Vergifnis van sonde

image_pdfimage_print

Sondes

Wat is hierdie “sondes” waarvan Jesus in die Ons Vader praat?

Volgens Luther is dit die miskenning van God. Om in onsself gekeer te wees.

Prakties kan ons dit sien uit die gebed van Jesus. Wanneer ons daaglikse sondes doen wat verband hou met die eerste vier bedes: as ons God se Naam misbruik, die koms van sy heerskappy verhinder,  wanneer ons ons sondige wil stel teenoor sy heilige wil, of as ons ondankbaar is vir ons daaglikse brood (ML LC 118).

Vergifnis

Die vergifnis van God is ʼn Goddelike daad wat ons hele lewe vul met dankbaarheid, want dit help ons om te onthou hoe Christus gely en gesterf het. So seker is ons, dat ons as gelowiges die dood en hel kan trotseer met die woorde: “al het ek gesondig, my Christus het nie gesondig nie; dit is in Hom wat ek glo, alles wat syne is behoort aan my en alles wat myne is, is syne”. Volgens Lienhard(134) kan ons nie eintlik praat van ʼn ruil, asof twee vennote mekaar bevoordeel nie. Christus kry ons sonde – en word aan die kruis sonde gemaak, maar ons kry van Hom alles wat goed is. Al die voordele kom net van een kant af: van Christus na ons toe. Sy regverdigheid word aan ons geskenk en met hierdie vreemde kleed van sy geregtigheid, staan ons voor God. Christus alleen stel ons in die regte verhouding tot God deur hierdie vreugdevolle ruiling:

lewe vir ons, die dood vir Hom,

vergiffenis vir ons, oordeel vir Hom,

geregtigheid vir ons, ons sonde op Hom,

aanvaarding en verheerliking vir ons, verwerping en verguising vir Hom.

Hierdie regverdigheid van Christus bring mee dat ons deel in sy koningskap en priesterskap. Elke gelowige is daarom waardig om voor God te verskyn en te bid vir ander (Lienhard 135).

Luther het baie keer moed geskep as hy die psalms lees. Hy vind gereeld bemoediging uit Psalm 51 waar Dawid getuig dat God se hart oopgaan vir iemand met ootmoed en ʼn gebroke hart – “zerknirshtes Hertz”(LD 1, Die Anfange, 40). Psalm 6 se moedeloosheid het hy aan sy eie lyf ervaar: “Ek is heeltemal gedaan. Hoe lank nog, Here, voor U uitkoms gee?”(LD 1, Die Anfange, 40).

“Soos ons vergewe…”

Die volgende sin: “soos ons ook vergewe” is volgens Luther ʼn baie nodige en troosryke sin.  God belowe ons volle kwytskelding en vergifnis, maar slegs in soverre ons ons naaste vergewe. Soos ons daagliks voor God en teen Hom sondig, en Hy ons uit genade vryspreek, so moet ons ook elke dag bereid wees om hulle wat ons seermaak deur woorde, geweld, nyd of onreg, te vergewe.

Wanneer ons ons skuldenaars vergewe, is dit ʼn agteraf bevestiging wat ons sekerheid versterk dat ons sondes inderdaad uit genade vergewe is (vgl. Lukas 6:37 en Matteus 6:14).

Vergewe ons nie, blokkeer ons God se vergewing in ons eie lewe…

Gebed van Luther:

“Liewe Vader, ek pleit by U: vergewe my, nie omdat ek deur my werke enigiets kan regmaak wat ek verbrou het of enigsins iets by U kan verdien nie, maar omdat U my belowe het dat U sal vergewe en U eie seël daarop geplaas het. So seker vergewe U my asof ek die woorde uit U eie mond hoor: ‘Jou sondes is vergewe…’ ” (ML LC 117).

Vind berusting hierin:  Jou sondes is vergewe…Jy hoef nie aflate te koop, of herdenkings te koop soos ʼn doring van Christus se doringkroon of van die 2000 ander relikwieë wat te Wittenberg by keurvors Frederik te koop was nie. Jy hoef ook nie die Dame te Loredo te besoek met die hoop op ʼn wonderwerk of ʼn heilige te soek wat vir jou kan bid nie.

Ek kan jou vandag, in 2009, hierdie troos uit die Woord bied: Jesus bid vir jou: Jesus die Hoogste Voorbidder, die grootste Heilige. Sy gebede werk wonders in jou lewe… soos die wonder van ʼn kinderlike geloof, van genesing, van berusting in God se groter plan…

 

Skrywer: Dr Danie Malan VDM Kempton-Kruin NG Kerk


Bibliografie

 

Leeswerk oor Luther:

Afkortings aan einde van elke werk

Martin Luther:

Luther Deutsch Die Werke Martin Luthers, Hg K Aland, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen, 1983(2 Auflage), Band 1-10. [LD]

Band 1: Die  Anfänge

Band 2: Der Reformator

Band 3: Der neue Glaube. Insluitend Der Grosse Katechismus 1529 wat ook Das Vaterunser bevat p. 96 -116.

Band 4: Der Kampf um die reine Lehre

Band 5: Die Schriftauslegung

Band 6: Kirche und Gemeinde

Band 7: Der Christ in der Welt

Band 8: Die Predigten

Band 9: Tischreden

Band 10: Die Briefe

 

Martin Luther’s Works, 21, The Sermon on the Mount, ed. J Pelikan.Concordia, Saint Louis, Missouri, s.a. (LW)

Luther’s large cathecism, tr J N Lenker, Augsburg, Minnesota, 1967. (ML LC). Vertaling van dele van Band drie van Luther se versamelde werke.

Martin Luther Spiritual Classics (ML SC), Red Robert van de Weyer, Fleming Revell, New York, 1991.

Martin Luther’s basic theological writings,ed Lull T F, Fortress Press, Minneapolis, 1989 (BTW).

 

Ander outeurs:

Cunningham, W, The Reformers and the Theology of the Reformation, Banner of Truth, Edinburgh, 1862 (eerste uitgawe) – derde uitgawe 1979.

Gritsch, EMartin – God’s Court Jester. Luther in Retospect, Fortress, Philadelphia, 1983.

Hanegraaf, H The prayer of Jesus, W Publishing Group, Nashville, 2001.

Jonker, WD Bevrydende Waarheid, Hugenote Uitgewers, Wellington, 1994.

Köstlin, J Martin Luther, the Reformer, tr by EP Weir, Cassel, Parys, 1884 (4de uitgawe).

Liardon, R, God’s Generals II, The roaring Reformers, Whitaker House, Laguna Hills, California, 2003.

Lienhard, M, Luther, witness to Jesus Christ, tr.by EH Robertson, Augsburg, Minneapolis, 1982

Praamsma, De kerk van alle tijden, IV, Wever, Franeker, 1981.

Von Loewenich, Walter, Martin Luther, The Man and his Work, tr by LW Denef, Augsburg, Minneapolis, 1982.

 

image_pdfimage_print

You may also like...