Vlees

image_pdfimage_print

Vlees – Francois Malan

Jan Smith vra:

In Efesiërs 5:28 – 29 die volgende: Mans moet hulle eie vroue liefhê, want dan het hulle hulself lief. Niemand het nog sy eie vlees gehaat nie maar hy koester dit ens net soos die Here die gemeente. Dan sê Paulus ons is lede van Sy liggaam, en vlees van Sy bene. Net soos in Korintiërs waar hy sê ons is die liggaam van Christus. Dan volg hy met: Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees. Vraag: Hoe bring Paulus die twee goeters bymekaar, asb?

 

 

Antwoord

Prof. Francois Malan antwoord:

 

Die Griekse word sarks word in baie betekenisse gebruik:

(i)             Vleis – van mens en dier (vgl. Openb 19:17-18)

(ii)            Liggaam – die fisiese liggaam (vgl. 1 Tim 3:16 NAV vertaal dit met ‘mens’)

(iii)           Mense – as fisiese wesens (vgl. Joh 1:14)

(iv)          Menslik – die menslike natuur, met klem op die fisiese aspekte (vgl. Hebr.12:9 NAV aardse)

(v)           Volk  – ‘n groot groep mense wat beskou word as biologies verwant (vgl. Rom 11:14 NAV ‘eie mense’ met verwysing na sy Joodse volksgenote)

(vi)          Menslike natuur – tipiese menslike redenering en begeertes (vgl. Gal.5:19 NASV sondige natuur)

(vii)         Fisiese natuur van mense (vgl. Gal 4:23 NAV volgens die loop van die natuur)

(viii)        Lewe – fisiese lewe (vgl. Hebr 5:7 NAV aardse lewe)

 

In Efesiërs 5 gebruik Paulus die Griekse word sarks, wat in die Ou Afrikaanse Vertaling met ‘vlees’ vertaal is – die Hollandse woord vir die Afrikaanse vleis, omdat die mense nie ‘vleis’ wou sê nie, wat te plat klink.

 

Ef 5:29 gebruik die woord sarks wat hier spesifiek na jou liggaam verwys (soos NAV tereg vertaal), nadat 5:28 die woord ‘liggaam’ sooma gebruik het om die intieme liefde tussen man en vrou aan te dui (1 Kor 7:4 sê bv. Die vrou beskik nie oor haar eie liggaam nie, maar die man; net so beskik die man nie oor sy liggaam nie, maar die vrou – waar dit gaan om die eie man en vrou, vgl. 7:2). Die woord sarks word in Ef 5:29 gebruikom na seksuele omgang te verwys (vgl. 1 Kor 7:5), as die fisiese uitdrukking van die intieme liefdesband tussen man en vrou in die huwelik waarvan Ef 5:28 praat.

 

Ef 5:29 brei uit op die manier waarop ‘n mens jou eie liggaam voed en versorg, wat dan beteken dat dit ook die manier is waarop jy jou vrou of man in liefde behoort te voed en te versorg – soos Christus dit met sy kerk doen, wat sy liggaam is (die beeld wat nog verder uitbrei op 1 Kor 10:17 en 1 Kor 12:12-30 se beeld van die kerk as die liggaam van Christus waarin die lede vir mekaar versorg. In Ef 2:22,23 word Jesus voorgestel as die hoof van die liggaam waaroor Hy met liefde regeer).

 

Jou vraag verder: ‘Dan sê Paulus ons is lede van Sy liggaam, en vlees van Sy bene’

– die aanhaling uit Genesis 2:23 kom nie in die oudste manuskripte van Efesiërs sedert 200 n.C. voor nie (daarom het die NAV dit uitgelaat), en is eers in die sesde eeu n.C. in die teks ingevoeg (en is in die OAV nog behou). In Gen. 2:23 verwys Adam na die skepping van die vrou uit een van sy ribbebene om die intieme eenheid tussen hom en sy vrou aan te dui.

 

‘Dan volg hy met: Daarom moet die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees.’

          Hier haal Paulus aan uit die skrywer van Genesis se kommentaar in Gen 2:24, om die

bedoeling van God met die huwelik te onderstreep, dat die intieme liefdesband ook fisies uitgedruk word in hulle seksuele omgang. Paulus het die teks reeds in 1 Kor 6:16 aangehaal om te waarsku dat jy nie met jou liggaam kan doen wat jy wil, en met ‘n prostituut gemeenskap gaan hou nie. Want Christus het ons liggame losgekoop uit die sonde, en ons liggaam is nou ‘n tempel waarin die Heilige Gees woon om ons te lei en sterk te maak om ‘nee’ te sê vir onsedelike optrede (vgl. 1 Kor 6:17-20).  

 

‘Hoe bring Paulus die twee goeters bymekaar, asb?’

          In Ef.5:32 bring hy dit juis bymekaar met: ‘Hierin (met die twee metafore van die

eenheid die liggame van man en vrou, en die eenheid van al die lede van die geestelike liggaam van Christus) lê daar ‘n diep geheimenis opgesluit, en ek pas dit toe op Christus en die gemeente. Maar dit is ook op julle van toepassing. Elkeen moet sy eie vrou so lief hê soos hy homself liefhet, en ‘n vrou moet aan haar man onderdanig wees.’ So is die intieme liefdesband tussen man en vrou ‘n getuienis voor die wêreld van die intieme verhouding tussen Christus en sy gemeente – Hy wat sy lewe vir ons afgelê het om ons in volle heerlikheid by Hom te kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik (Ef 5:27).

 

Skrywer: Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...