Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

image_pdfimage_print

 

The price of diluting God’s wrath is diminishing God’s holiness. —D.A. Carson

 

Wat sou gebeur het as jy werklik geglo het dat God by jou is?

Hoe sou jou uitkyk op die lewe verander het as jy waarlik geglo het God is by jou in elke situasie. Dit is die vraag wat Josef se lewe aan elkeen van ons stel. Hoe sou ons verander het as ons geweet het dat God ‘n plan met ons het – selfs midde in ons pyn.

 

Josef se lewe kan as een van die pynlikste en onregverdigste lewens in die Ou Testament beskou word. Sy eie familie verkoop hom as ‘n slaaf aan vreemdelinge; hy sit jare in die tronk vir ‘n misdaad wat hy nie gepleeg het nie. Tog weet hy dat God in beheer van sy hele lewe is. Aan die einde van sy lewe kon hy vir sy broers sê: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:20).

 

God wou goed doen met die slawerny, die vals beskuldiging, die jare in die tronk? Josef glo dit, want hy sien die hand van God in alles. Hoekom? Want hy weet dat God met hom in die tronk net soos in die paleis is. Sou jy dit glo? Josef verontagsaam nie die pyn in sy lewe nie – soos ons dikwels probeer doen nie. Ons moet aanvaar dat mense teen ons sondig, maar dit is nie waar die bespreking eindig nie. God gebruik daardie boosheid vir sy plan en vir ons welstand.

 

Ons sien dikwels nie God se hele plan vir ons nie. Josef sien dit eers aan die einde, maar tot dan hou hy vas aan die belofte van God se teenwoordigheid. Dit was vir hom genoeg. Corrie Ten Boom was in ‘n Duitse konsentrasiekamp. Toestande was haglik – almal was met vlooie besmet. Hulle het Bybels gehad. Die wagte het nooit hulle barakke deursoek nie. Hoekom nie? Hulle was bang hulle word ook met vlooie besmet. Later sou sy sê dat selfs in die vlooie God aan die werk was.

 

Kan ons God dank vir die vlooie in ons lewens? Al sien ons nie hoekom Hy hulle daar gesit het nie? Miskien wil Hy hê dat jy iewers moet groei; miskien wil Hy hê dat jy mense in soortgelyke omstandighede moet bedien. Luister hoe stel Paulus dit: Ons weet dat God alles ten geode laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Wat is God se doel? Dit kry ons in die volgende vers: Dié wat Hy lank tevore gekies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun. God se doel in ons lewens is nie om elke slegte gebeurtenis vir iets beter te verruil nie. Dit is dat ons gelykvormig aan Jesus Christus moet wees.

 

In Josef se lewe het God nie een gebeurtenis verspeel nie. Hy was by Josef in die tronk. Hy beheer alles in Josef se lewe en Hy doen dit waar Hy langs hom is. As ons in Christus is, kan ons dieselfde vertroue hê. God is met jou selfs onder die moeilikste omstandighede. Hy is besig om iets wonderlik te skep al sien jy dit nog nie raak nie.

 

 

image_pdfimage_print