anders as God is ‘n rots?

 

Hierdie God stel my in staat om my vyande te oorwin. Dit is nie ek wat die oorwinning behaal nie, maar God. Elke oorwinning wat ek behaal, kom van Hom af. Die psalmis loof God vir die toerusting wat Hy aan hom gegee het om sy taak te verrig. God gee krag, laat hom stewig staan, skenk voorspoed en leer hoe om oorlog te maak met die groot boog. Die digter ontvang nog meer: verlossing, beskerming, ondersteuning, ‘n behoorlike staanplek en krag. Nou kan hy sy eie verantwoordelikheid in die lewenstryd aanvaar.  God help, maar die mens mag nie stilsit nie. Ons is medewerkers van God.

 

Die boodskap van Psalm 18 is eenvoudig maar aangrypend: Die Here help in nood. Daar is baie gevare, baie vyande wat ‘n kind van God bedreig. Sommige dae staar ons selfs die dood in die gesig. Maar ons weet: God is vir ons ‘n bron van sekuriteit. Hy help ons om ons probleme en ons hartseer en ons swaarkry storm te loop en te oorwin. Daarom moet ons Hom loof voor die nasies – tot eer van sy Naam ‘n lofpsalm sing!

 

image_pdfimage_print