Laat sy Liefde jou Lei: Komaan, jy kán vasbyt!

image_pdfimage_print

Laat sy Liefde jou Lei: Komaan, jy kán vasbyt! – Milanie Vosloo

Maar as die Gees ons lewe beheer, is die gevolg: …getrouheid … Galasiёrs 5:22

Elke dag hier op aarde is ‘n geleentheid om ons Vader deur ons lewens te verheerlik. Tog wéét ons dat ons só onvolmaak en méns is dat daar soms bitter min van Hom in ons sigbaar is. Dis dan wanneer ons skaam en moedeloos wonder of dit nog die moeite werd is om aan te hou probeer.

Die feit is dat ons lewe hier op aarde slegs ‘n voorspel is tot die hemelse vertoning waarby ons eendag betrokke sal wees. Alles wat ons hier doen, is maar slegs ons voorbereiding op die volmaakte wat eendag op ons wag. Dán eers sal ons ons volle potensiaal as beelddraers van God kan bereik.

Daarom kan ons maar net konstant met ons hand in dié van die Vader loop en elke dag bid dat Hy aan ons die moed sal gee om met groter oortuiging te glo, met meer onvoorwaardelikheid lief te hê, sonder huiwering te vergewe en sy goedheid skroomloos uit te leef. Om getrou te bly in ons strewe na ligdraers van hierdie wêreld is nie altyd maklik nie. Tóg los Hy ons nooit alleen in ons stryd nie. Jesus self het gesê: Ek sê hierdie dinge sodat julle in My rus en vrede kan vind. In die wêreld sal julle swaarkry beleef, maar skep moed: Ek het die wêreld reeds oorwin.” (Johannes 16:33)

Bly – ondanks alles – getrou op jou pelgrimspad! Jy kan. Deur Hom!

Here, help my om wérklik ‘n getroue draer van u lig te wees!

 

Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit Milanie Vosloo se boek: Laat sy Liefde jou Lei, publiseer. Ons dank aan Milanie Vosloo en CUM vir hierdie vergunning.

Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za

milanie_boeke_advertensie

 

Skrywer: Milanie Vosloo

image_pdfimage_print

You may also like...