Wat is ‘n dissipel?

image_pdfimage_print

 

Expect Satan to tempt you most viciously at those moments and periods when you are seeking God most vigorously. —Jeremy Walker

 

Wat is ‘n dissipel?

Hoekom so ‘n vraag? Ons weet tog wat ‘n dissipel is. Die antwoord is nie so eenvoudig nie. Die betekenis van die woord dissipel verander tussen die evangelies en Handelinge. In Johannes 6 lees ons dat baie van Jesus se dissipels Hom verlaat het. Hulle was mense wat Hom gevolg het om sy boodskap te hoor, maar nou het hulle probleme met sy boodskap. Hier is dissipels eenvoudig diegene wat Jesus gevolg en by Hom geleer het. Judas het ook vir Jesus gevolg en by Hom geleer. Omdat hy nie vir Jesus tot aan die einde gevolg het nie, kan hy as ‘n vals dissipel beskou word.

 

Maar ook in die Christendom vandag kry ons verskillende definisies van dissipelskap. Hoe besluit ons dan wat/wie ‘n dissipel is? Daar is veral drie verskillende maniere waarop dissipelskap gedefinieer word:

  • Dissipels is toegewyde gelowiges.

Verlossing is een ding; dissipelskap is iets anders. Daar is Christene en daar is dissipels. Hierdie pas nie in by die taal van die Bybel nie. Handelinge 4:32  beskryf die kerk as die getal gelowiges. Handelinge 6:2 sê dat die kerk die volle getal gelowiges is. Dissipels is gelowiges en gelowiges is dissipels – geen onderskeid nie.

 

  • Dissipels is dienaars

Dissipels word geroep vir ‘n spesiale bediening van diens. Daar is dus ‘n verskil tussen leraars en dissipels aan die een kant en gewone lidmate aan die ander kant. Hierdie skeiding is onbybels. In Jesus se groot opdrag roep Hy alle mense op tot dissipelskap – om as dissipels teenoor ander op te tree. Werk in die gemeente is vir almal. Die Christelike geloof is nie ‘n toeskouersport nie. Jesus roep al sy dissipels om sy ambag te leer en by Hom in sy werk aan te sluit.

 

  • Dissipels is Christene; Christene is dissipels

Elke volgeling van Christus is ‘n verskillende fase van hulle geestelike pelgrimstog, maar die Christelike geloof bestaan nie uit twee vlakke nie. Soos in ‘n familie is daar babas, kinders en volwassenes. Dieselfde geld vir die gemeente. Elke lidmaat van die gemeente moet as ‘n dissipel van Jesus Christus beskou word. Elke dissipel moet ‘n passie hê om meer dissipels te maak.

 

Hier is ‘n moontlike definisie vir ‘n dissipel:

‘n Dissipel is ‘n man of vrou wat ‘n nuwe skepping in Jesus Christus is en nie langer vir hom- of haarself leef nie, maar wat:

  • Op Christus vir die vergewing van sondes vertrou; en
  • Leef om Christus op alle lewensterreine te volg en na te boots en by Hom te leer.

 

As ons na die Groot Opdrag (Matteus 28:19 – 20) kyk vir leidrade kan ons sê: Dissipels:

  • Identifiseer hulle met Jesus Christus in hulle doop;
  • Werk, leer en pas God se opdragte toe; en
  • Dien ons Here met ons verskillende gawes en in die proses verkondig ons die boodskap van Jesus Christus en maak dissipels.

 

Vir die volgelinge van Christus is dissipelskap nie ‘n bykomende opsie vir Christene wat daarin belangstel nie. Dit is nie ‘n program in gemeentes nie. Dit lê aan die hart van wat Christus besig is om in die wêreld te doen. Dit is die middelpunt van wat dit beteken om ‘n volgeling van Christus te wees – om ‘n dissipel te wees wat dissipels maak.

 

 

image_pdfimage_print