Woorde uit die Bybel – Middelaar (1)

image_pdfimage_print

It is the way of the kindhearted to run after the poor –  B. Talmud, Shabat 104

 

Woorde uit die Bybel – Middelaar (1)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan.

J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde. [Teksgedeeltes kom uit Die Boodskap.]

 

Middelaar

 ‘n Middelaar is ‘n bekende begrip in moderne internasionale onderhandelinge. As dinge baie gespanne raak en die twee groepe voel dat daar nie genoeg dinge is waaroor hulle saamstem nie, dan kom die middelaar na vore. Hy probeer die twee groepe weer bymekaar kry. ‘n Middelaar is dus ‘n man wat in die middel staan, maar met bande na beide groepe. Beide groepe vertrou hom. Hy soek geregtigheid en vrede en ‘n basis om die vriendskap weer te herstel.

 Middelaar is nie ‘n woord wat baie in die Nuwe Testament gebruik word nie. Behalwe in Galasiërs 3:19 waar na Moses as middelaar/tussenganger verwys word, verwys Middelaar altyd na Jesus Christus. Jesus bemiddel tussen God en mense. As gevolg van hierdie bemiddeling word ‘n nuwe, ewigdurende verbond tussen God en mense gevestig. Hierdie nuwe verbond is ‘n belangrike tema in die Nuwe Testament.

 Het die mens ‘n Middelaar nodig? Beslis. God en die mens is as gevolg van die mens se sonde van mekaar vervreem: Mense wat die heeltyd op die sonde ingestel is, is vyande van God (Romeine 8:7). Dit ontstel God: Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens (Romeine 1:18). Ons is almal sondaars Nie een van ons leef tot God se eer nie (Romeine 3:23). Daar is nog baie teksgedeeltes wat ons kan aanhaal, maar die gevolgtrekking is baie duidelik: die mens se verhouding met God word deur die sonde verbreek en daarom het die mens ‘n Middelaar nodig.

 In die Ou Testament kry ons die offersisteem. Die bloed van bulle of bokke kan mos nie regtig maak dat God Hom nie meer aan al hulle foute steur nie (Hebreërs 10:4). Die offersisteem  was in werklikheid maar beperk en tydelik – dit moes gereeld herhaal word. Dit was duidelik nie ‘n permanente antwoord nie.

 In die Hebreërbrief sien ons dat die bemiddeling van Jesus Christus voorsien in alles waarin die ou stelsel tekortgeskiet het. Deur daardie wet kon die mense se saak by God nie regtig reggemaak word nie. Maar nou is daar ‘n ander manier: Jesus! En dit werk, want so kom ons baie naby aan God (7:19). Die werk wat Jesus as priester doen, is baie beter as die ander priesters se beste pogings. Net so is die ooreenkoms wat Hy tussen God en die mense gemaak het verreweg beter as die oue, omdat dit wat God beloof het soveel beter is (8:6).

 Wat is nou ons gevolgtrekking? Die mens het ‘n Middelaar nodig. Jesus Christus is dié Middelaar tussen God en mens.

 

image_pdfimage_print

You may also like...