Wie is jy?

image_pdfimage_print

 

Faith is self-renouncing; works are self-congratulatory. Faith looks at what God does; works have respect to what we are –  J. Murray

 

Wie is jy?

Baie van ons wil iemand wees wat ons nie is nie. Meer oefening, meer geld, meer volgelinge op die sosiale media. Maar altyd is daar iemand met meer as ons. Die gevolg is dat ons ander dophou. Dit is moeilik om te aanvaar dat hulle meer as ons het of bereik.

 

Daar is een man vir wie dit nie ‘n probleem was nie – Johannes die Doper. Johannes is op ‘n belangrike tyd in die geskiedenis gebore. Hy was gekies om die pad vir die belangrikste Persoon in die geskiedenis voor te berei. Daar was ‘n man wat deur God gestuur is. Sy naam was Johannes. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. Hy was self nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig (Johannes 1:6 – 8).

 

Hierdie verse kom kort na ‘n sin wat die wêreld verander het: In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God (1:1). Johannes, die evangelieskrywer, onderbreek sy beskrywing van die almagtige God wat aarde toe gekom het en mens geword het, om vir Johannes bekend te stel. Hoekom sou hy dit doen?

 

Hy stel Johannes die Doper bekend, want hy mag dalk die tweede belangrikste persoon wat ooit geleef het, gewees het. Jesus self het gesê: Dit verseker Ek julle: Onder die mense op aarde is niemand gebore wat groter is as Johannes die Doper nie (Matteus 11:11). Nie Moses nie. Nie Dawid nie; nie Petrus nie, maar Johannes die Doper.

 

Johannes was die vervulling van ‘n ou profesie. Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ‘n grootpad vir ons God … Dan sal die mag van die Here geopenbaar word; al wat leef, sal dit sien, Die Here self het dit gesê (Jesaja 40:3 – 5). Matteus sê vir ons dat Johannes in die woestyn gepreek het en voeg by dat Johannes die persoon was waarvan Jesaja gepraat het. Hy kom om die pad vir die Messias voor te berei.

 

Johannes staan sentraal op die wêreldverhoog. En toe kom Jesus na Johannes toe. Hoe reageer Johannes? Dit is Hy wat ek bedoel het toe ek gesê het: ‘Na my kom daar ‘n Man wat my voor is. Jesus is voor en Johannes is in die agtergrond – in Jesus se skaduwee.

 

Die mense het Johannes se gawes raakgesien. Hy het skares getrek. Hy verklaar openlik: Ek is nie die Christus nie – ek is wel voor Hom uitgestuur om die pad vir Hom reguit te maak. Toe Jesus op die toneel verskyn, kry Johannes ‘n kleiner rol. Hy gaan tronk toe en sterf ‘n sinlose dood. Johannes was gelukkig as hulle hom sou vergeet – gelukkig om te leef en te dien en om te sterf in die skaduwee van Jesus. Hy aanvaar met vreugde ‘n rol van minder gemak net om te beklemtoon hoe groot Jesus werklik was.

 

Wat ons van Johannes leer, is dat dit nie gaan oor die aandag of roem wat ons kry nie, maar om dit alles op Jesus te fokus. Luister hierna: Ek is nie die Christus nie, Ek is maar net voor Hom uit gestuur. Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort, maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul. Hy moet meer word en ek minder (Johannes 3:25 – 30). Johannes praat hier met sy volgelinge.

 

Johannes het gesien wat Jesus in die wêreld gedoen het. Al was hy nie in die middelpunt nie, het hy dit geniet. Kan ons dieselfde van onsself sê? Johannes die Doper het die vreugde en vryheid geken om in God se hande en in Jesus se skaduwee te wees.

 

image_pdfimage_print