Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (3)

image_pdfimage_print

We therefore, the interpreters of God’s holy word, and faithful ministers of the church of Christ, must have a diligent regard to keep the scriptures sound and perfect, and to teach the people of Christ the word of God sincerely; made plain, I mean, and not corrupted or darkened by foolish and wrong expositions of our own invention. — Heinrich Bullinger

 

Die Ons Vader-gebed: ‘n Paradigma vir ‘n Christelike Lewenstyl (3)

In 1984 het Prof David Bosch vyf Bybelstudie sessies by die jaarlikse konferensie van die Christian Medical Fellowship gehou oor hierdie gebed Die volledige sessies is op hulle webblad beskikbaar. Ons gaan in ‘n hele aantal blogs na kernidees uit hierdie sessies kyk.

 

Ons Vader wat in die hemel is, word onmiddellik deur sewe versoeke gevolg. Die eerste drie behoort  ten opsigte van struktuur en inhoud bymekaar .

Hulle is baie kort versoeke.  Wat is die sentrale betekenis van hierdie eerste drie versoeke?  God wil nie op sy eie sonder ons God wees nie; Hy roep ons na Hom  toe; Hy roep ons op om sy doel ook die voorwerp van ons begeerte te maak. Dit is hierdie drie versoeke wat  die ander versoeke waarlik ‘n gebed maak – die gebed van die Christelike gemeenskap. Hulle druk op ‘n baie spesiale manier die lewenstyl van ‘n Christen uit.

 

Hoekom moet ons vra dat sy Naam geheilig word, dat sy koninkryk moet kom en dat sy wil gedoen moet word? Omdat  dit nie teenwoordig is nie – God se Naam word nie geëer nie, sy koninkryk is nie gevestig nie en sy wil word nie gedoen nie. Hierdie is in wese ‘n noodroep uit ‘n wêreld verslaaf aan sonde. Dit stem ooreen met die gebed van die vroeë kerk: Marana ta – kom, Here! (1 Korintiërs 16:22). Die ons Vader is ‘n gemeente wat bid, maar wat weet dat die draaipunt reeds gekom het – God het reeds sy verlossingswerk begin. Die gemeente bid vir die volle openbaring van wat reeds toegestaan is.

 

Die koms van Jesus het die toneel fundamenteel verander; niks kan meer dieselfde wees nie, want die koninkryk van God het gekom. Dit alles gebeur terwyl Jesus nog op aarde was. Die dissipels het die waarheid hiervan eers later besef – na Jesus se opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees. Daarom kon Paulus skryf: Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (2 Korintiërs 5:17).

 

Dit is van groot belang vir ons. Ons leef nie in ‘n wêreld wat aan die Bose oorgegee is nie, maar in ‘n wêreld waarin God reeds die begin van ‘n nuwe tyd geopenbaar het. Ons word ook opgeroep om die wêreld in ooreenstemming met sy koninkryk te verander. Ons kan met vertroue standpunt inneem teen die Bose. Die manier waarop ons die werklikhede om ons benader – ons hele lewenstyl – sal wys of ons werklik glo dat die oorwinning reeds behaal is.

 

Na die derde versoek lees ons: op die aarde geskied, net soos in die hemel.  Hierdie byvoeging geld waarskynlik vir al drie versoeke, want hulle vorm ‘n eenheid:

Laat u Naam geheilig word op die aarde net soos in die hemel;

Laat u koninkryk kom op aarde soos in die hemel;

Laat u wil geskied op aarde net soos in die hemel.

As dit korrek is, beteken dit dat God se Naam reeds in die hemel geheilig word, dat sy koninkryk reeds in die hemel gekom het en dat sy wil reeds in die hemel geskied. Wat reeds in die hemel bereik is, moet nou ook op die aarde waar word.

 

Na hierdie lang inleiding is ons nou gereed om na elke versoek afsonderlik te kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...