Psalm 25(2)

image_pdfimage_print

 

When men stop believing in God, they don’t believe in nothing; they believe in anything – G.K.Chesterton

 

Psalm 25(2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

25:4 – 7:

Hierdie gedeelte sluit twee pleidooie in: een vir onderrig/leiding en een vir vergifnis.

4Here maak u paaie aan my bekend; leer my u weë.

5Lei my deur u waarheid

Maak aan my bekend, leer my … lei my. Hierdie drie werkwoorde dui op meer as onderrig sodat iemand iets kan verstaan. Dit gaan hier oor onderrig wat die lewe beïnvloed. Hierdie is ‘n versoek aan die Here om leiding te gee. In die proses verwys die psalmis na die Here se trou en standvastigheid.

 

En leer my. Want U is die God wat my red; op U wag ek die hele dag.

Omdat U die God is wat my voortdurend red, wag ek die hele dag op U. God is die God wat red. Ek kan wag, want ek weet dat die Here sal verlos.

 

6Dink aan u barmhartigheid en troue liefde, Here, want dit is van altyd af daar.

7Aan die sondes van my jeug en my oortredinge moet U nie dink nie; dink aan my in u troue liefde, omdat U goed is, Here.

Hier is twee pleidooie om te dink en een om nie te dink nie. Twee maal pleit die psalmis dat die Here  in u troue liefde aan die psalmis sal dink. Een maal word ook na die Here se barmhartigheid en die ander keer na sy goedheid verwys. Hierdie verwys na die Here se inherente instink om in barmhartigheid en trou op te tree. Die psalmis verwys in teenstelling met die Here se eienskappe na sy eie sondes en oortredinge. Die psalmis verwys na die sondes van sy jeug toe hy nie van beter geweet het nie. Vir sy oortredings as volwassene het hy geen verskoning nie. Ons het hier ‘n pleidooi dat die Here nie die psalmis se sondes en oortredinge moet gebruik as rede om sy deernis en goedheid aan die psalmis te staak nie.

 

25:8 – 11:

Die psalmis gaan verder met dieselfde twee temas, maar tot die laaste reël is dit veralgemenings.

8Die Here is goed en reg, daarom wys Hy sondaars die pad.

9Mag Hy verdruktes lei in wat reg is; mag Hy hulle sy pad leer.

Weereens verwys die psalmis na God se goedheid – goedheid is ‘n inherente deel van God. Dieselfde geld vir reg. Die Here wat goed is, is ‘n uitdrukking van sy geregtigheid. Mense se reg kan hulle onverdraagsaam teenoor mislukking maak. Maar in die Here  vermeerder dit sy toewyding aan mense wat van die pad afgedwaal het. Diegene wat verdruk en swak is, moet met gesag gelei word.

 

10Al die paaie van die Here is paaie van troue liefde en waarheid vir hulle wat by sy verbond en sy bepalings bly.

Hier word die temas van vers 4 – 9 verder gevoer. Hierdie gedeelte herinner aan Eksodus 34:6 – 10. Ons het reeds in vers 4 van die Here se paaie gelees. Ook van die Here se troue liefde en waarheid het ons vantevore in die psalm gelees. Hierdie verwysing na al die paaie van die Here is ‘n kragtige opsomming. Maar dit laat nie die psalmis sonder verantwoordelikheid nie – hy moet by die Here se verbond en bepalings bly.

 

11Ter wille van u Naam, Here, vergewe my skuld, want dit is groot.

Weer keer die psalmis terug na sy bewustheid van skuld. Hy weet dat hy hom aan die Here se  barmhartigheid moet oorgee. Vergewe is die kansellasie van die belang van verkeerde optrede – iets wat net die Here kan doen.

 

In krisistye besef ek werklik wie die Here is. Ek word so bewus van sy grootheid dat ek my ellendige situasie vir ‘n oomblik vergeet. Ek sien dit by die digter. Met lofwoorde beskryf hy die goedheid en regverdigheid van die Here. God roep selfs sondaars tot bekering. God gaan as ‘t ware saam met die mens wat aan die verbondsbepalings gehoorsaam is, op die lewenspad. Hy laat daardie mens liefde en trou ondervind. God is liefde en Hy gee liefde; God is getrou, Hy handel trou met die mens volgens sy woord.

 

image_pdfimage_print