Wat belemmer die gemeente se aanbidding?

image_pdfimage_print

Sometimes God allows what He hates to accomplish what He loves – Joni Ereckson Tada

 

Wat belemmer die gemeente se aanbidding?

Ons kom met allerhande verskonings na vore: Ons orrelis is swak; die liturgie druk my dood; die prediker inspireer my nie; ons gemeente is te groot/te klein … Beplanning, ‘n goeie orrelis en goeie leierskap is belangrik, maar die grootste belemmering lê nie buite onsself nie, maar in ons. Dit is afgodery.

 

Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af (1 Johannes 5:21). God se heerlikheid moet die bron van ons blydskap, tevredenheid en hoogste gesag wees. Afgodery kan in die kerk teenwoordig wees. As ek dink dat ek nie God sonder X kan ontmoet nie en X is iets anders as Jesus Christus en die Heilige Gees is, is X ‘n afgod.

Natuurlik gebruik God instrumente om Homself te openbaar – sy woord gelees en verkondig, liedere, gebed, die geloofsgemeenskap, ens. Maar as ons die uitvoering van hierdie instrumente die basis van ons verhouding met God maak, plaas ons ‘n onnodige hindernis in ons verhouding met God. Nou woon ons die erediens as verbruikers en regters by – nie as dankbare ontvangers en dienaars nie.

 

Kom ons kyk na ‘n paar van hierdie Sondagoggend afgode:

  • Uitmuntende musiek

Swak musiek kan ons aandag aflei. Goeie musiek word aanbeveel in die Bybel: Sing vir Hom ‘n nuwe lied, speel met volle oorgawe, jubel dit uit (Psalm 33:3). Maar in plaas van net kritiseer, kan ek God dank en my daaraan herinner dat ek offers moet bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Petrus 2:5). Ek moet onthou dat selfs die beste vertoning nie vir God welgevallig sal wees as Jesus Christus nie daarin teenwoordig is nie.

 

  • Musiekvoorkeure

Die beste musiek is nie noodwendig dit waarvan ek hou nie. Geen lied moet ons daarvan weerhou om God te verheerlik nie. Ek verheerlik God meer as ek my daarin verheug dat ander voordeel uit die lied kry – al is dit nou nie my keuse nie.

 

  • Die preek

Alle predikers is nie ewe begaaf nie So lank as wat hulle die evangelie verkondig en God se wil getrou kommunikeer is hulle gehoorsaam aan God en ons kan ons daarin verheug. Spurgeon se oupa het gesê dat iemand dalk die evangelie beter kan verkondig, maar hulle kan nie ‘n beter evangelie verkondig nie. Bemoedig en bedank jou plaaslike prediker.

 

  • Kreatiwiteit

Kreatiwiteit is nooit ons doelwit as ons God aanbid nie. Dit is slegs ‘n middel wat ons kan gebruik om die heerlikheid van God duideliker te maak. Dit mag aan ons ‘n nuwe perspektief gee en daartoe lei dat die waarheid ‘n groter impak op ons het. Maar as ons bekommerd is dat ons aanbidding nie “cool” is nie, moet ons altyd onthou dat die evangelie altyd goeie nuus is.

 

  • Ondervindings

Die doel van die samekoms van die gemeente is om iets te sien en te onthou. Daardie iets is die woord, werke en heerlikheid van God soos Hy Hom in Jesus Christus geopenbaar het. As ek net emosie soek tydens ‘n erediens word God een van verskeie opsies waar ek emosie kan soek.

 

  • Liturgie

Ons byeenkomste weerspieël en vorm dit wat ons glo. Daar is geen liturgiese perfeksionisme waarna ons kan streef om ons aanbidding meer aanvaarbaar vir God te maak as wat dit reeds in Jesus Christus is nie. Ons doel is om in geloof dit te doen wat God verheerlik. Liturgieë moet ons dien en nie beheer nie. God laat vryheid in vorm toe en daarom moet ons dit ook doen.

 

Elke keer as ons bymekaar kom, is dit ‘n geleentheid om ons in God de genade wat in die gekruisigde en opgestane Christus geopenbaar is, te verheug. Ons moenie dat afgode ons weerhou daarvan  om vreugde te ondervind omdat ons sondes vergewe is en ons met God versoen is nie.

 

image_pdfimage_print

You may also like...