Bedank ons Jesus genoeg?

image_pdfimage_print

 

Peace is the smile of God reflected in the soul of the believer – William Hendricksen

 Bedank ons Jesus genoeg?

1n 1 Timoteus 1:11 sê Paulus dat die evangelie aan hom toevertrou is. Hy het die voorreg om as apostel in diens van Christus te staan.  Nou kan hy nie anders as om eers sy betoog te onderbreek nie en opnuut sy verwondering en dankbaarheid oor die genade van God uit te spreek.  Die feit dat hy ‘n apostel is, maak hom klein voor God.  Teenoor Christus Jesus ons Here is ek dankbaar: Hy het my krag gegee en my betroubaar geag om my in sy diens te stel (1 Timoteus 1:12).

Daar is vier dinge waarvoor Paulus Jesus wil bedank:

 

  • Hy bedank Hom omdat Hy hom gekies het.  Paulus het nooit die gevoel gehad dat hy Christus gekies het nie, maar altyd dat Christus hom gekies het.  Dit was asof, toe hy reguit op pad was na selfvernietiging, Christus sy hand op sy skouer gelê het en hom weggetrek het.  Dit was asof, terwyl hy besig was om sy lewe weg te gooi, Christus hom tot sy sinne gebring het.  Paulus was Christus se man; Christus het hom gekies.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom betroubaar geag het.  Dit was altyd vir Paulus verbasend dat hy, die aartsvervolger van Christene, gekies is as sendeling van Christus.  Jesus het hom nie alleen vergewe nie, maar hom ook vertrou.  Ons vergeef soms iemand wat ‘n fout gemaak het of skuldig was aan een of ander sonde, maar ons maak dit baie duidelik dat omrede sy foute ons hom nooit weer kan vertrou nie.  Christus het vir Paulus vergewe en werk aan hom toevertrou.  Christus se vervolger word sy ambassadeur.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom in diens gestel het.  God het op die Damaskus-weg beslag gelê op sy lewe.  Hy het hom aangestel vir diens.  Paulus het nooit geglo hy is aangestel vir eer of vir leierskap in die kerk nie.  Hy is gered om te dien.  Hy staan langs sy Koning in die stryd.
  • Hy bedank Hom omdat Hy hom krag gegee het.  Paulus het lank gelede al uitgevind dat Christus nooit vir ons ‘n taak gee as Hy ons nie ook die krag gee om die taak te verrig nie.  Paulus sê nooit: Kyk wat het ek gedoen, nie.  Hy sê altyd: Kyk net waartoe het Christus my in staat gestel.  Geen mens is goed genoeg, rein genoeg, slim genoeg om Christus te dien nie.  Gee ons ons aan Christus, sal ons dien, nie in ons eie krag nie, maar in die krag van ons Here.

Is ons altyd dankbaar genoeg vir alles wat Jesus Christus vir ons gedoen het?

image_pdfimage_print

You may also like...