Ambassadeurs vir Christus (4)

image_pdfimage_print

Meaninglessness does not come from being weary of pain, but meaningless comes from being weary of pleasure. We have exhausted ourselves in this indulgent culture – G. K. Chesterton

Ambassadeurs vir Christus (4)

Wat beteken dit as ons sê dat ons ambassadeurs vir Jesus Christus is? Ons gaan ‘n hele paar blogs hieraan afsonder.  As basis gaan ons van 2 Korintiërs 5:11 – 21 gebruik maak.

Die boodskap van die ambassadeur

Wat moet die ambassadeurs van Christus spesifiek hanteer? In die Skrif definieer God hierdie boodskap baie duidelik.

  • Ons moet oor God praat

Ons bediening moet God-gesentreerd wees en op mense fokus. Ons moet verduidelik wie hierdie God is, want die moderne kultuur waarin ons leef, weet nie meer wie Hy is nie. Ons moet sy storie vertel; ons moet beklemtoon dat Hy absolute gesag het. Dit sal nie sommer aanvaar word nie … maar ons boodskap gaan oor God. Daar is iets teneerdrukkend oor ‘n kultuur – soos die postmodernisme –  wat niks behalwe homself het nie. Ons kan oor God, wat daar is, praat en om Hom te ken, is die ewige lewe. You have made us for yourself, and our hearts are restless until they find their rest in you (Augustinus).

  • Ons moet oor Jesus Christus praat

Ons word spesifiek gestuur om te vertel wat God in Jesus Christus gedoen het. Die primêre doel van verkondiging is nie dat mense Christelike leerstelling verstaan en ken nie, maar eerder dat hulle Jesus Christus ken en verstaan. Jesus Christus is tog so duidelik aan julle verkondig dat julle Hom as ‘t ware aan die kruis kon sien hang (Galasiërs 3:1). As ons Jesus Christus verheerlik, sal mense in hulle geloof groei, want hulle sal sien hoe betroubaar Hy is. Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus (Galasiërs 6:14).

  • Ons moet oor sonde praat

Die boodskap van versoening bestaan daarn dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie (5:19). Hoe het God dit gedoen? Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees (5:21). Ons het opdrag gekry om hieroor te praat. Ons kan dit nie vervang met ‘n ander boodskap wat ons dink meer toepaslik is nie. Ons kan nie ‘n evangelie sonder sonde hê nie. Dan verkondig ons ‘n ander evangelie. As ons sê dat sonde vir God ‘n belangrike saak is, sal postmoderniste sê dat ons nou oor ‘n klein sake opgewonde word – dit is nou nie iets wat ons moet ontstel nie. Vir meeste mense in ons samelewing beteken die woord sonde niks meer nie – dit is skadeloos. In die Bybel beteken sonde dat ek vir God aanstoot gee en dit is hoekom dit ernstig is. Hierdie verlies van die gevoel van sonde is deels die gevolg van ons verlies aan ‘n kennis van God.

  • Ons moet praat oor versoening

Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou (5:18 – 19). Ons moet mense hulle sonde laat besef om hulle te help om die betekenis van Jesus Christus en sy offer te verstaan.

  • Ons moet van hoop praat

Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom (5:17). Ons kry baie pessimistiese mense in ons wêreld. As daar geen bron van hoop buite ‘n gebroke wêreld is nie, waar sal jou hoop dan vandaan kom? Maar ambassadeurs vir Christus kan hierdie wêreld vertel van ‘n God wat stukkende lewens weer kan heelmaak – dit is die hoop van die evangelie. Die evangelie bied baie meer as enige selfontwikkelingsprogram.

Dit is die boodskap wat aan God se ambassadeurs toevertrou is. Volgende keer gaan ons na die doel van die ambassadeur kyk.

image_pdfimage_print

You may also like...