Brief aan die kerk deur Billy Graham

image_pdfimage_print

 

When discipline leaves a church, Christ goes with it – John L. Dagg.

 

Brief aan die kerk deur Billy Graham

In die e-boek Mission of God lees ek hierdie brief van Billy Graham aan die kerk.

As Jesus dan na die wêreld gekom het om ons van ons sondes te red en die ewige lewe te gee, hoekom het Hy ons nie sommer hemel toe geneem die oomblik toe ons Jesus Christus as ons Verlosser aangeneem het nie? Die rede is eenvoudig: God laat ons hier, want ons het ‘n roeping om te voltooi. Ons is nie hier per ongeluk nie; ons is hier, want God het ons hier geplaas en Hy het ‘n doel daarmee. In sy laaste byeenkoms met sy dissipels bid Jesus vir hulle: Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar … Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur (Johannes 17:15, 18).

 

Maar wat is hierdie roeping? Wat wil God hê dat sy mense moet doen? Dit sal ons net verstaan as ons die Bybel verstaan. As ons nie die Bybel ken nie, sal ons nooit die diepte van die mens se sonde en die tragedie daarvan begryp nie. As gevolg van ons opstand teen God is ons afgesny van ons Skepper. Ons is nou onderworpe aan oordeel en die dood. Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie, daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard (Romeine 3:10 – 12a).

 

Maar as dit nie vir die Bybel was nie, sou ons ook nooit die diepte van God se liefde verstaan het nie. Die bewys hiervan is die Bybel se boodskap van die kruis. Aan die kruis sien ons God se liefde geopenbaar in al sy volheid en diepte. Aan die kruis het Jesus die straf wat ons verdien het op Homself geneem. Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê (1 Johannes 4:9). Deur sy opstanding bewys Jesus sonder enige twyfel dat Hy inderdaad die Verlosser is. Een dag sal Hy weer kom en die bose finaal oorwin en sy heerskappy oor die hele skepping bevestig.

 

Hierdie is die boodskap wat God vir ons gegee het. Ons moet dit verstaan; ons moet ons lewens daaraan onderwerp; ons moet dit op elke moontlike manier deel. God het nie bedoel dat sy kerk net nog ‘n sosiale klub moet wees nie – ‘n gemeenskap wat net oor sy eie oorlewing of mag bekommerd is nie. Ons is geroep om sy hande en voete en stem en uitgestrekte arms te wees. Ons moet die goeie nuus van die verlossende liefde van God in Jesus Christus die hele wêreld indra. Dit was Jesus se finale opdrag aan sy dissipels (Matteus 28:18 – 20). Hierdie opdrag is nog nooit teruggertrek nie.

 

Daarom moet evangelisasie ons prioriteit bly en daarom dissipelskap ons doel wees. Ons is onder opdrag van God en die enigste logiese reaksie hierop is gehoorsaamheid. Ons kan tog nie onaangeraak bly in ‘n wêreld wat gebuk gaan onder oorloë en ongeregtigheid – hongersnood en siekte – nie

 

Laat die boodskap van hoop en vryheid van sonde ons verander in die persone wat God wil hê dat ons moet wees. Dan kan ons as ons die dag voor Hom staan nie skaam wees nie. Mag ons hoor dat Hy sê: Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf (Matteus 25:23).

 

image_pdfimage_print