Veg soos ‘n Christene!

image_pdfimage_print

I have never won an inch of the way to heaven without fighting for it. —C.H. Spurgeon

Veg soos ‘n Christene!

Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). Hierdie verse en die gedeelte rondom vertel vir ons hoe ons soos ‘n Christen kan veg. J. D. Greear identifiseer ‘n hele aantal maniere om dit te doen:

 

  • Ondersoek jou hart. Dit is die eerste en belangrikste stap. Al het mense jou benadeel, wat sê jou emosionele reaksie oor jou hart? Het kwaadwilligheid en bitterheid in jou hart ingekruip? Hierdie is alarmsisteme vir jou hart en is dikwels ‘n groter saak as die benadeling wat jy ondervind het.
  • Sien alles wat jy kan oor. Bepaal wat gekonfronteer moet word en wat kan maar oorgesien word. Dit is wat Paulus bedoel as hy sê: volgens die omstandighede.  Natuurlik is daar  tye wanneer jy moet praat en konfronteer; daar is tye wat dit nie nodig is nie. Die kuns is om te weet wanneer om wat te doen.
  • Wees prakties volgens die omstandighede. Daar is tye en plekke wat nie goed is vir argumente nie – byvoorbeeld as jy baie moeg is. Kom eerder later terug na die argument. Daar is ‘n groot gevaar hieraan verbonde – jy kom nooit na die argument terug nie – jy krop dit op. As jy sê dat julle na 24 uur na die argument moet terugkom, doen dit.
  • Luister vinnig, praat stadig. Die grootste probleem met kommunikasie is nie dat ons ons verkeerd uitdruk nie, maar dat ons nie luister nie. Meeste van ons kan nogal ons punt duidelik oordra, maar luister nie so goed nie. Om goed te luister is een manier om ander hoër as jouself te ag (Filippense 2:3 – 4).
  • Soek hulle heiligmaking, nie jou regverdiging nie. As jy vergeet van die idee dat jy elke argument moet wen en jouself regverdig, kan jy fokus op wat vir ander mense en julle verhouding van waarde is. Dit beteken dat jy soms moet terugstaan … al dink jy dat jy reg is.
  • Glo in God se oorkoepelende doel in jou verhoudings. As jy aanvaar dat God ‘n doel het met elkeen van jou verhoudings bring ons ‘n element van hoop in ons verhoudings in. Dit maak nie noodwendig moeilike verhoudings maklik nie,  maar dit bring perspektief. God het geweet jy gaan in daardie verhouding kom, en Hy het ‘n doel daarmee.
  • Laat genade jou woorde versadig. As dit gebeur verander die inhoud en toon van die gesprek. In plaas daarvan dat jy die positiewe punte aanvaar en die negatiewe punte raaksien, begin jy die negatiewe punte aanvaar en die positiewes raaksien. Jy is nie meer sarkasties en neerhalend nie – dit is dinge wat afbreek.
  • Moenie die handdoek ingooi voordat daar absoluut geen manier is waarop die verhouding reggestel kan word nie. Ons moet eers die krag van genade die geleentheid gee om in ons te werk.
  • Vergeef waarlik. Vergifnis is ‘n keuse, maar dit hang nie af van ‘n ander persoon se berou nie. Vir versoening is twee mense nodig; vir vergifnis is net een mens nodig. Die enigste alternatief vir vergifnis is bitterheid.
  • Doen alles uit eerbied vir Christus. Die kruis moet groot wees in jou lewe – jy moet so oorweldig wees deur Christus se offer dat jy elke benadeling van jouself in ‘n ander lig sien. Doen dit vir Jesus.

 Hierdie is voorwaar riglyne wat almal van ons met vrug kan gebruik.

image_pdfimage_print

You may also like...