Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1)

image_pdfimage_print

Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (1) – Adrio König

4 Vorms van terugkeer na die Ou Tesatment: Galasiërs en Hebreërs

4.1 Galasiërs

In hoofstukke 2 en 3 van hierdie boek het ons gekyk na die oortuigings van Christene wat wil terugkeer na die Ou Testament. Daar is verskillende vorms van terugkeer, en elkeen moet op sy eie beoordeel word.

 

Daarom kan dit verhelderend wees om te kyk na twee voorbeelde van terugkeer in die Nuwe Testament. In Galasiërs het ons (maar net skynbaar!) ‘n “sagter” vorm van terugkeer, en in Hebreërs ‘n radikale vorm.

In die gemeentes in Galasië was daar Joodse Christene (Judaïste) wat geëis het dat die Christene uit die heidene die wet moet hou, besny moet word, en die feeste moet vier. Hierdie heidene moes dus eintlik Jode word om gered te word.

 

Vir ons klink dit gewoonlik vreemd. Maar was dit regtig? 

 

4.1.1 Die Judaïste se argument

Die Judaïste het natuurlik nie alles verwerp wat Paulus gepreek het nie. Hulle het veral glad nie vir Jesus en sy verlossing verwerp nie. Maar hulle het beweer dat Paulus die heidene net halfpad geneem en toe gelos het. Daar moes nog iets by Paulus se boodskap bykom. Geloof in Jesus was natuurlik onontbeerlik, maar dit was nie genoeg nie. Die besnydenis en die wet moes bykom. Volgens hulle moes die heidene eintlik, nadat hulle Jesus aangeneem het, net die volgende “logiese” stap ook geneem het: Om hulle te laat besny en die feeste te begin vier, en só die wet te hou.

 

Hulle kon verskeie argumente aanbied om die gemeentes hiervan te oortuig. Hulle kon die heidene in die sinagoge as voorbeeld gebruik. Heidene wat die sinagoge-byeenkomste begin bywoon het, moes in die God van Israel glo – net soos die heidene nou in Jesus moes glo –  en dan moes hulle besny word as die eerste stap om die wet te hou.

 

Dit was ook volkome logies in terme van die godsdiens in die Ou Testament. Abraham was self ‘n heiden wat deur God geroep is, in God geglo het, en toe besny is. Alle heidene wat in die tyd van die Ou Testament in Israel se God begin glo het, moes dus ook besny word en die wet begin hou. Dit het heeltemal logies geklink dat die heidene wat nou tot geloof in Jesus gekom het, dieselfde pad sou loop.

 

Jesus was immers Israel se Messias. Israel was die uitverkore volk. En Israel was die nageslag van Abraham. Die heidene moes dus deel van Israel word, van Abraham se nageslag, om gered te word. Dit het beteken dat hulle, net soos Israel, in Israel se God moes glo en die wet moes hou. Net so moes die heidene wat nou in Jesus begin glo, Israel se Messias aanvaar, en dan die pad van Israel loop: besnydenis en die res van die wet soos die feeste (4:10). Só sou hulle deel van die uitverkore volk word en deel kry aan die beloftes wat God aan Abraham gegee het. 

 

Dit was skynbaar so ongeveer wat die Judaïste gepreek het. Hulle was oortuig Paulus het reg begin om heidene op te roep om in Jesus te glo, maar hy het net nie die volle pad geloop nie.

 

4.1.2 Paulus se reaksie

Wat is Paulus se reaksie hierop? Hy kon dit nie aanvaar nie. Hy het dit gesien as ‘n terugkeer na die Ou Testament. Alles moet bly soos dit was. Dis net Jesus wat bykom. Die wet plus Jesus.

 

Dit is opvallend dat hy, net soos die Judaïste, in sy verdediging ook by Abraham begin, en trouens Abraham die hoofpersoon in sy argument maak.

 

Eintlik pas Abraham sy argument soos ‘n handskoen. Immers Abraham het in God begin glo nog voor daar ‘n wet was. Die wet het nog nie eens bestaan in Abraham se tyd nie, dit het eers 430 jaar later gekom (3:17). Dan kan daar mos nie sprake daarvan wees dat ‘n mens by die geloof ook nog die wet moet byvoeg om gered te word nie. Ons sien mos by Abraham hoe ‘n mens gered word. Hy is gered sonder die wet.

 

Hoe? Deur in God te glo. In Galasiërs 3:6 gebruik Paulus Genesis 15:6: “Abram het die Here geglo en die Here het hom as regverdig gereken” (NLV. Die 1983-vertaling is ongelukkig baie lomp.) Abraham glo dus in God en word gered sonder die wet.  Dis presies wat Paulus preek: Glo in Jesus, en jy word gered sonder die wet.

 

Verder het die Here met Abraham die verbond gesluit in hierdie terme (Gen 17).  Toe Hy die verbond met Abraham gesluit het, was daar nog geen sprake van die wet nie.

 

Maar Paulus hou nie hier op nie. Hy moet nog aandui hoe die heidene aan die verbond en die heil deel kry. Hulle is mos nie die nageslag van Abraham nie. Israel is mos.

 

Of is dit? Wie is “kinders van Abraham? Die Jode? Die wat die wet hou? Nee. “Julle sien dus dat die wat glo, kinders van Abraham is” – of hulle nou Jode of heidene is (3:7).

 

Hoe kan hy dit skryf? “Die Skrif het vooruit geweet dat God ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo” (3:9). Waar kry hy dit? Presies in die oorspronklike beloftes aan Abraham wat eindig met: “In jou sal al die volke van die aarde geseën word” (Gen 12:3: Gal 3:9). Dit was dus van die begin af in die vooruitsig gestel dat die heidene deel sal kry aan die seën wat God in die verbond aan Abraham toegesê het. En dit alles sonder enige verwysing na die wet.

 

En hoe is dit nou gerealiseer? Deur die kruis “kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het” (3:14). Deur sy kruisdood bewerk Jesus dit wat al aan die begin in die vooruitsig gestel is: Die heidene wat tot geloof kom, word deel van die Abrahamverbond.

 

Is die saak van die Galasiërs hiermee afgehandel: Dis nie nodig om die wet te hou en besny te word om gered te word nie?

 

Nee. Nog lank nie.

 

Die eintlike, ernstige kant kom nou eers.

 

Die Judaïste is oortuig dat hulle die betekenis van Christus ten volle erken. Hulle wil net die pad enduit loop. Die besnydenis en die wet moet net bykom.

 

Hoe reageer Paulus? Sy reaksie is nie maar net dat hierdie byvoeging onnodig is, dat Christus genoeg is nie. Sy reaksie is veel skerper. Indien hulle die wet wil byvoeg, verloor hulle vir Christus! “As julle julle laat besny, sal Christus vir julle geen betekenis hê nie… Julle wat van julle sonde vrygespreek wil word deur die wet te onderhou, julle het die band met Christus verbreek, julle het die genade van God verbeur” (5:2, 4).

 

Jy kan nie by Hom iets byvoeg en dink jy behou Hom nie.

  • Dis net Christus.
  • Of nie Christus nie.

 

Waarom? Omdat jy Hom nie net misverstaan as jy dink Hy is nie genoeg nie, maar omdat jy Hom onteer. “As ‘n mens vrygespreek kon word op grond daarvan dat hy die wet onderhou, sou dit immers beteken dat Christus verniet gesterwe het” (2:21). Volgens Paulus ontken jy die betekenis van Christus as jy die wet wil bybring. Dis óf Christus, óf die wet.

 

Hoe het dit betrekking op die rigting wat ons in hierdie boek behandel, op Christene wat wil terug na die Ou Testament? Eenvoudig net dit: Oppas om allerlei dinge uit die Ou Testament te wil bybring asof dit net ‘n verryking van jou geloof sal wees. Dit kan wees dat ‘n mens dit ten koste van Christus self doen.

 

Skrywer: Prof Adrio König

 

image_pdfimage_print

You may also like...