Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Vakmanne en Bedrywe(5)- Hennie Stander

image_pdfimage_print

Skrynwerkers of timmermans

Die feit dat Jesus ‘n skrynwerker (of ‘n timmerman) was (Markus 6:3), het veroorsaak dat baie mense die skrynwerkerbedryf van die Nuwe Testament geïdealiseer het. Die feite van die saak is dat hierdie bedryf ‘n harde werk was wat ‘n groot mate van sowel fisiese krag as deursettingsvermoë en vaardig­heid vereis het. Die skrynwerkersberoep was tweeledig van aard: in die eerste plek was hulle betrokke met bouwerk en in die tweede plek moes hulle artikels vervaardig wat meubels ingesluit het.

Voordat die Romeine die gewelfde dak ontwerp het, is dakke gemaak deur houtbalke van een muur tot die ander te lê. Die gapings tussenin is met matwerk en takkies gevul en met modder bedek. Die skrynwerkers moes die borne afkap en die balke vierkantig maak sodat hulle as balke gebruik kon word. Dit is gedoen met behulp van ‘n dissel (‘n bylagtige stuk gereedskap wat hoofsaaklik gebruik is om die hout te kap tot die vorm waarin jy dit wou hê). ‘n Primitiewe saag is ook hiervoor gebruik. Dit was altyd harde werk.

Die bylblad is van brons (later van yster) gemaak en is aan ‘n steel vasgewerk. Omdat so ‘n byl maar redelik stomp was en omdat die bylblad relatief gesproke nie baie stewig vasgebind kon word nie, het die bylblad maklik van die steel afgekom. Juis dit word in Deuteronomium 19:5 as voorbeeld gebruik om die konsep van asielstede te verduidelik: Sou iemand saam met sy naaste hout kap en die bylblad glip en hy dood per abuis sy naaste, kon die persoon wie se byl dit was na die asielstad vlug om te bly lewe. As die bylblad egter uitval en dit kon nie weer gevind word nie, was dit groot skade (vgl 2 Konings 6:5).

Die saag was een van die bekende gereedskapstukke van die Israeli­tiese skrynwerker (Jesaja 10:15). Gewoonlik het twee mense gelyktydig met ‘n saag gewerk deurdat een aan elke kant gestaan het om ‘n boomstomp, byvoorbeeld, deur te saag. Die tande van die saaglem is so gerangskik dat hulle net kon saag met die “trekslag”. Nie net hout nie, maar ook metaal en klip kon gesaag word. In Salomo se tempel byvoorbeeld is die duursame klippe gesaag (1 Ko­nings 7:9).

Skrynwerkertools

Skrynwerker se gereedskap

Omdat die Jode ‘n semi-nomadiese yolk was, was die skrynwerkersbedryf nie een van hul ont­wikkelde vaardighede nie. Die gehalte van skryn­werk in Kanaän het derhalwe drasties verlaag nadat die Israeliete die land ingeneem het. Later het hulle hulp van die Fenisiërs gekry (1 Kronieke 14:1) wat baie kundige skrynwerkers was en selfs skepe vir hulle handelsvloot gebou het. Deur hulle vaardig­hede tot beskikking te stel vir die bou van Salomo se tempel en vir ander openbare geboue, het hulle baie van hul vaardighede aan die Jode geleer, en dit het paneelwerk en houtsneewerk ingesluit. In Jesaja 44:13 word etlike van die werke wat deur ‘n skrynwerker gedoen is, beskryf. Timmermans moes onder andere ‘n lyn span, vorme met ‘n skrynwerker potlood aftrek, met ‘n passer teken. en die hout met sy skawe bewerk (Jesaja 44:13).

Die timmerman het ook etlike kleiner take onderneem wat by tuis kon doen. Banke is nie voor die Romeinse tye gebruik nie, maar die skrynwerkers het wel deure, deurrame, vensterhortjies, slotte, stoele, lae tafels en kiste gemaak. Verder was dit ook hulle taak om landbou-implemente te maak soos jukke, ploeë en grawe. Die feit dat die gereedskap eintlik baie ru was, het beteken dat ‘n mens baie bedrewe en vaardig moes wees om voorwerpe goed te kon afrond. Die hamer (Rigters 5:26) was gewoonlik van klip gemaak. Die spykers wat gebruik is om stukke hout mee vas te maak (Jeremia 10:4) is eers van brons gemaak en later van yster. Gate is met ‘n els geboor (vgl die gebruik van die els in Eksodus 21:6 en Deuteronomium 15:17).

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...