Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

image_pdfimage_print

A secret sin on earth is an open scandal in heaven – Lewis Sperry Chafer

 

Woorde uit die Bybel – Openbaring (2)

When I use a word it means just what I choose it to mean – neither more nor less – Humpty Dumpty aan Alice in Lewis Carroll se Alice in Wonderland.

Woorde, ook woorde in die Bybel, het ‘n spesifieke betekenis. Vir mense sonder teologiese opleiding is dit dikwels moeilik om die volle betekenis van woorde te verstaan. J. I. Packer het ‘n boek geskryf wat ons kan help: 18 Words: The Most Important Words You Will Ever Know. Ons gaan kyk na enkele van hierdie woorde.

 

Teksaanhalings kom uit Die Boodskap.

 

Persoonlike Openbaring

God openbaar Homself aan die mens. Sy doel is dat die mens Hom as persoonlike God in ‘n persoonlike verhouding met die mens kan sien. Hoe maak God Hom aan ons bekend? Net soos ons ons aan ander mense bekend maak – deur te praat oor Homself en oor ons soos Hy ons sien. Hy vertel vir ons wat Hy in die verlede gedoen het (byvoorbeeld die skepping van alles); Hy vertel vir ons wat Hy tans besig is om te doen (hoe Hy alles orden en beheer); Hy vertel vir ons van sy toekomsplanne (die wederkoms van Jesus Christus). Hy gee vir ons rigting en raad; Hy maak beloftes en waarsku ons; Hy sê vir ons wat Hy goedkeur en wat Hy afkeur. Deur stellings oor Homself te maak, maak Hy Hom aan ons bekend.

 

Openbaring in die Ou en Nuwe Testamente

In die Ou Testament het God direk met sekere mense gepraat – Adam en Eva, Kain, Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses en die profete. Deur Moses en die profete praat Hy met Israel. Amos sê: Die Here laat niks gebeur as Hy dit nie eers voor die tyd vir sy boodskappers (= die profete) gesê het nie (3:7). Die uitsprake van die profete begin dan ook dikwels met die woorde: Die Here sê …

 In die Nuwe Testament verander dinge egter. In Hebreërs 1:1 – 4 lees ons daarvan. God praat nie meer deur sy profete nie, maar deur sy Seun. In hierdie opsig vervul Jesus Christus dus die bediening van die profete. Maar dit wat Jesus gesê het, kom van die Vader: Ek het nie self hierdie dinge opgemaak nie. Wat Ek hierdie mense leer, kom direk van God af. Hy het My gestuur om dit te kom doen (Johannes 7:16). Maar Jesus openbaar nie net die Vader deur wat Hy gesê het nie, maar ook deur wie Hy was en wat Hy gedoen het. Ons kan God nie met ons oë sien nie. Sy Seun is egter die beeld van God. Deur na Hom te kyk, sien ons wie en hoe God is (Kolossense 1:15)

 Nog ‘n verdere ontwikkeling is dat God die Heilige Gees gestuur het. Later sal my Vader vir julle julle spesiale helper, die Heilige Gees stuur. Hy sal namens My kom en sorg dat julle alles goed sal onthou wat Ek vir julle gesê het (Johannes 14:26). Die Heilige Gees openbaar die volle waarheid oor God en stel die gelowiges in staat om van God te getuig: Dit is die ware Gees wat ook die waarheid goed ken. Hierdie Gees sal alles kom beklemtoon wat Ek gesê en gedoen het. Julle gaan ook vir die ongelowiges van My vertel en hulle probeer oorreed om Christene te word (Johannes 15:26).

 Jesus Christus en die apostels se woorde vorm ‘n eenheid – die Nuwe Testament. Dit was God se laaste woorde aan die mens.

 Maar wat is dit wat God aan die mens geopenbaar het? Daarna kyk ons volgende keer.

 

image_pdfimage_print

You may also like...