Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(1)

image_pdfimage_print

Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Huishoudelike Aktiwiteite(1) – Hennie Stander

In die Bybelse tyd het die meeste mense vroeg opgestaan, selfs nog voordat die son opgekom het. Sodoende kon hulle die tyd wat dit lig was ten volle benut en ook rekening hou met die uitermatige hitte van die middagson wanneer ‘n mens nie veel kon uitrig nie. Ons lees dat Abraham vroeg opge­staan het om God se opdrag ten uitvoer te bring, naamlik om sy seun Isak te gaan offer (Genesis 22:3); Moses het vroeg opgestaan en die Sinaiberg uitgeklim om God daar te ontmoet (Eksodus 34:4); Job het vroeg in die more brandoffers gebring vir sy kinders vir ingeval hulle teen God gesondig het (Job 1:5); ook Jesus het vroeg opgestaan om op ‘n eensame plek te gaan bid (Markus 1:35).

Alhoewel dit wel moontlik was vir iemand om in die bed te bly (Spreuke 26:14), was dit nogtans moeilik aangesien almal bymekaar in een vertrek geslaap het. Wanneer een persoon opgestaan het, sou dit noodwendig die ander in die vertrek gesteur het-dit is miskien na hierdie feit wat Jesus verwys het toe by die verhaal vertel het van die man wat laat in die nag gekom het om drie brode by sy vriend te leen (Lukas 11:7).

 

Oggendete

Hier in Suid-Afrika eet ons drie maaltye per dag, maar in die Bybelse tye, net soos in baie ander moderne lande, het die mense slegs twee maaltye per dag gehad. Een hiervan was die oggendete wat redelik vroeg in die oggend genuttig is. Dit was egter ‘n baie ligte maaltyd en het uit kos soos brood, kaas en vrugte bestaan. Ons lees in Johannes 21 dat Jesus, nadat dit lig geword het, sy dissipels genooi het om ontbyt te kom eet, en Hy het toe brood en vis aan hulle gebied.

 

Malery van graan

‘n Baie algemene huishoudelike aktiwiteit was die maal van graan. Hiervoor is twee soorte meulens gebruik wat albei tot in ons moderne tyd nog oral in die wêreld bekend is. Die een soort meul (‘n rugstukmeul) het bestaan uit ‘n lang reghoekige klip, ietwat konkaaf gebuig, met ‘n plat oppervlakte. Hierdie groot en swaar klip het die basis van die handmeul gevorm. Bo-op hierdie basisklip kom ‘n heelwat kleiner klip wat ‘n mens met jou twee hande kan vasvat. Dit word die “skuurklip” of “maalklip” genoem. Hierdie skuurklip is heen en weer oor die basisklip geskuur, met die koring tussen die twee klippe. Dit was waarskynlik met so ‘n skuurklip waarmee ‘n vrou vir Abimelek doodgegooi het (Rigters 9:52 ev).

vrouemaal

Later is ‘n roterende soort meul in gebruik geneem. Dit het bestaan uit twee skyfvormige klippe wat omtrent ewe groot was. Die onderste klip het in die middel ‘n houtas gehad wat regop gestaan het. Die boonste klip het weer in die middel ‘n ronde gat gehad waardeur die as van die onderste klip gesteek het. Die boonste klip kon dus in die rondte draai rondom die as van die onderste klip. ‘n Mens kon die boonste klip draai met behulp van ‘n regop handvatsel wat daarop aangebring is (sien die foto). Die koring is in die boonste gat afgegooi en dit is dan tussen die twee klippe fyn gemaal.

 

Die maal van koring was een van die take van die vrou. Een vrou alleen kon wel hierdie meul werk, maar dit was tog makliker as twee dit saam gedoen het (vgl Matteus 24:41). Ook slawe is gebruik om koring to maal. Simson, byvoorbeeld, moes tydens sy gevangenskap die meul draai – ­waarskynlik een van die groot roterende tipes (sien ook Klaaglied 5:13) wat soms deur diere in die rondte gedraai is. Tog het die geluid wat van die maal van koring gekom het, baie huislik geklink en Jeremia sê dat die afwesigheid van hierdie geluid ’n teken is van ondergang en van die oordeel van God (Jeremia 25:10).

 

Omdat die meul so ‘n belangrike item in ‘n huishouding was aangesien dit vir die maak van brood gebruik is, het die Wet verbied dat dit as pand geneem word (Deuteronomium 24:6).

potte 

 

Die haal van water

Alhoewel sommige huisgesinne hul eie waterbakke gehad het waarin die reën opgevang is, het die meeste hul water van die dorp se fontein of put verkry. Die aandra van die water vanaf hierdie gemeenskaplike bron is hoofsaaklik deur die vrouens gedoen (sien 1 Samuel 9:11). Dit het gewoonlik aan die begin of aan die einde van die dag geskied. Abraham se dienskneg het juis hierdie feit in gedagte gehou toe by gaan soek het vir ‘n vrou vir Isak (Genesis 24:11-13). Die water is in ‘n groot erdekruik gedra of op die skouer (soos wat Rebekka gedoen het-Genesis 24:15), of op die heup.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

 

image_pdfimage_print

You may also like...