Psalm 7 (4)

image_pdfimage_print

 

In our world too, a stable once had something inside it that was bigger than our whole world – C. S. Lewis

 

Psalm 7 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

7: 11 – 17: Loflied vir God. Vertroue in die regverdigheid van die regter.

Ons kry hier ʼn oorgang na ʼn geloofstelling. Dit is ʼn lang stelling – feitlik die helfte van die psalm.. Die oorgang is geleidelik.

 

In vers 11 – 14 word meegedeel wie God is. Dit gee die bidder nog meer geloofsvertroue. By Hom skuil die bidder, want God is gereed en by magte om die regverdiges, dié wat op Hom vertrou, te beskerm. Die psalmis gebruik drie stelle beelde om God se regverdige oordeel te beskryf:

  • In die stryd word die Here voorgestel as ʼn goed gewapende soldaat – Hy maak sy swaard skerp en span sy boog: Hy maak vir hom dodelike wapens gereed.
  • Die skuldige is soos ʼn swanger vrou: die onreg het in hom opgekrop en nou gee hy geboorte aan
  • Die skuldige is soos iemand wat ʼn diep gat gegrawe het met sy onreg en dan self daarin val – sy kwaad kom op sy kop af.

 

Teenoor God, die betroubare regter, en die bidder as onskuldige, staan die goddeloses – skuldiges. Hulle saai onreg, kweek boosheid en oes leuens. Die boosheid wat hulle vir die onskuldige beplan het, lei uiteindelik tot hulle eie ondergang. Die vromes kan onbevrees die handhawing van die reg tegemoetgaan. God is by hom en help hom. Ons moet nooit vergeet dat God die God van oordeel is nie. Ons kan maar seker wees ons sondes sal ons inhaal. Die bose is selfvernietigend.

 

7:11: 11Die verhewe God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos.

Hierdie is die eerste van vier stellings oor God. God se wese  soos dit die bidder (in die konteks van ʼn onverdiende bedreiging)  beïnvloed, word beskryf. Die bidder sê weereens dat hy ʼn mens van integriteit is – hy is opreg. Daar is geen verskil tussen sy uiterlike woorde en innerlike gesindheid nie.

 

7:12: 12God is ’n regverdige regter, elke dag ‘n bestraffende God

 Hier kry ons twee verdere stellings oor God se wese. God is bereid om sterk op te tree teenoor mense wat dit verdien. Bestraffend kombineer gesindheid en optrede.

 

7:13 – 14: 13As iemand hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp, span Hy sy boog en lê daarmee aan. Hy maak vir Hom dodelike wapens gereed; Hy maak van sy pyle brandpyle.

Die ontsteltenis word duidelik uitgespreek – deur van beelde gebruik te maak.  Mense kan die straf van God ontsnap. Hoe? As hulle ophou om die verkeerde te doen. Vergifnis is moontlik as hy hom bekeer. Maar as hulle hulle nie bekeer nie, volg God se toorn. God berei sy wapens voor.  Hy het ʼn hele arsenaal wapens – ʼn skerp swaard, ʼn gespanne boog en  brandpyle om mense en huise aan die brand te steek.

 

7:15: Kyk, wie verwagtend is van onreg en swanger is van boosheid, gee geboorte aan bedrog.

Nou kry ons ‘n konkrete beskrywing van die goddelose. Dit begin met drie verskillende beelde. Die goddelose word beskryf as ʼn vrou wat geboorte gee aan ʼn monster. Die pyn en angs van ʼn vrou wat geboorte skenk word beskryf. Onreg en boosheid gaan dikwels saam en verwys na verkeerde optrede teenoor ander mense. Bedrog beskryf dan hoe mense verkeerd optree teenoor ander – bedrog wat hulle vryheid, lewe en hulle plek in die gemeenskap in gevaar stel.

 

7:16: 16Wie ‘n put grawe en dit uithol, val in die gat wat hy gemaak het.

In die huishouding is die vrou se plig die grootmaak van kinders. Die man moet verseker dat die huis reg toegerus is (byvoorbeeld ʼn waterbron) en dat die lande teen wilde diere beskerm is (grawe putte om die diere in te vang). Die goddelose val self in die gat wat hy gegrawe het.

 

7:17: 17Sy kwaad kom op sy kop af; op sy skedel kom sy geweld neer.

Terugkeer kan beteken terugkeer van die verkeerde of dat jou moeite op jou hoof terugkeer. Geweld dui hier op fisiese geweld – die goddelose het ander seergemaak.

 

 

In hierdie gedeelte lees ons weer van regverdig. Dit word gebruik:

  1. Van God – Hy is die regverdige God en regter. Hy plaas sy volgelinge in die regte verhouding met Hom en dan gee Hy hulle krag om in gemeenskap met Hom te leef. Hierdie krag wat Hy ons gee, is ʼn belangrike element van sy liefde.
  2. Van sy mense. Om te sê hulle is regverdig beteken nie hulle kan almal irriteer met hoe goed hulle is nie. God se regverdiges is diegene wat vergifnis ontvang het, mense wie God huis toe gebring het toe hulle afgedwaal het.

 

 

image_pdfimage_print